Skip to main content

logo new

Surnames N to Q

OLDEWAGE Detlef Christian

Die SA stamvader van die sogenaamde "Ollies" was die Duitser Detlef Christian OLDEWAGE. Sy familienaam is egter meer dikwels ``afgekort'' tot Olwage, veral in die tyd toe hy uit Europa na Suid-Afrika gekom het, en is vanweë verskillende faktore ook op ander maniere gespel.

Hy is waarskynlik omstreeks 1748 in die huidige Duitsland gebore en nagenoeg 1825 in die Westelike Overberg (Caledon-distrik) in die Wes-Kaap oorlede. Met sy koms na die Kaap was Duitsland natuurlik nog 'n lappieskombers van omtrent 300 min of meer onafhanklike state. Die Duitsland soos ons dit ken, het eers veel later met die land se unifikasie tot stand gekom.

Deetlef Christian was beslis die enigste stamvader van al die Olwages, Olwagens, Ollewages, Ollewagens, Oldewages en Olderwagens wat vandag in Suidelike Afrika bestaan. Die geslag van 'n tweede ``Ollie-stamvader'' (wat eintlik nooit een was nie) het uitgesterf. Detlef Christian het van Barver in Nedersakse, Noordwes-Duitsland, na Suid-Afrika gekom, en NIE van Barby in Anhalt, Duitsland, soos in Pama en ander genealogiese geskrifte beweer word nie. (Kyk huweliksregister in die Kaapse argief waar sy plek van herkoms duidelik aangedui word as ''Barber", 'n ou vorm van ''Barver", asook skeepsoldyboek in Den Haag wat verdere bevestiging verskaf.)

Die dorpie Barver, voorheen in die graafskap Diepholz, tans in die ``kring'' of distrik Diepholz, het tans sowat 1300 inwoners. Dit lê sowat 70 km suid van Bremen en ongeveer 15 km oos van Diepholz.

Die verbasendste van alles is seker dat die Oldewage-familielandgoed, sowat 3 km wes van Barver, vandag nog bestaan en steeds deur Oldewages bewoon word! 'n Familiefees is in 1996 daar gehou, met ook 'n aantal "Ollies" uit Suid-Afrika en selfs 'n klompie uit Amerika.

Die stamvader was 'n matroos in diens van die Nederlandse Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC), wat in 1773 Kaap toe gekom en, ook volgens nuut opgespoorde gegewens, tot in 1790 in diens van die VOC gebly het. Hy het in 1796 as oujongkêrel met Anna Margaretha HEN(N) getrou en hulle het, volgens alle aanduidings, by Papiesvlei in die Caledon-omgewing gevestig geraak. Daar is trouens vandag nog 'n klofie met die naam Olewagenskloof (sic) op die plaas waar die eintlike Papiesvlei was -- en daar is by hul nasate min twyfel dat Detlef Christian en sy Anna daarin of daarlangs gewoon het en, trouens, dat die kloof na hul stamvader genoem is! Die stamouers het ook dertien kinders gehad, en nie ses soos genealoë voorheen gemeen het nie (weens die onvoltooide navorsing van die gevierde ou genealoog De Villiers). Die familiekern het ná Detlef Christian se dood blykbaar van Papiesvlei af na die distrik Villiersdorp verskuif. Hiervandaan het die familie oor die land versprei (of in die Overberg agtergebly).

Opgedateerde e-boek van die oorspronklike familieboek kan gratis afgelaai word by:

http://www.ollies.co.za

Bronne:

Navorsing te danke aan:
Ollie Olwagen.

Webblad:

 



 

  • Hits: 13778

Stamouers.com is part of the eGGSA.org web site
Material from this website may be used if the author and eggsa.org are acknowledged
Privacy policy