Beroepe

SIEKETROOSTERS AAN DIE KAAP
Johan Erasmus gee die volgende uittreksels van
J. P. Claasen se doktorale verhandeling "Die Sieketroosters aan die Kaap 1652 - 1866"
wat in 1973 deur die RGN gepubliseer is.

Die amp van sieketrooster kom die eerste keer ter sprake nog voordat die Hollanders met hulle verowerings van die Ooste begin het. Reeds so vroeg as 1572 word daar in die kerklike acta na sieketroosters verwys. Die kerkraad van Amsterdam oorweeg al in 1578 die moontlikheid om 'n krankbesoeker in diens te neem.

In die lig van die menigvuldige probleme, miskenning, moeilike omstandighede, ontberinge ter see en aan land, honger en hitte waaraan sieketroosters dikwels blootgestel was, is daar destyds met groot omsigtigheid te werk gegaan met die toelating van persone tot die amp van sieketrooster. Slegs persone wat spesiaal deur die kerk met die oog op die amp van sieketrooster voorberei en tydens 'n amptelike ondersoek gekeur is, is toegelaat om die amp te beklee.

Die Classis van Amsterdam het reeds in 1636 'n kort samevatting van die pligte van 'n sieketrooster gegee. Daarvolgens het die taak van die sieketrooster die volgende behels:
1. Hy moes die siekes en krankes uit die Woord onderwys, vermaan en vertroos.
2. Hy moes op gesette tye en by geskikte geleenthede behalwe die sing van Psalms, ook sommige hoofstukke uit die Woord van God of 'n goeie preek opgestel deur 'n leraar van die ware christelike gereformeerde kerke, stigtelik aan die volk voorlees, vooraf gegaan en afgesluit met gebede.
3. Hy moes elke oggend en aand voor en na ete voorgaan en dien met gebede.
4. Hy moes by elke goeie geleentheid die onwetendes in die geloof onderwys, die sondaars tot boetvaardigheid vermaan en getrou waarsku met die oog op die verderf.
5. Hy moes altyd volgens hierdie instruksie optree en hom niks daarbuite aanmatig nie en daarna streef om vir oud en jonk 'n voorbeeld tot godsalige lewe te stel.

Sedert Van Riebeeck se aankoms in die Kaap in 1652 tot en met die aankoms van ds. Johannes van Arckel, die eerste vaste predikant aan die Kaap in Augustus 1665, was daar geen eie predikant of kerkraad om na die geestelike belange van Van Riebeeck en sy mense om te sien nie. Predikante op pad na die Ooste of op die terugreis na Nederland het gewoonlik gedurende hulle paar dae van verblyf aan die Kaap die Evangelie verkondig, die sakramente bedien en huwelike bevestig.

Tot tyd en wyl die eerste vaste predikant in Augustus 1665 na die Kaap sou kom en selfs nog daarna, tot so laat as 1866, sou sieketroosters 'n waardevolle hulpdiens t.o.v. die geestelike en tydelike behoeftes van die plaaslike bevolking verrig.

Die eerste sieketrooster aan die Kaap was Willem Barentz Wylant, 'n Groninger wat met die Dommedaris, dieselfde skip as Van Riebeeck, na die Kaap sou kom. Wylant was 'n familielid van Van Riebeeck en moontlik het die verwantskap hom beweeg om hom aan te meld vir die betrekking van sieketrooster aan die Kaap. Tussen sy aanmelding en aanstelling sou Wylant egter heelwat probleme ondervind. Wanneer hy op 28 Augustus 1651 sy kerklike attestasie van Alkmaar inlewer, blyk dit dat hy "weinig of geen kennisse heeft van de Musyke". Hy word dus aangesê om hom hom daarin "neerstig .... te oefennen" en sodra hy homself bekwaam ag, weereens met sy versoek te kom. Op 13 November 1651 kry Wylant weer geleentheid om eksamen af te lê. Die keer is hy suksesvol.

Wylant sou egter nie net die onderskeiding te beurt val om die eerste sieketrooster aan die Kaap te wees nie, maar ook nog vader te wees van die eerste blanke kind wat aan die Kaap gebore is. Die inskrywing in die Daghregister van 6 Junie 1652 meld naamlik: "Savonts is den sieckentroosters vrou van een jonge soon bevallen, sijnde 't eerste kint dat binne 't fort de Goede Hope geboren is, soo als wij den sieckentrooster eergister eerst een plaetse in 't fort hadden gegeven, daer tot noch niemant ander als hij woont." Die bedagsame voorsorg deur Van Riebeeck moet miskien in die lig van sy beroep as chirurgyn of medikus gesien word. Aangesien Wylant kort na die geboorte van sy seun ernstig siek was, moes die doop van die nuweling wag tot later. Die jonge Bernert Willemsz word uiteindelik op Woensdag 20 Augustus 1653 deur ds. F. Fronten gedoop terwyl laasgenoemde 'n paar dae aan die Kaap vertoef.

Dit is ook interessant om daarop te let dat beide die jonge heer Wylant en Abraham, Van Riebeeck se seun wat op 18 Oktober 1653 gebore is, 'n maandelikse toelae van 8 gulden ontvang het - waarskynlik op grond van die feit dat hulle die eerste blankes was wat aan die Kaap gebore is.

Op 12 Augustus 1655 word Wylant en sy vrou weer 'n seun ryker en die Daghregister voeg by dat al die ander vroue spoedig mevrou Wylant se voorbeeld sou volg "soo dattet hier van alles vruchbaar valt."

Soos alle siektroosters was Wylant ook verplig om gereeld aan die Classis deur wie hy uitgestuur is asook die Here Sewentien verslag te doen van sy werksaamhede. Alhoewel hy volgens artikel 6 van die Instruksie van 1617 met alle skepe 'n verslag moes stuur, het Wylant vanweë sy besige program gedurende die aanvangsjare slegs een keer, en wel op 20 April 1655, verslag gedoen. Hierdie verslag van Wylant is 'n pragvoorbeeld van sewentiende-eeuse Nederlands, wat byna as Afrikaans aandoen.

Na byna vier jaar as siektrooster aan die Kaap vertrek Wylant op 10 Maart 1656 aan boord van die jag Weesp na Batavia. Hy word opgevolg deur sieketrooster Pieter van der Stael wat, nes Van Riebeeck, ook 'n Culemborger was en met Van Riebeeck se suster getroud was. Na verskeie mislukte pogings word Van der Stael op 1 September 1655 tot die amp van sieketrooster toegelaat. Hy kom op 5 Maart 1656 in die Kaap aan om by Wylant oor te neem. In teenstelling met Wylant het Van der Stael gereeld aan die Classis in Amsterdam verslag gedoen. Reeds op 9 April 1658 gee hy 'n treffende beskrywing van die toestande op kerklike gebied aan die Kaap. Nadat Van der Stael aan die begin van Maart 1661 die verpligte dienstyd van vyf jaar voltooi het, besluit die Politieke Raad om hom vir 'n verdere drie jaar aan te stel. Hy wys egter die aanbod van die hand en maak op 2 April sy verlange bekend om ook, soos sy swaer Van Riebeeck, na Batavia te verhuis. So gebeur dit dan dat Pieter van der Stael en sy vrou en drie dogters die Kaap op 7 September 1663 aan boord van die Alphen verlaat.

Ernestus Back, 'n Duitser van geboorte, arriveer aan boord van die Alphen, die skip waarmee Van der Stael na die Ooste sou vertrek. Hy begin op 6 September 1663 met sy arbeid aan die Kaap. Alhoewel hy aanvanklik flink met sy werk begin het, het dit egter kort voor lank geblyk dat hy 'n drankverslaafde was. Nadat hy verskeie kere deur kommandeur Wagenaer vermaan en geskors is, het die kommandeur besluit om van hom ontslae te raak. Wagenaer en sy raad was daarvan oortuig dat daar 'n samehang tussen die gedrag van Back en die verskyning van 'n komeet in die nagtelike lugruim bestaan het. Sake is nog verder vererger deur die toenemende ontheiliging van die Sondag en toe die komeet wat die eerste keer op 15 Desember 1664 gesien is, nag na nag aan die hemelruim verskyn, besluit die kommandeur "om van hierdie onwaardige Jona ontslae te raak." Nodeloos om te sê dat Back tydens sy verblyf aan die Kaap nie een verslag aan die Classis in Holland gestuur het nie.

Die vierde sieketrooster aan die Kaap, Jan Jorisz. Graa kom op 1 Mei 1665 aan boord van die Casteel van Medenblick in die Kaap aan. Gelukkig was hy iemand met 'n heeltemal ander geaardheid as Back terwyl sy hele optrede die belofte van 'n bruikbare en eerbare loopbaan ingehou het. Ongelukkig word hy kort na sy aankoms siek en verwissel op Sondag 7 Junie 1665 na afloop van die oggenddiens, as gevolg van 'n rasende koors, die tydelike met die ewige.

Twee maande later sou die eerste vaste predikant in die persoon van ds. Johannes van Arckel in die Kaap aankom en die tydperk van sieketroosters as die enigste gevestigde geestelike arbeiders aan die Kaap ten einde loop. Die amp van die sieketrooster sou egter nog vir baie jare aan die Kaap bly voortbestaan. Met die vermeerdering van die gemeentes het die werkkragte, waaronder sieketroosters, ook vermeeder. Die feit dat daar gaandeweg meer predikante aan die Kaap bevestig is, het ook meegebring dat dit al makliker geraak het om iemand te kry om tydens 'n vakature of siekte waar te neem. Dit alles het meegebring dat die amp van die siektrooster gaandeweg al meer op die agtergrond geskuif is. Die kerk se besluit om tot die stigting van die Kweekskool op Stellenbosch oor te gaan en die stigting daarvan in 1859 het mettertyd ook die einde van die amp van die sieketrooster aan die Kaap beteken.

Soos in die geval van die eerste sieketrooster aan die Kaap was die laaste een, eerw. W. A. Van der Worm, ook verbonde aan die gemeente Kaapstad. Met die dood Van der Worm, na 'n lang siekbed, op 24 Junie 1866 loop die tydperk van die sieketrooster aan die Kaap ten einde. So het ons dan met Wylant aan die begin van die lang ry van sieketroosters in Suid-Afrika en die ewe toegewyde Van der Worm aan die einde 'n goeie begin en 'n goeie afsluiting van die era van sieketroosters aan die Kaap.

Hoewel die sieketroosters lank reeds van die toneel verdwyn het, is die nageslag van talle van hierdie persone vandag nog in ons midde en maak 'n belangrike deel van die Afrikanervolk uit. Die volgende vanne kan volgens J.P. Claasen herlei word na sieketroosters wat op een of ander tydstip aan die Kaap gearbei het: Berrangé; Bosman; Botes; De Korte; Frylinck (Freyling, Fryling, Frilink); Gelderblom; Herhold; Roux; Swart; Van der Worm; Victor.

Top

NEGATIEWE OPMERKINGS OOR SIEKETROOSTERS
deur AM van Rensburg

Die krankbesoeker of sieketroosters het nie altyd 'n baie hoë ag onder die VOC werkers uitgelok nie. Die wat tot hierdie amp toegetree het was uit die geledere van voormalige soldate,en van die werkers klas: soos skoenmakers, wewers, bakkers en klerewerkers.

Op die skepe moes hulle die oggend en aand godsdiens en gebed lees, en dan ook 'n Psalm of twee sing. As iemand op sy sterfbed was, dan moes die sieketrooster hom besoek en met hom bid en die geskrif lees asook seker maak dat hy 'n testament opgetrek het.

Jan Pietszoon Coen verwys na hulle in 1614 as "plompe onbesneden idioten, ghelijk de voorlesers meestendeel zijn". Die matrose het nie baie tyd vir die sieketroosters gehad nie. Die matrose het geweet dat die sieketroosters voorheen 'n gewone werkersklas persoon was, maar wat nou spesiale voorregte op die skepe gekry het. Boonop hoef die sieketroosters nie gewone werk op die skepe doen nie, hulle het ook nie deel van 'n skof uitgemaak nie, geen wonder daar was bitter gevoelens teenoor hulle nie. Wat dinge erger gemaak het, was dat sommige se lewensstyl 'n skadu oor hulle amp gegooi het. Dit was nie buitengewoon dat 'n sieketrooster 'n drank probleem gehad het nie. Hulle was spottend aangespreek as 'drankbesoeker' in plaas van 'krankbesoeker'. Daar was ook klagtes teenoor die sieketroosters dat hulle deelgeneem het aan skuilhandel.

Daar word melding gemaak dat in Nederland sommige van die mees ellendige persone vir 'n rukkie kerk bywoon. Dan skynheilig sit en luister hy heel voor in die kerk. Nie lank daarna nie kry hulle die voorreg om te dien as 'n sieketrooster vir die VOC met verwysing van die kerk.

In die Kaap nadat Ernestus Back hom herhaaldelik aan dronkenskap en ander oortredings skuldig gemaak het, is hy na Batavia gestuur. Toe Pieter Stricht na Nederland terugkeer vra die Kaapse Kerkraad op 5 Mei 1734 "dat we hier geen scheeps-krankbezoeker krijgen, maer een man van beproevde deught en bequaemheeden" Spoelstra p 175, 176.

Volgens de Wet p 140, in 1687 het Hendrik Cornelisz Olivier en sy vrou, Gerrit Cloete en sy vrou, asook die vrou van Francois Viljoen geweier om kerkdienste by te woon weens die ergerlike lewe van die sieketrooster, Sybrand Mankapdan. Hulle ander klagte was dat hy hulle nie besoek het in tyd van driefheid nie of selfs geweier het om hulle kinders te onderwys.

Bron
CR Boxer The Dutch Seaborne Empire
GC de Wet Vryliede en Vryswartes in die Kaapse Nedersetting
PS du Toit Onderwys in Kaapland in Historiese Oorsig
C Spoelstra Bouwstoffen voor de Nederduitsche Gereformeerde Kerken in Zuid-Afrika Vol 1

Top

SIEKETROOSTER - Willem Barentssen Wijlant
Deur Johan Meyer
Geredegeerde uittreksel uit Leonard D Lourens se boek "'n Venster op ons Verlede", HAUM, 1971.

Willem Barentssen Wijlant het, as 'n vroeë Suid-Afrikaanse baanbreker, talle eerstes agter sy naam. Hy het ons eerste Kommandeur, Jan van Riebeeck, na hierdie land vergesel en as eerste sieketrooster wat aan die Kaap aangestel is, het hy die eerste kerkdiens aan ons eerste setlaars voorgelees. Hy was ook die eerste van 'n lang ry predikers wat by die kerkowerheid in die sop beland het oor 'n preek wat hy gelewer het, en om die lys nog aan te vul, was hy die eerste inwoner van die oorspronklike fort wat die bou van die Kasteel voorafgegaan het. Les bes was hy die vader van die eerste wit kind wat in Suid-Afrika gebore is. Willem Wijlant word vir die eerste keer in Van Riebeeck se Dagboek gemeld as die man wat die kerkdiens op Sondag, 28 April 1652 gelei het, maar daar word ook melding gemaak van 'n diens twee weke vroeër, op die 14de. Na hierdie diens het die setlaars per boot na die Soutrivier gegaan om vis te vang, en hulle het tussen negehonderd en duisend steenbras en 'n aantal harders ingesleep. Aangesien daar niemand anders was om die amp te vervul nie, is dit seker dat hierdie diens ook deur Wijlant gelei is.

Twee maande na hul aankoms in Tafelbaai, op die 6e Junie, het mev. Wijlant aan die eerste blanke Suid-Afrikaner die lewe geskenk. Van Riebeeck, 'n goedhartige en begrypende man, en 'n gekwalifiseerde geneesheer, het dit vir die verwagtende moeder so gemaklik as moontlik gemaak. Hoewel die fort nog nie heeltemal gereed was vir bewoning nie, het hy die Wijlants toegelaat om twee dae voor die geboorte van hul seun daar in te trek. Die bedagsaamheid van hierdie gebaar is merkwaardig as 'n mens die strenge rangorde van voorkeur en voorreg in ag neem wat die amptenare van die Verenigde Oos-Indiese Kornpanjie gehandhaaf het. Terwyl die Wijlant-gesin in die betreklike gerief van die fort gewoon het, het die Kommandeur, sy vrou Maria, hul niggies, Sebastiana en Elizabeth van Opdorp, en die Kommandeur se seun Lambertus maar gesien kom klaar in ongerieflike skuilings. Dermate dat Van Riebeeck op 11 Junie aangeteken het: " ons woon in baie lekkerige tente, en almal van ons ly onder strawwe koue en ongerief . . . " Die baba moes langer as 'n jaar wag voordat hy gedoop is, aangesien die laaste Nagmaal net voor sy geboorte gehou is. Suid-Afrika se eerste doopplegtigheid moes dus wag tot 20 Augustus 1653, toe 'n volle gelegitimeerde predikant, ds. Fredricus Fronten, wat in die Phenis op pad na Batavia was, die Kaap aangedoen het.

Willem Wijlant se moeilikheid met die kerk het ontstaan uit die presiese en besliste manier waarop die pligte van elke dienaar van die Kompanjie uiteengesit is. Niemand is toegelaat om sy perk te oorskry nie en verder as sy toegekende arbeidsveld te gaan. In die geval van 'n sieketrooster ('n baie lae rang op die kerklike leer) is hy nie toegelaat om die sakramente te bedien of preke te lewer wat hy self opgestel het nie. In die afwesigheid van 'n gelegitimeerde predikant is die sieketrooster toegelaat om 'n gedrukte preek voor te lees wat verkrygbaar was van hoë kerkowerhede oorsee. In 1654 het 'n verslag Batavia bereik dat Willem Wijlant die kerk aan die Kaap geskok het deur die gemeente in sy eie woorde toe te spreek in plaas van om hom by die gedrukte preek te hou. Hoewel geen doktrinêre fout in sy preek gevind kon word nie, is sodanige gedrag as hoogs onreëlmatig beskou en 'n brief is aan Van Riebeeck gestuur waarin hy opdrag gekry het om 'n einde te maak aan sulke gedrag. Van Riebeeck het in sy antwoord aan ds. Tessemaker van die kerkraad van Batavia Wijlant se vernuftige ekskuus gegee dat hy nie eintlik die preek opgemaak het nie. Wat gebeur het, is dat sy oë sleg was en dat hy die preek uit sy kop geleer het. Hy het die woorde so goed geleer dat, terwyl hy die gemeente toegespreek het, hy bo-oor die boek met die gedrukte woorde gekyk het en dus die indruk gegee het dat hy uit die vuis uit preek. Niemand is blykbaar daarvan oortuig dat Wijlant se verdediging waar was nie, maar die hele saak is uitgestryk deur Van Riebeeck se belofte om toe te sien dat die vergryp nie herhaal sou word nie.

Nie lank daarna nie het die sieketrooster in 'n ander soort moeilikheid beland wat hom byna sy lewe gekos het. Die nag van 31 Mei 1655 is Wijlant en 'n stalkneg wakker gemaak deur geluide uit die hoenderhok. By nadere ondersoek het hulle gesien dat drie ganse wat deur 'n besoekende admiraal, Ryklof van Goens, aan die nedersetting geskenk is, doodgebyt is deur 'n luiperd wat die hok binnegekom het deur 'n deur wat oopgelaat is deur 'n nalatige hoenderhok-wag. Die twee mans het die hoenderhok binnegegaan en Wijlant het op die luiperd geskiet en hom gekwes. Die verwoede dier het die sieketrooster bespring, sy kop met sy kloue gekrap en hom aan die arm gebyt. Toe het hy die stalkneg bestorm, wat 'n kleinerige skrapie aan die kop gekry het. Die luiperd is toe weg uit die hoenderhok en het na die nabygeleë beeskraal afgesit. Van Riebeeck het die manier aangeteken waarop die beeste hul kalwers beskerm het. Hulle het in 'n halfsirkel saamgedrom en 'n halfmaan met hul horings gevorm. Op die manier was hul kalwers heeltemal veilig agter die verskansing, en die luiperd het uiteindelik weggesluip. Na die geboorte van sy tweede seun in 1655 het Wijlant nie lank aan die Kaap gebly nie voordat hy met sy gesin na Batavia vertrek het. Hy is as sieketrooster opgevolg deur Pieter van der Staal, 'n swaer van Jan van Riebeeck, wat voortgegaan het in die baanbrekersgees van sy voorganger en Suid-Afrika se eerste skoolmeester geword het.

Top

HULPMIDDELS AAN LAND VIR SIEKETROOSTERS
deur Johan Erasmus

Onder die hulpmiddels wat 'n sieketrooster vir die uitvoering van sy pligte ontvang het, was daar twee stelle voorrade, een vir gebruik op die skip ter see en een vir gebruik aan land. Laasgenoemde het uit die volgende items bestaan:

1 Bijbel
(Dit was die beroemde Statebybel wat - volgens die staatsordinansie van 29 Julie 1637 - as offisiële vertaling in opdrag van die "Staten Generaal" verskyn het en waarmee Van Riebeeck na die Kaap gekom het).

1 Huysboek Bullingeri
(Heirich Bullinger was opvolger van die kerkhervormer Zwingli in Zurich en opsteller van die Tweede Switserse Konfessie. Hierdie Huysboek oftewel Sermonum Decades V, was aan die begin van die Hervorming meer gelees as enige ander boek met uitsondering van die Bybel).

1 Catechismus Ursini
(Die volledige titel daarvan hierdie werk uit die pen van Zacharinus Ursinus - medeopsteller van die Heidelbergse Kategismus - lui: Het Schatboek der Verklaringen over de Catechismus der Christelike Religie, Der inde Ghereformeerde kercken ende Scholen van Hoogh- ende Neder-Duytsch-Landt gheleert wordt". Dit was 'n lywige boek. Die gedeelte waarin die Kategismus behandel word beslaan 600 bladsye en die gepaardgaande belydenispreke met die oog op die nagmaal 'n verdere 74 bladsye. Hierdie "Schatboek" was ook 'n baie bekende en beminde boek onder die Voortrekkers.)

1 Postilla bullaj
('n Preekbundel deur Justus Bulaeus - 'n Nederlandese predikant wat eers na sy dood uitgegee is en teen 1642 reeds sy vyfde druk beleef het).

1 Loff Jesu Christi
('n Tweedelige werk geskryf deur ds. Rudolph Petri *1586 +1649 en in 1625 te Amsterdam uitgee).

1 Boetvaerdicheijt Taphijn
(Vierdelige werk deur Jean Taffin *1528 +1602 wat handel oor vroomheid van die geloof en die verbetering van die lewe. Hierdie boek wat in 1614 uitgegee is beleef in 1628 reeds sy agtste druk)

1 Veertig tafereelen des doots
(dit is geskryf deur die Franse Gereformeerde teoloog Simon Goulart *Senlis 1543 +Geneve 1628 wat na die dood van die hervormer Beza die leiding van die kerk in Geneve op hom geneem het. Dit handel oor die lewe en sterwe van Christen martelare in die kerk).

1 Practijk de godsaligheijt
(Dit is oorspronklik in Engels geskrywe deur L Bayly en in Nederlands vertaal deur E. Schuttenhuis en bevat 'n kort dogmatiek en behandel die betekenis van die vas en nagmaal terwyl dit ook verskillende gebede, soos byvoorbeeld 'n gebed by 'n kranke, bevat).

1 Psalmboek op Nooten
(Een van die toelatingsvereistes waarin menige sieketrooster aanvanklik gefaal het en dikwels eers na 'n tweede en derde poging tot die amp toegelaat is, was om leiding te neem met die sang in die gemeente. Daar is van hulle vereis dat hulle "de voisen van alle Psalmen" moes ken. Volgens G.G. Cillie - Waar kom ons Afrikaanse Gesange vandaan? (1982) - is die berymde psalms van Datheen op die Franse melodieë van die Geneefse Psalmboek van 1562 sedert die aankoms van Van Riebeeck tydens godsdiensoefeninge gebruik. So berig sieketrooster Willem Barendsz Wylant byvoorbeeld in 1655 aan die classis in Amsterdam dat hulle "alle avont gebedt doen mit een veers twe of dree toe te singen, na de gelegenheyt des tijts". Dat die moedige leiding van die sieketrooster t.o.v. die onbegeleide sang by sulke geleenthede egter nie altyd na wense verloop het nie, word weerspieel in die kommentaar wat Adam Tas - aartskritikaster wat hy was - by geleentheid oor sieketrooster Mahieu - na wie hy ook as 'n "krankebedroewer" verwys het - se leiding t.o.v. die sing van Ps. 51 uitgespreek het: "De voorzinger heeft dese reijs droevig, langzaam en laag gezongen". Om homself hierdie verleentheid te spaar om 'n psalm te laag in te sit, het sieketrooster Andreas Zeits van Drakenstein later die psalms nie regdeur gesing nie. Die kerkraad was dus verplig om op 6 Junie 1751 "hem belast de Psalmen van 't begin tot het eynde te zingen).

'n LYS VAN SIEKTROOSTERS WAT AAN DIE KAAP DIENS GEDOEN HET. Saamgestel deur Johan Erasmus

1. W. B. WYLANT 1652 - 1656
2. P. VAN DER STEAEL 1656 - 1663
3. E. BACK 1663 - 1665
4. J.J. GRAA 1665
5. G. VICTOR 1666 - 1668; 1676 - 1677
6. J. BOLTE 1668 - 1671
7. A. CARPIUS 1671 - 1673
8. J. HEERE 1674 - 1676
9. J. SMIT(H) 1678 - 1684
10. S. MANKANDAN 1684 - 1693
11. A. COOPMAN 1685 - 1706
12. P. ROUX 1688 - 1722
13. J. SWART 1692 - 1700
14. H. LUSSING 1699 - 1705
15. J. DE GROOT 1700 - 1707
16. J. MAHIEU 1701 - 1729
17. J. VAN HOORN 1704 - 1715
18. J. RUGER 1706 - 1707
19. P. TAVENRAAD (TAVENRATH) 1707 - 1711
20. H. BOSMAN 1708 - 1748
21. J. VAN DEN OEVER 1710 - 1727
22. J. KIEN 1711 - 1714
23. J. HOFMAN 1728 - 1751
24. P. STRIGT 1730 - 1733
25. J. VAN DER TRANS 1736 - 1753
26. L. VAN DYK 1743
27. NAAM ONBEKEND 1744
28. A. SCHIETEKAT 1744 - 1748
29. W. BOTES 1744 - 1774
30. A. BERRANGE 1749 - 1767
31. C. KEURIGHEIM 1751 - 1772
32. JAN VAN SCHAALEN 1753 - 1769
33. J. DE WOLF 1766 - 1785
34. C. AGTERMAN 1770 - 1777
35. H. MEMELING 1772 - 1773
36. J. DE COO 1772 - 1775
37. S. HAVINGA 1775 - 1790
38. C. GELDERBLOM 1784 - 1798
39. W. HEROLD 1777 - 1800
40. H. HEILIGERS 1781 - 1785
41. G. DE KORTE 1783 - 1784
42. J. VAN SIMONDS 1785 - 1792
43. A. FRIELINCK 1786 - 1787
44. H. TER SMITTEN 1786 - 1787
45. J. DE VRIES 1788 - 1809
46. J. VAN DER SCHIE 1788 - 1819
47. I. PLANTEFEBER 1793 - 1801
48. W. RENS 1798 - 1800
49. J. J. SCHOLTZ 1809 - 1845
50. B. TROMP 1812
51. H. TER HOVEN 1816
52. W.A. VAN DER WORM 1858 - 1866

Print Email