1.
IN DIENS VAN DIE VOC EN VERTREK
deur Helena Garner
Helena
Garner gee die volgende opsomming van Karel Schoeman se hoofstuk
oor Amsterdam in sy boek:
Stamland : 'n reis deur Nederland. Kaapstad : Human & Rousseau,
c 1999.
Die
VOC is in 1602 gestig en het uit ses kamers bestaan. Die Kamer
van Amsterdam wat die sterkste van die ses kamers van die VOC
was het die ander vyf kamers gedomineer. 725 van die VOC- skepe
uit die 1450 wat gedurende die twee eeue van sy bestaan gebruik
is, is hier gebou. Gedurende die bloeitydperk van die VOC het
meer as duisend mense op die skeepswerwe gewerk. Die rivier, die
Amstel is in die IJ in die Oude Zijde op die regteroewer opgedam
sodat die skepe daarin kon opvaar. Die vroeë dam Amstel is deesdae
'n plein wat nou die middelpunt van die stad vorm. Amsterdam se
naam is hiervan afgelei. Die skepe het vanaf die Damrak uitgeseil
na die IJ wat in die Suidersee uitmond en vandaar na die wêreld.
In Warmoesstraat wat die belangrikste winkelstraat in Amsterdam
was het die koopmanne gewoon. Agter hulle woonhuise was die pakhuise
met toegang tot die water van die Damrak. Die burgemeester en
direkteure van die VOC het ook in hierdie deel van die ou Middeleeuse
stad gewoon.
Die
VOC het nie so 'n goeie reputasie gehad dat die Nederlanders graag
by hom in diens geneem wou word nie, arbeidsvoorwaardes en lone
was nie aantreklik nie. Om as soldate te werk was nog minder aantreklik.
As gevolg hiervan moes die Kompanjie arbeiders uit die buiteland
trek. Baie arbeiders het dan ook vanaf hawestede uit die Noord-,
Oos- en Wit See of vanaf Duitsland gekom. Duitsland het gely onder
armoede, hongersnood, oorlog en vervolging. Daar was ook wanaangepastes,
misdadigers en avonturiers onder hierdie mense. Werksoekers kon
hulle by enige van die Kompanjie se kamers aanmeld, maar omdat
Amsterdam daardie tyd die derde grootste stad in Europa was (London
en Parys was groter) het die meeste daarheen gegaan. Meestal moes
hulle oorbly in die stegies in agterkamers of solders waar die
straatvroue bedrywig was. Op bepaalde dae is 'volgens gewoonte
in alle strate en stege met trommels en fluite, skalmeie en trompette'
aangekondig dat nuwe werkers by die kompanjie benodig word. Die
kantore was geleë te Oostindisch Huis, 'n reeks van geboue in
Oude Hoogstraat vanaf die Dam na die Oude Schans waar die stadsmuur
van die Middeleeuse stad was. Tans word die oorspronklike hoofgebou
deur die Sociologisch Instituut van die Universiteit van Amsterdam
gebruik.
Hier
volg wat Karel Schoeman in die Engelse vertaling van die Van Riebeeckvereniging
aangehaal het van O.F. Mentzel se biografie oor R.S. Alleman wat
die toestande om aanvaar te word beskryf: "Hier is daar 'n
groot menigte, en die potensiële rekrute word in groepies van
twaalf of hoogstens vyftien in die gebou ingelaat. So gou soos
wat die deur oopgemaak word, probeer al die mans wat naby genoeg
is vir hulle 'n pad na binne forseer, en dit gebeur dikwels dat
mense doodgedruk word in die gedrang wat sodoende ontstaan. Die
vasgestelde aantal mans word binnegelaat, dan word die deur weer
toegemaak, en enigeen wat hom nie vinnig genoeg terugtrek nie,
word deur die deurwagters deeglik reggesien ... Dit is byna ongelooflik
hoe die mans hul in die diens van die Kompanjie probeer indwing.
Ek het self mans gesien wat na die vensters van die tweede verdieping,
bo die ingangsdeur, opklouter en daar aan die ysterrooster vasklou
totdat die deur oopgemaak word; hulle laat dan onmidellik los,
val op die koppe van die mans wat voor die deur staan, en word
sodoende saam in die gebou ingevoer. Selfs die mans wat afgekeur
is, verloor nie hoop nie; hulle trek 'n ander uniform aan en wag
omtrent 'n uur of anderhalwe uur. Dan forseer hulle vir die tweede
keer 'n pad na binne, en is dan dikwels gelukkig genoeg om aanvaar
te word, veral as daar teen die einde van die dag 'n tekort aan
applikante blyk te wees."
Diegene
wat as matrose of soldate kon diens doen moes 'n kontrak vir vyf
jaar diens in die Ooste of aan die Kaap teken. Dit het nie die
heen- en terugreis ingesluit nie wat beteken het dat nog twee
jaar bygevoeg moes word. Die vroue, "sielverkopers" genoem wat
by die indiensneming betrokke was het hulle voorsien van 'n skeepskis
met die basiese noodsaaklikhede, bv. 'n jas, hemde, slaapmus,
matras, kleipype en brandewyn of jenewer. Hierna het die lang
reis feitlik dadelik begin.
Die
Suidersee was te vlak vir skepe, daarom het die VOC se skepe van
die eiland Texel vertrek. Almal wat van Amsterdam, Hoorn en Enkhuizen
vertrek het is met platboomskuite, ligters genoem, na Texel vervoer.
Die roete loop vanaf Oostindisch Huis langs die Nieuwe Hoogstraat
en die Snoekjesgracht na die Oude Schans tot by die steier te
Montelbaanstoren, 'n ou Renaissancetoring wat deel van die stad
se muur was. Daar bestaan 'n ets van hierdie uittog deur Renier
Nooms en 'n olieverfskildery deur Abraham Storck. Die Oude Schans
met sy troebel water en die Montelbaanstoren en aan die oorkant
die WIC-pakhuise wat in 1641-42 opgerig is bestaan nog.
Gedurende
1608 het die Amsterdamse Kamer sy eie skeepswerf op die eiland
Rapenburg aan die oewers van die IJ gekry. Hierdie toegangspoort
met die monogram A VOC asook die name Peper- en Foeliestraat en
die twee pakhuise waar Kaapse wyn en arak (Oosterse rysbrandewyn)
geberg is het aan die huidige Prins Hendrikkade behoue gebly.
In die moderne stadgids word daar verwys na die "Kaapse wijnpakhuizen".
Die VOC se nuwe skeepsweerf was sedert 1661 op die eiland Oostenburg.
Seile, ankers, toue en spykers is deur die Kompanjie self gemaak.
'n Magasyn van vier verdiepings met 'n fasade van 177 meter lank
is daar gebou maar bestaan nie meer nie. Die Zeemagazijn van die
Admiraliteit van Kattenburg waar die Nedelandse Scheepvaart Museum
tans is het behoue gebly. 'n Replika van die "Amsterdam" wat in
1748 gebou is kan hier besigtig word. Werk- en woonruimtes was
baie beknop. Die ophaalbrug van die Oude Schans en die Montelbaanstoren
kan van hier af gesien word.
In
die nuwe provinsie Flevoland, aan die rand van die Ijsselmeer
is 'n replika van die "Batavia" waar die oorloopdek wat oor die
volle lengte van die skip loop gesien kan word. Die oorloopdek
was onmiddellik onder die dek van die seilskepe waar die matrose
heen gebring is. Die skepe was oorbeset om voorsiening te maak
vir verliese deur siektes of sterftes, gewoonlik het 200 man vanaf
Amsterdam vertrek teenoor 110 op die terugreis.
Die
matrose was saam met hulle kiste en hangmatte tussen kanonne en
die vrag gehuisves met die dakhoogte 1.8 meter geventileer deur
die luike en kanonpoorte. Nog laer af onder die waterlyn was die
koebrug, slegs deur die rooster in die oorloop geventileer, omtrent
1,5 meter hoog waar die soldate in diens van die Kompanjie gehuisves
is. Hierdie mans was meestal Duitsers wat by hulle bestemmings
agtergebly het.
Skeurbuik
en later vlektifus was die siektes wat die meeste lewens geëis
het. Skeurbuik was 'n verskriklike siekte; tande het uitgeval,
tandvleis het sleg geword en moes weggesny word, asemhalingsprobleme
en opgeswelde ledemate was van die gevolge. Die voorgeskrewe oggendgebed
op die VOC-skepe het gelui: "O eeuwige, almagtige God en Vader!
Bevryd ons door uwe bermhertigheit voor alle schadelyke stromwinden,
onweder en alle andere zeenoden. Verleen ons goet weder en bekwaamen
wint, opdat wy onse aangenomen reis voorspoediglyk mogen volbregen
tot Uwes Naams prys en eeredienste onzes Vaderlands, en troost
der gene welken daaraan in het byzonder is gelegen."
Top
3.
VAART NA DIE KAAP
deur Johan C Erasmus
Van Texel na Stormkaap
Die hawe van Texel was destyds inderdaad 'n baie belangrike vertrekpunt
vir menige skeepsreis. In sy boek "Helperus Rizema Van Lier" p.
119 - 121 skryf dr. T. N. Hanekom, na aanleiding van die eerstydse
predikant se vertrek uit Nederland en reis na die Kaap, die volgende
oor die verloop en die gevare verbonde aan so 'n reis.
"In elke geval was die vertrek van skepe in dié dae maar baie
onseker. So vertel Cornelius de Jong, seekaptein van die 'Scipio',
dat hy in 1791 reeds op 15 Augustus die eerste manskappe aan boord
gehad het, maar eers op 16 Desember die Hellevoetsluis passeer
het om sy reis na die Kaap te begin. En so moes ook Van Lier en
sy susters maar wag vir die geleë dag, wanneer ook hulle skip
die vaderland sou verlaat. Vir hierdie lang reis was hulle aangewese
op die 'Jagtrust', wat reeds sedert 1775 in diens van die Kamer
van Amsterdam vaar en vir hierdie reis onder bevel van kaptein
Anthony Lubbe sou staan.
Die
langverwagte dag van afskeid het eindelik aangebreek op 27 Mei
1786, toe die 'Jagtrust', met 110 koppe aan boord, uit die hawe
van Texel vertrek. Hoe lank die reis sou duur, het niemand geweet
nie, aangesien alles afgehang het van die wind, met soveel ander
gevare en moontlikhede op die weg. Gewoonlik het die reis na die
Kaap in daardie dae van drie tot vyf maande geduur, en al was
die gevaar van seerowers toe nie meer daar nie, het daar genoeg
ander gevare oorgebly.
Tussen
die jare 1785-90 bv. het 'n hele aandtal skepe onderweg na die
Stormkaap skipbreuk gely, dikwels met lewensverlies van passasiers
of bemaning. Ook muitery onder matrose was geen denkbeeldige gevaar
nie. So bv. is die wrak van die Franse skip, 'Rozette', op 19
Aug. 1786 -- juis toe die 'Jatrust' ook op see was! -- digby Kaappunt
aangetref, sonder 'n lewende wese aan boord. 'n Paar dae later
is ses matrose onder verdagte omstandighede by die Kaap aangetref
en gearresteer; en by die geregtelike ondersoek het geblyk dat
hulle die offisiere en ander manskappe van die 'Rozette' vermoor
het, en toe hul skip op die rotse gestuur het, om so die land
te bereik. Nog in dieselfde jaar , na Van Lier se aankoms aan
die Kaap, is hulle daar -- op 'n wrede wyse -- tereggestel om
te boet vir hul misdaad. Siektes aan boord -- rottekoors word
dikwels genoem -- het ook baie slagoffers geëis, al was die gevreesde
skeurbuik toe nie meer so 'n gevaar nie. Ook die 'Jagtrust' moes
by sy aankoms aan die Kaap 15 siekes en 2 dodes aanmeld. Die reis
het egter nie te lank geduur nie, aangesien die goewerneur, C.
J. de Graaff, reeds op 7 Sept. 1786 aan die Politieke Raad kon
meedeel dat ds. Helperus Rizema van Lier, 'met het schip 'Jagtrust'
alhier behouden aangekomen was'. Die aankoms van so 'n skip in
Tafelbaai was in daardie dae 'n blye gebeurtenis, nie alleen vir
die passasiers wat soveel maande aan die genade van die see toevertrou
was nie, maar ook vir die bewindhebbers van die Oos-Indiese Kompanjie,
wie se belange daarby betrokke was.
In
sy reisbeskrywing vertel seekaptein C. de Jong van sy aankoms
aan die Kaap op 27 Maart 1792 die volgende: 'Aanstonds wierd 's
Landsvlag door het Kasteel met 15 schooten gesalueerd, die ik
met even zoo veel bedankte; en wel haast kwam de Equipagiemeester
der Maatschappij aan boord, vragende, of en wanneer ik verkoos
de eerbewijzingen te genieten, die men gewoon is aan 's Lands
Kapiteinen te doen' ."
Top
4.
SKEPE EN ROETES
deur AM van Rensburg
Seilskepe
was afhanklink van die wind en windrigting. Partymaal moes die
skepe vir weke wag by Texel voordat die wind reg was om uit te
seil.
Twee
keer per jaar het hulle van Nederland uitgevaar na die Ooste,
later drie keer. Die Kermisvloot vertrek September/Oktober. Die
Kerstfeesvloot vertrek rondom nuwe jaar. Die Paasschepen vertrek
gedurende die tyd van Paas. Die Kersfees vloot kon maklik kos
voorrade kry, asook bemanning werf, want daar was amper geen ander
werk die tyd van die jaar op ander skepe nie. Kleiner skepies
het die manne geneem na die vertrekpunt van die groot Retoerskepe.
Die
skepe van die Kamers aan die Zuiderzee: Amsterdam, Hoorn, en
Enkhuizen het hoofsaaklik van Texel vertrek. Die skepe het
vergader en vir mekaar gewag by die Koopvaardersrede agter Texel
sodat hulle saam kon uitseil. Die skepe van die Kamers Rotterdam
en Delft het vertrek van die Suid-Hollandse eiland Goeree,
terwyl die skepe van Middelburg (Zeeland) van Vlissingen
uitgevaar het.
Voor
dat hulle gevaar het, het die kaptein al die belangrike dokumente
ontvang en in die scheepsdoos (Ship's box) gesit. Dan was daar
ook deur een van die direkteurs 'n muster opgawe geneem van al
die bemanning voordat hulle vertrek het.
Van
Nederland het hulle deur die Kanaal geseil, maar gedurende oorlog
het hulle agter om Skotland en Ierland gevaar. Vandaar het hulle
suid gevaar tussen die Asore en Kanariese eilande, hier het die
skepe van die WIC weggebreuk en oos gevaar. Die VOC skepe het
suid gevaar tot by die Kaap-Verdiese eilande langs die weskus
van Afrika. Dan het hulle in 'n nou band gevaar tot by die ewenaar,
wat bekend was as die waspoor (cart track). Die waspoor het begin
net suid van die Kaap Verdiese eilande en van daar tot om en by
die ewenaar. Dit was belangrik om binne die twee parallel spore
te bly anders sou hulle afkoers gewaai word, of met die see stroom
wes of oos gedryf word. Sommige skepe het in die Golf van Guinea
beland andere het weer aan die Noorde van Suid-Amerika en Karribiese
eilande beland. Sodra hulle deur die waspoor geseil het, het hulle
in die rigting van Suid-Amerika geseil. Daar was groot vreugde
wanneer hulle verby die gevaarlike Abrolhos eilande gevaar het.
Die eilande strek vir honderde myle ook onder water. Hierdie eilande
was 'n groot gevaarte vir die skepe. Die Abrolhos eilande is geleë
tussen Salvador (Bahai) en Rio de Janeiro. Die roete het dan verander
na 'n oostelike rigting met die Kaap as die doel. As hulle 'n
bietje van koers was dan het hulle in Saldanha baai beland. Van
Nederland tot die Kaap het 'n gemiddelde tyd van 140 dae geneem.
Van
die Kaap het hulle oos gevaar, die VOC skepe het gebruik gemaak
van die "roaring forties". Voordat die skepe Australië
bereik het, het hulle noord gedraai om na Batavia toe te seil.
Dit het omtrent 9 maande geneem om van Nederland tot Batavia te
seil. Van die Kaap tot Batavia het 'n gemiddelde tyd van 80 dae
geneem.
Op
pad was daar die moontlikheid om te stop in Brittanje, Kaap-Verdiese
eilande, St Helena eiland,en Maurituis eiland, maar dit was net
gedoen in geval van nood en wanneer die politieke gesindheid positief
was. Wanneer die skepe 'n ander skip gesien het, het hulle 'n
wit driehoekige vlag gewaai - dit was 'n teken van vrede en goeie
gesindheid. Wanneer daar slegte gesindheid was dan het hulle 'n
rooi driehoekige vlag gewaai.
Van
die Kaap om na Ceylon en Bengal te seil, het hulle noord langs
die Afrikakus op geseil, verby Madagaskar, vandaar het hulle roete
verander na Indië toe. Hierdie roete was nie beskikbaar gedurende
die maande van die passaatwind nie (monsoon). Die ander roete
was om Suid van Madagaskar te seil en dan noord te draai. Van
die Kaap na Ceylon het dit omtrent 93 dae se rit geneem.
Daar
was verskillende skepe in die diens van die VOC:
Spiegelschip
- (square stern ships) hierdie was die grootste skepe, hulle het
'n plat agterend gehad het. Die skepe was 160 voet lank en bewapend
met kanonne waarmee hulle enige aanvale kon afweer. Hierdie skepe
was soortgelyk gebou as die oorlogskepe. Hulle was die bekende
groot Oostindiese skepe
Fluyt - dit was meer van 'n stoor skip, was kleiner as
spiegelschip. Hy het 'n ronde agterend gehad, en was baie gebruik
in Europa. Die fluyt was 'n uitstekende skip vir groot vragte
en was gebruik met die vervoer van rys, graan en pepper in die
Ooste. Die Kamer van Hoorn het die fluyt skip ontwerp, hierdie
was 'n middelgrote snelvarende driemas vragskip. Die skip het
'n klein dek oppervlakte gehad en kon met 'n bemanning van tien
of twintig vaar. Hierdie skip was baie in Asië gebruik.

Jaght - dit was klein seilskepe wat gebruik was vir plaaslike
werk. Het 'n plat agterend gehad, met drie maste en vierkantige
seile, daar was klein jaghte wat tussen 80 -100 voete lank was,
dan was daar die groot jaghte wat tussen 120 -135 voete lank was.
Na een of twee ritte na Asië het hulle nie weer na Europa
terug gekeer nie.
Pinas (pinnacles) was soortgelyk aan 'n jaght wat tussen
116 voete en 128 voete lank was, het ook a plat agterend gehad.
Fregat -hulle was soos klein jaghte en pinas,, omtrent
100 - 110 voete lank. Gebou vir snel vaart.
Bootje - was soos 'n klein fluyt omtrent 70 voete in lengte,
met drie maste en het vierkantige seile gehad.
Galjoot (galliot) die lengte van hierdie rondeagterend
skip was maar 60 - 70 voete lank. Dit het een groot en een klein
mas gehad. Hulle was hoofsaaklik gebruik vir spesifieke sendings
soos: adviesjacht, verkenner, posvervoer, en om die terugkeerende
vloot te ontmoet.
Katschip het 'n plat bodem gehad, en kon 'n groot vrag
geneem het, daar was 'n klein personeel nodig gehad vir die skip
van 100 - 120 voete. Die skip het ontstaan by die Kamer Hoorn.
Die skip was lig gebou en kon nie swaar vragte dra nie.
hoecker -
Amsterdam,
Hoorn en Enkhuizen lê aan de Zuiderzee en die manskappe
was per "ferrie" na die groot skepe geneem. Hulle klim
eers aan boord die groot skepe by Texel of Vlieland, hier word
die vrag opgelaai, asook die bemanning se goedere, asook die kos.
Die voorrade was met "lighters" of "barges"
na die groot skepe geneem, dit kon tussen 18 en 20 "barge"
ritte geneem het om die hele vrag na die skeep te gebring het.
By Texel was 'n put waar hulle varswater vir die skepe geneem
het. Klein roeibootjies het die leë vate na die land en vol
vate terug na die skepe geneem. Dit is ook hier waar die manne
die eed afgelê het. Die groot skepe het selde na Amsterdam
gevaar, behalwe vir reparaties. Die groot skeepskraan in Amsterdam
staan naby die schreierstoren. Nederland se hawes het gedurig
probleme gehad met versanding van seegate en hawes.
Die
VOC het altesame 1461 skepe gebou: Amsterdam het 'n groot werf
gehad naby Rapenburg, die werf was later vervang. Die Kamer van
Amsterdam het 728 skepe gebou. Die skepe van Enkhuizen was gebou
op die werf aan die Wierdijk. Enkhuizen het 108 skepe gebou.
Beide
die skepe van Rotterdam en Delft moes deur binnelandse waterroetes
reis. Van Rotterdam het hulle eers wes geseil, dan oos met die
Ou Maasrivier en dan draai hulle weer wes om in Hollandsdiep uit
te vaar. Die skepe het dan verby die eiland Goeree gevaar waar
die bemanning op die groot skepe oorgeklim het. Van Delft was
daar 'n kanaal Suid gegrawe tot by Delftshawe en dan het hulle
die selfde waterroete as die Rotterdamers gevolg. Die Maas was
nie bevaarbaar deur die groot skepe nie. Kleiner vaartuie, soos
jaghte het personeel en goedere van Delft en Rotterdam na Hellevoetsluis
toe geneem waar die grooter skepe in die Rede anker gewag het.
Hellevoetsluis was dus die afvaart hawe vir beide hierdie twee
kamers. Van daar het hulle verby die Goeree eiland gevaar. Die
kamer Delft het 111 skepe gebou.
Die
Kamer van Zeeland (se hoofkwartiere was in Middelburg) het 306
skepe gebou. Middelburg lê binnelands op 'n klein eilandjie.
Middelburg het die kortste en beste verbintenis met die ope see.
Daar was 'n kanaal wat gebou was vir die skepe van Middelburg
tot Rammekens. Perde het langs die kanaal die skepe deur die kanaal
getrek na hulle bestemming van Rammekens. Die groot skepe van
die Kamer van Zeeland het van die hawe Vlissingen uitgeseil.
Die
VOC skepe na die Ooste het dus vertrek van Texel, Vlie, Hellevoetsluis,
Goeree of de Walcherse rede, en Vlissingen.
BIBLIOGRAFIE:
Pieter van Dam, Beschryvinge van die Oostindische Compagnie
deel I, vol I
Bruijns, Dutch Asiatic Shipping, Vol I
HN Kamer, Het VOC - retourschip
Michael Roberts ed, 18th Century Shipbuilding
R van Gelder & L Wagenaar, Sporen van de Compagnie:
De VOC in Nederland
ed LM Akveld, S Hart, WJ van Hoboken, Maritieme Geschiedenis
van der Nederlanden, Vol II
Karel Schoeman, Armosyn van die Kaap: Voorspel to Vestiging,
1415 - 1651
P van Mil, De VOC in de Kaart gekeken 1602 - 1799
http://www.vocsite.nl/schepen/scheepstypen.html
http://www.vocsite.nl/woordenlijst/index.html
http://www.vocsite.nl/woordenlijst/tuigage.html
The ship Avondster
http://cf.hum.uva.nl/galle/site/whatsnew.html
"Dutch-Asiatic
Shipping in the 17th and 18th Centuries" (DAS)
Top