|
|
Gerrit
Augustijnsz VERMAAK
|
VERMAAK :
DIE SUID-AFRIKAANSE STAMVADER, GERRIT AUGUSTIJNSZ
Verskaf en Navorsing deur NJ (Nico) Vermaak1
vermaak@icon.co.za
Hierdie artikel is grootliks opgeneem in FAMILIA 38, 2001
no1
Tot onlangs het die skrywer en ander bekende medewerkers aan
die genealogie van die familie Vermaak oor 'n aantal brokkies
inligting beskik in verband met ons stamvader, GERRIT AUGUSTIJNSZ
VERMAAK. Daar is egter sover vasgestel kon word nog niks
spesifiek oor hom gepubliseer nie. Die skrywer het 'n tyd
gelede die voorreg gehad om 'n paar uur in die Algemene Rijksarchief
in Den Haag, Nederland deur te bring en was gelukkig genoeg
om 'n klompie aanvullende inligting in Landmonsterrolle en
Skeepssoldyboeke van die VOC te vind. Dit word nou hier weergegee
tesame met inligting uit ander argiefbronne wat tot nou toe
raakgelees is.
Uit
vorige werke2 was dit bekend
dat GERRIT AUGUSTIJNSZ VERMAAK, in ongeveer 1710 as matroos
in die Kaap aangekom het. Hy was afkomstig vanuit Maarssen
('n klein dorpie aan die Vecht-rivier sowat 7 Km noord van
die stad Utrecht) waar hy op 16 Junie 1690 gedoop is in die
kerkgebou van die Nederduits Hervormde Kerk wat vandag nog
in gebruik is. Hier is sy
doopinskrywing,
hier is 'n skildery deur Jan
vd Heiden c 1670 van Maarsen kerk,'n lugfoto
van Maarssen kerk.
SY
VERTREK UIT HOLLAND EN AANKOMS AAN DIE KAAP
Uit die Landmonsterrol van die VOC vir die verslagjaar tot
30 Junie 17103 blyk dit dat
Vermaak op daardie datum een van presies 500 persone in kompanjiesdiens
aan die Kaap was en dat hy as matroos een van 98 persone was
wat in die kategorie "Van Zeevaaert" ingedeel was. Teenoor
die name van elkeen van die persone op die Landmonsterrol
verskyn ook die naam van die skip waarmee, en die jaartal
waartydens, die persoon in die Kaap aangekom het. Daarvolgens
het Vermaak in 1709 aan boord van die skip Huis te Loo
in die Kaap aangekom.
Met hierdie inligting was dit toe moontlik om die Scheepssoldijboek
van die Huis te Loo4
te raadpleeg. Daaruit is bevestiging verkry daarvoor dat Vermaak
(daarin gespel "Vermaack") vanuit Maarssen afkomstig was.
Dit verskaf verder die inligting dat die Huis te Loo
op 10 Junie 1709 vanuit Texel geseil het. Teenoor die datum
9 Desember 1709 word 'n "gagie" of soldy van 54 Gulden tot
Vermaak se krediet in die soldyboek aangeteken ten opsigte
van sy diens aan die Kompanjie tydens die seevaart, bereken
teen 'n besoldiging van 9 Gulden per maand. Volgens 'n inligtingstuk
van die Rijksargief is laasgenoemde datum die een waarop die
skip in die Kaap aangekom het. In die werk DUTCH-ASIATIC SHIPPING5
vind ons bevestiging daarvoor dat die Huis te Loo op
10 Junie 1709 vanuit Texel vertrek het, maar daarin word egter
aangedui dat daardie skip op 6 November 1709 in die Kaap aangekom
het. Daarteenoor vind ons verwysing in Suid-Afrikaanse Argiefstukke6
na die aankoms van daardie skip op 4 November 1709. In die
Joernaal7 waarin die aankomste
van verskeie skepe geboekstaaf is, is daar rondom bovermelde
datums geen vermelding van die Huis te Loo nie. Sy het egter
op 22 Desember 1709 deelgeneem aan 'n kanonsaluut ter ere
van die 49e verjaarsdag van die Goewerneur8.
Sou mens kon aanvaar dat die Huis te Loo wel op 4 of
6 November 1709 hier aangekom het maar dat Vermaak tot die
einde van die volgende vol maand, dws tot 9 Desember op die
skip diens gedoen het?
Die
Huis te Loo het op 26 Desember 1709 na Batavia vertrek
waar dit op 10 April 1710 aangekom het.
Hierdie
skip was 'n pinas met tonnemaat van 875 metrieke ton en is
in 1691 in Amsterdam gebou. Die vaart wat ons stamvader na
die Kaap gebring het was haar sewende (en skynbaar laaste)
vaart en sy het op daardie vaart gestaan onder die kapteinskap
van Broer Hofman. Die bemanning het bestaan uit 136 seevaarders
en 92 soldate. Verder was daar 7 passasiers aan boord, waarvan
6 verstekelinge was. Tydens die vyfmaande lange reis na die
Kaap is 28 van die seevaarders en 18 van die soldate oorlede.
Die Huis te Loo het as lid van 'n vloot van vier uit
Texel weggevaar : op dieselfde dag is die Abbekerk,
Neptunus en Oegstgeest ook daar weg. Hierdie
drie skepies het egter eers 'n lang tyd na die Huis te
Loo in die Kaap aangekom, die Abbekerk eers op 4 Februarie
1710!
DIE
NUWE TUISTE
Wat sou in ons stamvader se gedagtes omgegaan het toe hy in
die Kaap aankom? Uit die reeds aangehalde werk van Leibbrandt
weet ons dat die Suidoos op 3 November "blew so terrifically
that people had enough to do to keep on their legs." Op die
volgende dag het die wind skielik gaan le maar dagbreek het
gepaard gegaan met "strong lightning, and vehemently heavy
thunder with heavy rain."9
Kaapstad
was destyds maar 'n dorpie van skaars 200 geboue en die lewe
van 'n matroos was rof en het min in gemeen gehad met die
geromantiseerde partytjies van Lady Anne Barnard en haar sosiale
kring. Ek wonder of Gerrit 'n ooggetuie was van die argument,
gekoggel en uiteindelike messtekery waartydens die matroos
bekend as "Dolle Dries" deur sy mede-matroos,'n Griek genaamd
Demetrius Petrus doodgesteek is.10
Demetrius se hardnekkige ontkenning van skuld lei daartoe
dat hy aan marteling onderwerp word: op 16 November 1709 is
hy opgehys met 'n 50 pond gewig aan elkeen van sy groottone.
Dit laat hom bieg en op 21 November word hy verhoor en "sentenced
to be shot on the place of execution, and buried on the one
outside, paying all the costs."11
Voor die einde van daardie jaar is nog twee matrose op afsonderlike
klagtes van messtekery verhoor: die een is gehang en die ander
eers gemartel en toe vir ses jaar gevangenisskap in boeie
na Robbeneiland gestuur. Die Kaap was duidelik 'n plek waar
'n man in sy spoor moes trap.
HUWELIKE
EN EERSTE SUID-AFRIKAANSE VERMAAKS
Aan die Kaap het ons Stamvader twee vrouens gehad. Sy eerste
"huwelik", met die voormalige Ceylonese slavin of "vryzwartin"
Catharina van Colombo, het ingevolge 'n Resolusie van
die Kaapse Kerkraad van 9 Desember 1720 egter nooit bestaan
nie.12
Daardie besluit is skynbaar geneem kort na die oorlye van
die Catharina van Colombo en die hoofdoel daarvan was om haar
ander drie kinders op ander burgers te bestel. So is twee
van die kinders by die burger Harem van Marlo en die een wat
nog "suigt" by Otto Ernst van Graan geplaas. Die besluit maak
nie melding van haar seun:
Hermanus Vermaak wie op 25 Junie 1713 as die seun van Gerrit
Augustijnsz gedoop is nie, en uit die feit dat daardie seun
die Vermaak-naam behou het, lei Ds. Hopkins, voormalige argivaris
van die NG Kerk, af dat hy by sy pa en stiefma grootgeword
het.13
Gerrit
Augustijnsz is op 22 Julie 1714 weer (?) getroud, en wel met
Sophia van Eck. Haar van word ook soms as "van Ik",
"van Ek" en as "van Neck" aangegee. Sy is in Amsterdam gebore
as die dogter van Cornelis van Eck en Elisabeth Schmidt. 'n
Enkele seun is uit die huwelik tussen Gerrit en Sophia gebore,
naamlik:
Cornelius, en hy is op 19 Mei 1715 gedoop.
Hermanus
is op 11 Julie 1740 met Eva Bastiaanse getroud. Sy was die
dogter van Johannes Bastiaanse en 'n onbekende oosterling.
Uit hierdie huwelik is ses kinders gebore, waarvan twee seuns
was. Die een seun (b1c5 Johannes Adriaan) het, sover tot dusver
bekend, net 'n enkele kind, en 'n dogter daarby, nagelaat.
Die ander seun (b1c4 Hermanus Augustinus) het 'n Vermaak-nagegeslag
tot gevolg gehad waarvan 'n groot deel later in die Molteno-omgewing
aangetref word. Hierdie groep is egter baie kleiner in getal
as die nageslag van Cornelius.
Cornelius,
(wat volgens sy vrou se sterfkennisgewing Cornelius Tobias
geheet het) is op 23 of 28 Maart 1745 getroud met Susanna
Elisabeth Scheepers (op sommige plekke ook as Susanna Maria
aangedui). Hulle het nege kinders gehad, waarvan ses seuns
was. Die oudste seun (b1c3 Cornelius Tobias) het wasdom bereik
en is getroud maar het geen nageslag nagelaat nie. Die heel
jongste (b2c9 Stephanus Jeremias) is skynbaar jonk en ongetroud
oorlede. Die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse Vermaaks
stam dus van die ander vier seuns af. Van b2c5 Gerrit se afstammelinge
vind mens later 'n groot klomp in die Vrystaat veral in die
Brandfort-omgewing en ook in die Uitenhage en Steytlerville
omgewings. Daar is heelwat van b2c6 Jacobus Stephanus se afstammelinge
in Natal veral rondom Pietermartitzburg en Vryheid/Utrecht.
Die afstammelinge van b2c7 Johannes tref ons hoofsaaklik in
die Gamtoosvallei aan, maar ook in Humansdorp en Uitenhage.
Die nageslag van b2c8 Coenraad is sterk verteenwoordig in
Noord-Natal en veral rondom Helpmekaar maar ook in die Suid-oos
Transvaal. Daar was ook 'n groep Dorsland-trekkers onder Coenraad
se afstammelinge. Die Vermaaks is egter nie vasgeketting nie
en het die wereld vol rondgetrek sodat geboorteplek beslis
nie noodwendig 'n linie-verband aandui nie.
VRYBURGER
VERMAAK
Die Scheepssoldyboek van die Huis te Loo vermeld verder
dat ons stamvader vir die volgende ongeveer vier jaar as matroos
aan die Kaap diens gedoen het totdat hy op die laaste dag
van Oktober 1713 'n vryman, dws 'n vryburger, geword het.
Sy
naam kom voor in die "GENERALE MONSTERROLLE 1701-1715"14
vir die jaar 1710/1711 onder die opskrif "Van de Zeevaart",
maar in die opgawes vir die verslagjare 1712 - 1715 kom sy
naam nie voor nie. Vir die vier jaar 1716 tot 1719 en vir
die jaar 1722 vind ons wel weer sy naam in die "Monsterrolle
Vrije Lieden 1702-1725"15
In laasgenoemde vyf opgawes word sy vrou as Sophia van Ek
aangetoon. In die opgawe van 1725 verskyn sy naam nie, maar
die naam van Catharina van Colombo kom wel daarin voor. Die
afleiding dat haar kinders na haar dood op aan die sorg van
ander toevertrou is, is dus moontlik nie korrek nie.16
Die skrywer het ook gekyk na die VOC Landmonsterrol van 1716.
Soos verwag kom Gerrit Augustijnsz se naam nie daarin voor
nie. Dit is egter interessant om daarop te let dat die totale
aantal persone in Kompanjiesdiens in hierdie jaar gestyg het
tot 697 vanaf die 500 van ses jaar tevore.
Die Rol van Vryburgers vir die jaar 1716 gee verdere inligting
oor die bevolking aan die Kaap. Vir die gebiede Drakensteyn
en Stellenbosch word die bevolking van persone wat buite die
kompanjiesdiens gestaan het, soos volg aangegee:
"Mans 322
Vrouens 160
Soons 258
Dogters 265
Knegte 30
Slave 809
Slavinne 108
Slave jongetjes 50
Do wijfjes 49"
Ander
bates van die Vryburgers word ook vermeld en sluit in 1379
perde, 8667 beeste, 303 varke en 1 405 300 wynstokke. Gerrit
Augustijnsz se naam kom voor in hierdie Rol tesame met die
van sy vrou, Sophia van Eck (daar gespel "van Ik") met vermelding
dat hulle een seun gehad het. Hy maak egter net 'n uiters
geringe bydrae tot die bates van die Kaap: geen slaaf, bees,
perd of wingerdstok nie, net maar 'n snaphaan en een ander
ding wat skrywer nie kon ontsyfer wat dit was nie. Die naam
van "Catharina van Hurt (?) Kolombo" kom ook op dieselfde
rol voor. Teenoor haar naam word geen man vermeld nie maar
dit dui wel aan dat sy vier seuns gehad het. Een van hulle
is waarskynlik die seun van Gerrit.
As Vryburger het ons Stamvader skynbaar 'n bestaan gemaak
as messelaar.17
Ons sal seker nooit weet of enige van sy handewerk vandag
nog te sien is nie, maar die argiefbronne is duidelik dat
dit nie altyd of enduit met hom goed gegaan het nie.
Op
26 Oktober 1722 maak hy homself skuldig aan wat vandag in
die omgangstaal as AWOL bekend sou staan ("sig van sijn wagt
hebbende geabsenteert" 18).
Vir hierdie oortreding verskyn hy op 4 Januarie en 1 Februarie
1723 voor 'n burgerlike krygsraad en word aan hom 'n boete
opgele. Maar aangesien "denselve Vermaak hartneckig blijf
weigeren deselve te betalen, aals meede dat gedaagte gene
vaste wooning nog eenige de minste vaste of tilbare goederen
hier is hebbende, waar uijt de boete per excecutie soude konnen
gehaalt werden,..." versoek die Burgerkrygsraad die Politieke
Raad om te beveel dat Vermaak weer in Kompanjiesdiens opgeneem
word.
Die Politieke Raad het oor die beskuldigde geen goeie woord
te se gehad nie en voldoen aan die versoek. Die Raad verwys
na Vermaak se skandelike verstoting van sy eie huisvrou en
kind, die onnatuurlike en harde behandeling haar aangedaan
en na "de dagelijxe excessen in den drank, desselfs exemplaire
luij en leedigheijt, mitsgrs. de notoire ongehoorsaamheijd
tegens sijne wettige burger officieren..." Omdat sulke gedrag
'n oop deur sou skep tot navolging van dergelyke ergerlike
handelinge, word Vermaak gevolglik van sy burgerskap ontneem,
en weer in die diens van die E-kompanie opgeneem as matroos.
WEER
VOC MATROOS
Op 2 Februarie 1723 tree hy gevolglik gedwonge weer in Kompanjiesdiens.
Op 7 Junie 1723 word hy in die Scheepssoldyboek hierbo vermeld
gekrediteer met sy gagie ten opsigte van diens op die skip
MIDDELWOUD oor die periode van 4 maande en 5 dae sedert
2 Februarie. Volgens DUTCH-ASIATIC SHIPPING19
het hierdie skip op 24 Februarie 1723 onder die kapteinskap
van Kornelis Braams uit die Kaap gevaar en op 9 Junie 1723
in Batavia aangekom. Weereens kan die 2 dae verskil tussen
die besoldigingsdag en die aankomsdatum nog nie verklaar word
nie.
Kort na Vermaak aan boord van die Middelwoud gegaan het, doen
sy vrou, Sophia van Ek by die Politieke Raad aansoek dat die
helfte van sy soldy aan haar uitbetaal moet word.20
Sy kla dat sy van die begin van haar huwelik met Vermaak onverdraaglike
slegte behandeling gehad het, en dat dit wereldkundig is,
sodanig dat sy dit nie langer kon of wou verdra nie, en hom
gevolglik verlaat het. Sy kla dat hy nooit 'n stuiwer betaal
het van die 3 riksdalers wat hy, ingevolge 'n vonnis, per
maand aan haar moes betaal het nie. Die Politieke Raad het
egter geen presedent van die aard gehad waarvolgens hulle
kon optree nie, en verwys die aangeleentheid na die "Hooge
Indische Regeeringe" met 'n aanbeveeling dat dit gunstig oorweeg
sal word.
Gedurende
1723 volg daar nog twee kredietinskrywings in die skeepssoldyboek
maar die is moeilik ontsyferbaar. Dit wil egter voorkom of
Vermaak eers teen die einde van November 1723 teruggekom het
in die Kaap. In 1724 verdien hy nogeens twee kredietinskrywings,
een ten opsigte van diens aan die Kaap en een ten opsigte
van diens op 'n skip wat moontlik die Datvoor Visaeren
geheet het, maar daardie naam het ek nog nie in ander bronne
teegekom nie.
TERUG
HOLLAND TOE
Op 18 Februarie 1727 word Vermaak skynbaaar uit kompanjiesdiens
aan die Kaap ontslaan en op 15 Junie 1727 is die laaste kredietinskrywing
in die Skeepssoldyboek gemaak tw. ten aansien van 3 maande
en 7 dae se diens op die Slot Aldegonde. Volgens DUTCH-ASIATIC
SHIPPING21 is hierdie jag
met 'n tonnemaat van 1160 ton onder die kapteinskap van Leonard
de Rijke op 26 Februarie 1727 uit die Kaap uit weg en het
sy op 20 Junie 1727 in Texel aangekom. Weereens kom die datums
amper ooreen maar is daar tog 'n verskil wat die skrywer nog
nie kan verklaar nie.
Aan
die debietkant van die Scheepssoldijboek vind ons na daardie
datum nog twee inskrywings wat die skrywer ook nie kon ontsyfer,
tw. teenoor die datums 1 Julie 1727 en 21 Januarie 1728. Onder
hierdie twee inskrywings verskyn telkens die woorde " 't merk
X van Gerrit Augustijn Vermaak". Soos so baie van sy tydgenote
was ons Stamvader dus ook ongeletterd.
DIE
SPOOR LOOP DOOD
Wat na 1728 van Gerrit Augustijnsz Vermaak geword het sal
seker ten minste 'n tyd lank nog 'n geheim bly. Dit kan egter
aanvaar word dat hy voor 1737 oorlede is. In Mei 1737 doen
Tobias van Neck by die Politieke Raad aansoek vir verlof om,
wanneer nodig en vir solank as wat dit nodig mag wees, sy
suster Sophia, die weduwee van Gerrit Vermaak, in 'n kamer
in sy eie huis toe te sluit. Die doel met hierdie drastiese
stap word soos volg in die Resolusies van die Politieke Raad
aangeteken:
"...om dus voor te komen de uitwerkselen van het ergerlijk
gedrag,en de schandaalen waaraen sig gemelte Sophia van Neck,
voornaamlik in dronkenschap, tot spot en smaed van ider, langs
straaten en weegen komt bloot te stellen."22
SLOT
Met 'n begin soos die wat die Vermaaks in Suid-Afrika gehad
het kon dit daarna eintlik net beter met ons gaan. Ek wens
daar was iewers 'n beroemde skrywer of filosoof wat iets treffends
gesê het met die strekking dat jy met familienavorsing altyd
op risiko is om goed te ontdek wat maar liewers vergete moes
bly. Ek hoop ons wat nou leef se nageslag sal daardie versugting
gespaar bly!
1.
Posbus 668,Johannesburg 2000.E-Pos:vermaak@icon.co.za Die
skrywer is 'n patentprokureur met kwalifikasies BSc(Chemie
en Fisika)en LLB. Genealogie en geskiedenis is suiwer amateur-belangstellings
en lesers word gevra om hierdie stukkie in daardie gees te
aanvaar.
2. de Villiers-Pama, Geslagsregisters van ou Kaapse Families.
Vermaak N, Genealogie Vermaak
Theunissen N H, Die Brandwag, 2 Augustus 1946
3. Rijksargief, Den Haag, toegangsnommer 1.04.02, Inventarisnommer
11558 & 11559
4. RIJKSRGIEF TOEGANGSNOMMER 1.04.02, INVENTARISNOMMER 5597.
5. RPG GROTE SERIES Nrs 166,167 p 304-305
6. Volume 4, p 125 onder die datum 4 Februarie 1710
7. Gepubliseer deur H.C.V. Leibbrandt (red) "PRECIS OF
THE ARCHIVES OF THE CAPE OF GOOD HOPE. JOURNAL, 1699-1732"
(Hierna genoem "Joernaal")
8. JOERNAAL p 208
9. JOERNAAL p 204
10. JOERNAAL p204-205
11. JOERNAAL p 206
12. Hoge J., Bydraes tot die geslagsregisters van ou Kaapse
Families
13. Private korrespondensie 5.5.1980
14. VC VOL 40 p178 Kaapse Argiefbewaarplek
15. VC vol 49 Kaapse Argiefbewaarplek
16. Die inligting in hierdie paragraaf is deur my pa, H.P.Vermaak
van Naboomspruit opgespoor.
17. Resolusies van die Politieke Raad, Deel IX p115 vn 119.
18. Suid-Afrikaanse Argiefstukke, Kaap, nr 6, p 246.
19. p366-367
20. Suid-Afrikaanse Argiefstukke, Kaap, Deel 6, p 250-251
21. p 280-280
22. Resolusies van die Politieke Raad, Deel IX 1735-1739 p
115. Ek is dank verskuldig teenoor J F (Atlas) Vermaak wie
hierdie Resolusie opgespoor en onder my aandag gebring het.
Navorsing
deur:
Nico Vermaak