Skip to main content

logo new

Surnames V to Z

WASSERMANN Johann Georg

DIE WASSERMANN-FAMILIE. Tydens die Internasionale Genealogiese Kongres, gehou in München in 1974, het my goeie vriend Herr Hans-Georg Bleibaum, van Hameln Wes-Duitsland, aangebied om te probeer om inligting van Johann Georg Wassermann, die stamvader, uit Oos-Duitsland te kry. Volgens die rekords het hy oorspronklik van Henneberg gekom wat destyds (1974) nog in Oos-Duitsland was. Na die kongres het Herr Bleibaum n versoek vir inligting van die stamvader in n Wes-Duitse genealogiese publikasie laat plaas. Hy sou dien as n front om vir my die inligting te kry aangesien geen navorser in Oos-Duitsland enige kontak met 'n navorser in Suid-Afrika mag hê nie. Hulle is wel toegelaat om met navorsers in Wes-Duitsland kontak te hê. Vroeg in 1975 het Herr Bleibaum n brief van Frau Renate Nehry ontvang waarin sy vir hom die gevraagde inligting stuur. Sy het die inligting oor die stamvader opgespoor in die doopregisters van Kaltenlengsfeld. Hierdie dorpie was vroeër in Oos-Duitsland, naby die grens met Wes-Duitsland en ongeveer 30 kilometer van Henneberg. Gelukkig het die geboorte/doopregisters van Kaltenlengsfeld van die jaar 1585 behoue gebly,wat dit vir haar moontlik gemaak het om die voorouers van die stamvader op te spoor. Dit was met groot vreugde dat daar vroeg in 1998 kontak gemaak is met Herr Walter Wassermann van Kaltenlengsfeld. Hy is die laaste Wassermann wat nog in die dorpie woon en is gebore in Julie 1927. Hy skryf dat die dorpie reeds 1200 jaar oud is en dat daar vandag 550 inwoners daar is. Op die poskaart van die dorpie wat hy my gestuur het word die kerk gewys en ek het hom spesifiek in 'n brief gevra wanneer die kerk gebou is. Hy antwoord dat hy nie weet wanneer die gebou as sulks opgerig is nie maar hy weet dat die binnekant voltooi is in 1721/22. Ons stamvader is beslis in hierdie kerk gedoop op 13 Mei 1748. Destyds is pas gebore babas dieselfde dag wat hulle gebore is, gedoop, dus is daar net een datum in die registers opgeteken. Johann Georg se vader, Johann Georg Caspar Wassermann is gebore 1 Julie 1719 in Kaltenlengsfeld en is daar op 81 jaar en 3 maande oorlede op 30 Oktober 1800. Sy moeder was Anna Maria Häuning, gebore Augustus 1720 en oorlede in Kaltenlengsfeld op 85 jaar en enige weke op 28 September 1805. Daar was geen verdere inligting oor sy moeder se voorgeslagte nie.

Johann Georg Caspar was 'n buite egtelike kind en die naam van sy vader is onbekend. Sy moeder was Ursula Maria Margaretha Wassermann en sy is gebore in Kaltenlengsfeld 3 April 1691 en is daar oorlede 14 November 1766 op 74 jaar 7 maande en 11 dae. Ursula Maria Margaretha se vader was Hans Heinrich Happ, van Meiningen, en haar moeder was Ottilia Wassermann, gebore 15 Julie 1666, in Kaltenlengsfeld, en daar oorlede 3 November 1739 op 73 jaar en 3 maande. Hulle was nie getroud nie. Ottilia se vader was Christoph Wassermann en hy is gebore omstreeks 1625.Hy trou 4 April 1649 met Martha Lorenz,gebore Kaltenlengsfeld, 7 Desember 1626. Geen verdere inligting is oor hulle beskikbaar nie. Christoph Wassermann is die verste terug wat die Wassermannlyn geneem kon word. Hierna volg Martha Lorenz se lyn. Martha Lorenz se vader was Georg Lorenz en haar moeder was Margaretha Höfel. Geen geboorte- of doopdatums is van hulle bekend nie en net hulle troudatum, 15 Februarie 1626 in Kaltenlengsfeld, kon opgespoor word. Georg Lorenz se ouers was Bastian Lorenz en Margaretha Anacker. Al gegewens van hulle wat daar is, is net die datum naastenby wanneer hulle getroud is, vermoedelik na die Paas- naweek in 1598. Margaretha Höfel se vader was Wolf Höfel en hy is omstreeks 1565 gebore. Sy vrou was Els Möller en hulle is ongeveer 22 Junie 1590 getroud. Els Möller se vader was Hans Möller van Rossdorf.

Johann Georg Wassermann.(die Stamvader)
Gebore: 13.5.1748 te Kaltenlengsfeld, Thuringië, Duitsland.
Oorlede: ? die plaas Moordkuyl/Hertenbeest,distrik George.
Getroud met Maria van der Wat.
Gedoop: 8.10.1752.
Datum getroud: 3.11.1776.

Kinders.
B1 Anna Margaretha. Gebore: Gedoop: 30.11.1777 Trou 22.5.1796 met Philip Fourie.Sy is oorlede 26.6.1853 op die plaas van haar seun, Rietfontein, distrik Sondagsrivier.
B2 Johann Wilhelm. Gebore: Gedoop: 30.9.1780 Hy het nooit getrou nie.
B3 Hendrik Christiaan. Gebore: Gedoop: 1.9.1782 Hy het nooit getrou nie.
B4 Johann Georg. Gebore: Gedoop: 9.4.1784 Getroud met Susanna Magdalena du Preez.
B5 Martha Maria. Gebore: Gedoop: 5.12.1787 Trou 1.5.1803 met Michiel Smit, van Swellendam.
B6 Johanna Salomina. Gebore: Gedoop: 22.11.1789 Sy was ook bekend as Johanna Hendrina en met haar huwelik in Februarie 1809 toe sy met Joseph Wilhelm Molendorff, van ,Berlyn trou, is haar naam by die huwelik opgegee as Johanna Andrica.
B7 Catharina Elizabeth. Gebore: Gedoop: 14.10.1792 Sy trou 5.12.1813 te George met Lourens Salomon Erasmus.
B8 Cornelia Margaretha. Gebore: Gedoop: 16.5.1796 Sy was getroud met Franciscus Massyn en hulle het gewoon op hulle plaas Klein Keurfontein in die veldkornetskap van Boven Olifantsrivier. Sy is oorlede 17.6.1868 op die plaas. (72jaar/9maande/27dae). Hulle het geen kinders nagelaat nie.

Die stamvader.
Die stamvader het as 'n jong man van 18 jaar sy ouerhuis verlaat en na Amsterdam geloop om daar by die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie aan te sluit. In 1767 het hy as soldaat met die skip "Overnes" by die Kaap aangekom.Omdat dit 'n tyd van vrede was is hy soos baie ander soldate as kneg deur die Kompanjie aan boere uitgehuur. In Oktober 1776 het hy sy ontslag gekry, burgerregte gekry, en enkele weke daarna, op 3 November 1776, met die 24 jarige Maria van der Wat getroud.

Op 10 Maart 1783 het hy die weidingsregte van die plaas "De Moordkuyl" gekry.Volgens die “Kaapse Argiefstukken” is hy op 8 Julie 1783 aangestel as 'n "Wagtmeester"vir een van die distrikte in die Landdrosdistrik van Swellendam; vermoedelik in die distrik waar sy plaas was.

Dit het nie altyd met sy boerdery goed gegaan nie want in 1788 was hy twee jaar agterstallig met sy huurgeld maar het dit op 22 Oktober 1788 met vee vereffen. Die agterstallige bedrag, en die aantal vee wat hy in ruil gegee het om dit te vereffen, word nie genoem nie.

Dit is nie bekend wanneer Johann Georg, of sy vrou Maria oorlede is nie, maar dit word aanvaar dat hulle wel op die plaas "De Moordkuyl" begrawe is. Sy seun, Johann Georg, het die plaas ge-erf. Dit is later HERTENBEEST genoem en vandag word dit HARTEBEESTKRAAL genoem.

JOHANN GEORG WASSERMANN. DIE STAMVADER.

Johann Georg het as 18 jarige jongman sy tuiste in Kaltenlengsfeld, Thuringië, verlaat en na Amsterdam gegaan waar hy by die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie as soldaat aangesluit het. Vroeg in 1767 het hy Holland met die skip OVERNES verlaat en na 'n reis van enkele maande die Kaap De Goede Hoop bereik. Alhoewel hy as soldaat in diens geneem is, is hy by sy aankoms as kneg op een van die plase uitverhuur. Al die soldate wat so geplaas is,sou, indien daar 'n aanval op die Kaap wees, dadelik teruggeroep word om hul militêre pligte na te kom.In Oktober 1776 het hy sy ontslag as soldaat gekry en burgerregte is aan hom toegeken. Enkele weke na sy ontslag het hy op 3 November 1776 met Maria van der Wat getroud.

SY PLASE.

Vermoedelik het hy die plaas gekry wat vroeër deur Ignatius Ferreira in vrye erfpag bewoon is. In 1748 het Ferreira versoek dat die plaas, "De Hartbees Kuyl over de Gouritz Rivier", in vrye erfpag aan hom toegeken word aangesien hy reeds 'n geruime tyd die plaas besit het. Daar is aan sy versoek voldoen en hy het op die plaas gewoon tot sy dood op 24 Augustus 1772.

Daarna was die plaas vermoedelik onbewoon totdat Johann Georg na sy ontslag, en sy huwelik, daarop gaan woon het.

Hy het eers op 10 Maart 1783, 'n permit vir die plaas gekry en dit het gelees, "Omme voor des Tyd van een geheel jaar met zyn vee te mogen gaan leggen en wyden op de plaats genaamd de moord Kuyl;, geladen de Bottelierskop by de haartes beeste Craal mit aldaar niemand leggende". Dit is duidelik dat die plaas nie onder sy regte naam vir Johann Georg geregistreer is nie. Dit is bekend dat destyds die registrasie van plase onnoukeurig en laks was. Hy het die plaas "De Hartbeest Kuyl",wat voorheen deur Ignatius Ferreira in vrye erfpag bewoon is, gekry maar dit is in 1783 as "De Moord Kuyl" geregistreer. Die Moordkuyl is 'n riviertjie aan die oostelike grens van Hartbeestkraal en vloei in die Klein Brakrivier in.

Op 8 Julie 1783, is hy aangestel as een van drie Wachtmeesters vir die Swellendam-distrik.

Hierdie bewering van verkeerde registrasie word gestaaf deur die landkaart wat luit.,J C Frederici en kadet J Jones in 1789/90 opgestel het van al die plase, met die name van hul eienaars, van die Swartkopsrivier in Algoabaai in die Ooste, tot by Kaap Agulhas in die Weste. Volgens hierdie kaart is Johann Georg die eienaar van plaasnommer 108, HERTENBEEST, soos dit destyds genoem is. Na sy dood is die plaas aan sy seun Johan Georg (B 4), gedoop 9.4.1784, toegeken en daarna aan Johan Georg se seun Hercules Petrus, (B 4- C 8), gebore 31.7.1816. Toe Hercules oorlede is op 22 Junie 1893, is op sy sterftekennis genoem dat hy gebore is op Hartbeeskuil.

Dit het nie altyd met Johan Georg se boerdery goed gegaan nie want in 1788 was hy twee jaar agterstallig met die huur van Moordkuyl. Dit het hy op 22 Oktober 1788 met vee vereffen. Die agterstallige bedrag, en die aantal vee gegee in ruil daarvoor, word nie in die weidingspermit genoem nie.

Dit is nie bekend wanneer Johann Georg en sy vrou oorlede is nie maar dit kan wel aanvaar word dat hulle op Hertenbeest oorlede en begrawe is.


Navorsing:
Frans Fouche
http://www.wasserman.co.za/DIE%20WASSERMANNFAMILIE.doc

 

 



 

  • Hits: 14690

Stamouers.com is part of the eGGSA.org web site
Material from this website may be used if the author and eggsa.org are acknowledged
Privacy policy