Surnames V to Z

VAN DYK Joost Pieterse en Burgert Pieterse

a1 Joost Peterse van Dijk, ca. 1662 (moontlik Isberg, land onbekend) †01.02.1718 (Tafelvallei, Kaapstad)
x 04.03.1696 te Kaapstad met Catharina (Trijntje) Hendriks Verburgh (†ca. 1699, te Kaapstad), 

b1 Burgert ≈18.05.1697 te Kaapstad
b2 Hendrik ≈19.04.1699 te Kaapstad

en Elisabeth (Lysbeth) van Wijk (†1720)

b3 Willem ≈24.04.1701 te Kaapstad
b4 Johannes ≈14.06.1705 te Kaapstad

en Helena Siewers (†1727)

b5 Sybrand *ca. 1706-1712 te Kaapstad
b6 Andries ≈19.08.1714 te Kaapstad
b7 Joost ≈13.09.1716 te Kaapstad
b8 Sophia ≈20.03.1718 te Kaapstad

a2 Burgert Pieterse van Dijk, *ca. 1664 (moontlik Isberg, land onbekend) †09.07.1720 (aan die Kaap)
en Maria Matthijse (†1697)
b1 Maria Eli/Pieterse van Dijk, ≈05.09.1694 te Kaapstad x 12.02.1701 te Stellenbosch met Anna Greeff, ≈07.10.1685 te Kaapstad, †1711
b2 Susanna *ca. 1702
b3 Matthijs ≈07.09.1704 te Kaapstad
b4 Adam ≈18.07.1706 te Stellenbosch
b5 Burgert ≈01.09.1709 te Stellenbosch
b6 Tobias ≈28.06.1711 te Kaapstad xx ca. 1712 met Helena du Toit, ≈08.05.1695 te Drakenstein (geen kinders)

Die laaste gesaghebbende Geslagsregister van die broers Joost en Burgert van Dyk het in 1975 verskyn.[1][2] en word deur meeste genealoë gebruik vir inligting oor die eerste twee Van Dyk-stamvaders. Sedertdien het die gemak waarmee geskiedkundige dokumente bekom kan word, hetsy digitale kopieë of transkripsies, dit moontlik gemaak om die feite noukeurig na te gaan en 'n beter heropbouing van hierdie stamvaders se lewens te skep. Onderstaande poog nie om 'n volledige geskiedenis weer te gee nie, maar slegs 'n oorsig van die belangrikste feite en gebeurtenisse.

Joost Pietersz en Burgert Peterse het in 1686 as soldate by die V.O.C. aangesluit, soos duidelik uit die skeepsoldyboek van die Huis te Zilverstein.[3] Dit is dan dadelik ook duidelik dat dit hier om twee volwasse mans gaan en nie twee jong seuns (soos die 1975-geslagsregister beweer)[4] nie, daar jong seuns nie as soldate aangestel is nie. Die gemiddelde leeftyd van soldate wat by die V.O.C. aangesluit het, was 24 jaar, wat 'n geskatte geboortedatum gee van ca 1662.[5] Dit is ook bekend dat soldate van die V.O.C. geen aansien geniet het nie en dat dit een van die slegst betaalde werke beskikbaar was - werklik 'n laaste uitweg vir mense wat geen alternatief gehad het nie.[6]

Die broers het op 24 Mei 1686 vanaf Texel, Nederland, geseil en op 26 September 1686 voet aan wal aan die Kaap gesit.[7] Hierdie aankomsdatum verskil sterk van die 1691-datum in die 1975-register[4] en is waarskynlik op besluit omdat die twee broers eers vanaf hierdie datum op die vryburger-monsterrolle (‘n soort sensusopname) verskyn.[8] Vóór die tyd was hulle steeds in diens van die V.O.C. aan die Kaap, maar beide het op 28 Desember 1690 hul vryburgerskap verkry.[3]

Die geslagsregister noem ook dat hul met hulle vader na Suid-Afrika gekom het.[4] Die Jan van Dyk waarna die 1975-geslagsregister verwys as hul vader, was waarskynlik Jan Jacobsz van Dijk (in sommige rekords slegs Jan van Dijk, sonder patroniem), wat vanaf 1690 in die monsterrolle verskyn - dikwels saam met sy compagnon (vennoot) Pieter Pietersz en later saam met sy vrou Anna Jansz/Cornelisz. Aangesien hy op daardie stadium die enigste Van Dijk-vryburger aan die Kaap was, kan mens verstaan dat daar aangeneem was dat hy die vader van die broers was, seker as mens aanneem dat Joost en Burgert ook die familienaam Van Dyk gebruik het. In werklikheid het Joost en Burgert egter aan die begin slegs hul patroniem Pieters/Peters gebruik en het hulle eers in 1699-1700 die familienaam Van Dijk aangeneem.[9] Daar blyk in werklikheid geen verwantskap tussen Jan Jacobsz van Dijk en die broers Joost en Burgert te wees nie.

tabel jooste
Bostaande tabel wys hoe die broers mettertyd die familienaam Van Dyk aangeneem het, met verwysing na sommige van die dokumente waarin hulle name verskyn. Hulle was jare slegs onder hul patroniem bekend, en Joost, vir 'n tydperk, ook onder sy toponiem.

So ook is hul "suster", in die register Anna van Dijk, 'n sameflansing van twee werklike persone, dog nie een van hulle was in werklikheid Joost en Burgert se suster nie. Die doopdatum wat in die geslagsregister verskyn as 29 Maart 1680, is in werklikheid dié van Jan Jacobsz van Dijk se vrou, wat op 29 Maart 1680 aan die Kaap gedoop is as die dogter van Jan Cornelis Bombam en Catarina Harmens.[10]

Verder meen die 1975-geslagsregister dat die "gesin" (Joost, Burgert, hul pa en hul suster), afkomstig was van Izenberge, Vlaandere.[4] Nog die broers, nóg hul vermeende suster of pa, kom in die dooprekords van hierdie dorpie voor.[11] In geen van die oorblywende Kaapse dokumente word egter gespesifiseer waar presies die broers vandaan kom nie (geen land of provinsie word genoem nie). Izenberge, Vlaandere, het wel sin gemaak, as mens die volgende aannames aanvaar: a) dat dit 'n gesin was, wat reeds van die begin af die familienaam Van Dyk gebruik het en dus b) waarskynlik uit België of Nederland afkomstig was. Derdens is Izenberge nie al te vêr van Zeeland af nie, waarvandaan die V.O.C. dikwels geseil het (en dus waarskynlik die broers ook).

Aangesien bostaande aannames foutief is, is dit ook rede om Izenberge, Vlaandere in twyfel te trek. Veral as mens verder in ag neem dat a) die twee broers vanaf Texel geseil het, heeltemal ten Noorde van Nederland,[3][7] b) die name Joost en veral Burgert byna nie voorgekom het in België in hierdie tydperk nie[12] c) daar verskeie dorpies is met soortgelyke name, wat net sowel hul plek van herkoms kon wees, van Isbergues in Frankryk (Isberge in Nederlands), tot verskeie Eisenberg-herkomste in Duitsland of gewese gebiede met die naam Isberg in Skandinawië. Dit is ook opmerklik dat Joost telkens sy naam as "Jest" geskryf het. Was dit bloot 'n "inkorrekte" weergawe, of 'n beter rekord van hoe sy naam uitgespreek is (wat deur die Nederlanders as "Joost" vernederlands is en genoteer is)? Ook Burgert se naam is die eerste ±16 jaar op sulke verskillende wyses genoteer (van Burgert tot Borchard tot Burchaert), dat mens wonder hoe hy dit self uitgespreek het.

Die 1975-Geslagsregister vertel ook dat die twee broers hul, "nes hul pa", op die boerdery sou toelê[13], maar in werklikheid het hulle, nadat hulle vryburgers geword het, houtkappers geword. In 1691 het hulle van die Politieke Raad toestemming gekry om saam hout te gaan kap in die Kompanjie se bos in Houtbaai.[14] Die beskikbare getimmerde hout was "slordig en onordentlik" en daar is gevrees dat daar binnekort 'n tekort aan hout sou wees om mee te bou. Die broers sou vir die volgende vyf jaar lank alleenreg hê om in Houtbaai hout te kap en te verwerk, onder bepaalde voorwaardes met betrekking tot die hoeveelheid hout en gestelde pryse.

Soos reeds genoem, is die Anna wat in die 1975-Geslagsregister verskyn 'n sameflansing van die rekords van Anna Cornelisz/Jansz en Maria Eali. Die flater is nie slegs te wyte aan die genoemde 1680-dooprekord nie, maar ook twee inskrywings van die vrouens wat afgewyk het van die norm.

In 1706 het Anna Cornelisz/Jansz, ná die dood van Jan van Dijk, met Jan Barentse Sieker/Sicher hertrou. In die trourekord word daar na haar met haar getroude van verwys as "Anna Van Dijk",[15] terwyl vrouens in die tyd nie hul mans se van aangeneem het ná hul troue nie. In ander dokumente word daar wel na Jan Barentse se vrou verwys as Anna Jans of Anna Cornelisz, wat bewys dat dit hier om dieselfde Anna gaan.[16]

Die tweede persoon is Maria Eli/Eal, wat in 1694 buite die eg gebore is aan Maria Matthijsen (eertydse vrou van Johannes Rijgman/Ryckman).[17] Alhoewel die kind se vader nie genoteer is nie, is dit wel bekend dat Maria Matthijsen rond hierdie tyd werksaam was as huishulp van Burgert Pieterse en dat hy ná haar dood in 1697 haar eiendom geïnventariseer het vir die Weeskamer.[18]

Hierdie selfde Maria Eli het op 18 Februari 1714 te Stellenbosch getrou met Johannes Bastiaans, die seun van Francois Bastiaans en Anna Maria de Leeuw. Haar naam is egter genoteer as Maria Pieterse van Dijk.[19] Dat dit hier om dieselfde persoon gaan, word duidelik in kwitansies van die Weeskamer, waarin daar in twee aparte inskrywings na Johannes Bastiaans se vrou verwys word as Maria Elij.[20] Later, met die doop van haar kind Francois in 1716, word haar naam genoteer as Anna Maria Pieterse van Dijk. Hierdie teenstrydigheid kan toegeskryf word aan 'n verwarde pastoor, aangesien een van die getuies 'n baie soortgelyke naam gehad het: Anna Maria Pieterse de Leeuw, Maria se skoonma.[21]

Hierdie verwysing na Marie Pieterse van Dijk as Anna Maria Pieterse van Dijk en die vroeër verwysing na Anna Jansz as Anna Van Dijk, het waarskynlik vir J.H. van Dyk rede gegee om in die 1975-Geslagsregister aan te neem dat hulle dieselfde persoon is. Maar in werklikheid wil dit blyk dat daar geen Anna van Dijk, suster van Joost en Burgert was nie, maar slegs Maria Eali/Pieterse van Dijk: Burgert se buite-egtelike dogter saam met Maria Matthijsen, wat voor haar troue toestemming van haar vader gekry het om die familienaam te dra. Gesien dat Burgert ná Maria Matthijsen se dood haar boedel geïnventariseer het en hul dogter uiteindelik erken het, dui op 'n verhouding wat nie heeltemal sonder gevoel was nie.

Om hulle te help om hout te kap en te verwerk, het beide Joost en Burgert soldate gehuur van die V.O.C. Uit die kontrakte leer ons dat Joost ietwat kon skryf - of ten minste sy eie naam kon skryf. Burgert het aanvanklik geteken met 'n kruis, maar later geleer om die letters B P te skryf; eers met moeite, maar later meer selfversekerd.
handtekening Burgert Pieterse 1694
dit B P is de handteikening / van Borchard Pieters / voorn. [voorafgenoemde]. Uit 'n V.O.C.-kontrak van 1694 (CJ 2872-33).

handtekening Burgert Pieterse 1711
B P. Uit 'n V.O.C.-kontrak van 1711 (CJ 2875-44).

handtekening Joost Pieterse 1690s

Joost se handtekening - Jest Peters - uit 'n V.O.C.-kontrak uit die 1690's (CJ 2872-54).

Burgert en 'n ander vryburger, Paul Heins, het beide omstreeks 1698 grond in die Groene Kloof in leenbruik gekry van Simon van der Stel en sy seun Willem Adriaan. Die grond was nie slegs as weiland vir vee bedoel nie, maar daar was ook verwag dat hulle die grond sal ploeg en gewasse sou aanbou. Hulle moes ook sorg vir die nodige geboue en krale.[22] Burgert het dus sy houtbyl neergelê en noorwaarts gegaan, maar Joost het nog tot ongeveer 1702 as houtkapper gewerk.[23]

Ongeveer dieselfde tyd as wat Burgert se eersgeborene haar verskyning gemaak het, het Joost Catharina Verburgh leer ken, en die twee is op 4 Maart 1696 in Kaapstad getroud.[24] Catharina se herkoms kon nog nie uitgepluis word nie, maar 'n slawe-afkoms lyk nie waarskynlik nie.[25] Sy was ook bekend as Trijntje Hendriks[26], wat daarop dui dat haar pa moontlik ene Hendrik Verburgh was.

Joost en Catharina het twee seuns saam gehad: Burgert (gedoop 18 Mei 1697)[27] en Hendrik (gedoop 19 April 1699)[28]. In 'n tyd waar dit tradisie was om die eersgebore seun na die man se pa te vernoem, is dit veelseggend dat Joost se eerste seun ook "Burgert" heet: sou dit in werklikheid ook die naam van hulle pa gewees het? Of was daar só min liefde tussen hulle verlore, dat hy eerder sy eerste seun na sy broer vernoem het?

Catharina is ná die geboorte van Hendrik oorlede[29] en Joost het 'n verhouding begin met Elisabeth van Wijk. Daar is al baie gespekuleer oor haar herkoms,[30] maar sy het ten minste 'n gedeeltelike slawe-afkoms, aangesien die doop van een van haar kinders in die slawe-doopboek verskyn.[31] Haar en Joost se verhouding kom stormagtig voor en waarskynlik was nie een van beide baie getrou aan mekaar nie. Elisabeth het hom twee kinders gebaar: Willem (gedoop 24 April 1701)[32] en Johannes (gedoop 14 Junie 1705)[33]. In 1703 het Elisabeth ook 'n ander kind gehad, Christina Matthysen, waarvan die vader nie bekend is nie.[31] Gesien die patroniem "Matthysen"en Joost se gewilligheid om beide sy seuns by Elisabeth te erken en saam te verskyn by hulle doop, kan ons aanvaar dat Christina nie sy kind was nie.

Johannes is as babatjie oorlede[30] en kort daarna is Joost en Elisabeth uitmekaar:[34] sy het Willem (en Christina) saam met haar geneem en, buiten dat hy Willem as sy eie kind erken het (gesien dat Willem die familienaam van Dijk gebruik het), het hy nie verder kontak met hom behou nie.[30] Elisabeth sou in 1718 met die Duitse Nicolaus von Wielligh trou, ná sy hom reeds ses kinders gebaar het. Willem is in 1733 ongetroud oorlede en noem slegs sy half-suster Christina Matthysen en sy Von Wielligh-halfbroers en -susters in sý testament; geen melding van enige van die Van Dyks nie.[30]

In die tyd wat Joost en Elisabeth saam was, blyk sy besigheid as houtkapper agteruit of tot stilstand gekom het. Geen nuwe knegte is ná 1702 gehuur om te help met hout kap nie en in sy testament van 1718 word hy as "Lantbouwer" beskryf[35] en in sy boedelinventaris verskyn daar onder meer 32 beeste (en 2 kalwers), asook 'n opstal, genaamd Gansekraal, in die Swarteland.[36]

Burgert het in hierdie tyd ook teëspoed gehad in die vorm van Henning Huysing, een van die rykste vryburgers aan die Kaap. Huysing het die besit of beheer van die grond in die Groene Kloof oorgeneem en het in April 1701 Burgert en Paul Heins beveel om die gebied te verlaat. As vergoeding is hulle 800 gulde aangebied, maar Burgert het gekant dat hul onkostes reeds 6000 gulde beloop het. Hulle het byna geen voorbereidings vir hul vertrek kon tref nie, met as gevolg dat die vee (wat hulle saam moes neem en waarvoor hulle onderweg nie genoeg weiveld kon kry nie) in groot getalle gevrek of afgedwaal het. Hulle het ook nie tyd gehad om hulle mielies te oes nie en die opbrengs wat dit hulle sou bring het hulle dus ook misgeloop.[22]

Ook Burgert se nuwe bruid sou hierdeur getref gewees het: Burgert is op 12 Februarie 1701 te Stellenbosch met die 15-jarige Anna/Johanna Greeff getroud[37] - sy was die dogter van heemraadslid Matthys Greeff en Susanna Claasz. Hulle eerste kind was Susanna, gebore ca. 1702.[38] Hulle eerste seun is gedoop op 7 September 1704 te Kaapstad. Burgert het hom vernoem na sy skoonpa: Matthijs.[39] Dus het ook Burgert nie baie gevoel vir benamingstradisies nie. Matthys kom nie voor in die 1975-Geslagsregister nie, en ontbreek ook in alle ander genealogiese bronne.[40] Moontlik is dit omdat hy, anders as die meeste van die paartjie se ander kinders, in Kaapstad gedoop is en as kind oorlede is.

Hulle tweede seun, Adam, is op 18 Julie 1706 te Stellenbosch gedoop.[41] Hulle vierde kind, Burgert, is gedoop op 1 September 1709, te Stellenbosch.[42] Die paartjie se laaste kind, Tobias, is op 28 Junie 1711 gedoop, hierdie keer in Kaapstad.[43]

Die terugslag wat die gesin in 1701 ervaar het, het hulle nie lank ondergehou nie en teen 1706 was Burgert weereens 'n gevestigde en suksesvolle veeboer, daar hy in Maart 1706 350 skape verkoop het om geslag te word.[44]

Terwyl Burgert en Johanna Greeff hul kinders in Stellenbosch grootgemaak het, het Joost die V.O.C.-slavin Helena Siewerts ontmoet. Wanneer presies is nie duidelik nie en hang af van die geboortedatum van hul seun Sybrand: Aldus die 1975-Geslagsregister is Sybrand in 1712 te Stellenbosch gebore. Hierdie is moontlik 'n gissing gebaseer op die doopdatum van Joost en Helena se tweede kind in 1714. Delia Robertson van die Fifty First Years-projek vermoed egter dat Sybrand reeds in 1706 gebore is:[45] Op 9 Mei 1706 is die doop van ene "Sybrand" genoteer in die V.O.C.-slawedoopboek, te Kaapstad.[46] Sy moeder is genoteer as die V.O.C.-slavin Helena Scholt. Indien Helena Scholt en Helena Siewerts dieselfde persoon is, kan die lang periode vóór die volgende kind verklaar word deurdat Helena, as gevolg van haar werk as slavin, moontlik 'n tyd lank nie met Joost in aanraking kon kom nie. 'n 1706-geboorte sou ook beteken dat die begin van sy verhouding met Helena moontlik terselfdertyd as sy verhouding met Elisabeth plaasgevind het, en kan nóg 'n rede wees waarom Joost en Elisabeth geskei het.

Hoe dit ook al sy, hul volgende kind se doop is genoteer in die burger-slawedoopboek en vermeld ook Joost se naam: Andries is op 19 Augustus 1714 te Kaapstad gedoop.[47] Die doopboek bevat ook nog 'n interessante ontdekking, naamlik dat, ten tye van Andries se doop, Helena aan Burgert behoort het. Het Burgert haar gekoop sodat sy en Joost nader aan mekaar kon wees? Of het Joost haar eers leer ken nadat Burgert haar gekoop het? Indien die 1706-doop aanvaar word as Sybrand van Dijk s'n, sou eersgenoemde verduideliking meer helderheid gee rakende 'n pouse en uiteindelike voortsetting van hul verhouding.

Ná Andries se doop, is Helena deur Burgert vrygekoop of vrygestel: die res van hul kinders se dope verskyn onder dié van die vryburgers. Hulle derde kind saam was ook genaamd Joost, gedoop 13 September 1716 te Kaapstad.[48] Joost se tweede seun, Hendrik, toe reeds sowat 17 jaar oud, was een van die doopgetuies.

Helena en Joost se laaste kind, Sophia, is op 20 Maart 1718 gedoop (te Kaapstad).[49] Joost sou haar egter nooit vashou of sien nie. In Januarie 1718 het hy baie siek en bedlêend geword. Op 28 Januarie 1718 stel hy sy testament op in sy huis aan Tafelvallei - hy het geglo dat hy op die punt van afsterwe was en wou seker maak dat hy Helena genoeg geld los om hulle kinders te kan opvoed.[50] Sy handtekening was uiters bewerig, in vergelyking met sy gewone handskrif.

handtekening Joost Pieterse 1718
Joost se handtekening in sy 1718 testament.

In sy testament bevestig hy dat hy en Helena verloof was (den Comparant betuijgde … sigh te hebben geëngageert met sekere Helena Siebers) en berou hy dat hy sy "goeie voornemens" om met Helena te trou, deur aanhoudende verhinderings nie kon uitvoer nie.[35] Vier dae later sterf hy, op 1 Februarie 1718.[3] In sy testament het hy aan Helena 500 rijksdaalders gelaat, om gebruik te word vir hul kinders se opvoeding en nodige onderhoud. Burgert het sy broer se boedel op 15 Junie 1718 geïnventariseer[36] en op 17 Junie 1718 is sy eiendomme verkoop tydens 'n publieke vendusie.[50]

Sy broer Burgert het onder meer "1 karritje met 1 ballitje"(karretjie met 'n balletjie) vir 1,5 stuiwers gekoop. Verder het Burgert gekoop: "86 silvere knoopen", "1 spiegel met een vergulde lijst" ("lijst" is 'n raam), "1 rol tabak", "1 kist" en sekerlik nie die minste nie, Joost se opstal, genaamd Gansekraal "gelegen in't Swarte Land".[50]

Ten tye van sy dood was sy oudste kind 21 jaar oud - sy jongste nog nie eers gebore nie. Helena het kort na Joost se afsterwe met Anthonij Waagenaar uit Hamburg getrou en die paartjie het twee kinders gehad. Sy is in 1727 oorlede, moontlik a.g.v. komplikasies van haar tweede bevalling: haar dogter Anna Margaretha is op 20 April 1727 gedoop en Helena se boedel is op 1 September van daardie jaar geïnventariseer.[51] Waarskynlik is die jong Anna Margaretha ongeveer dieselfde tyd oorlede: Antonij het 'n jaar later in 1728 gesterf en slegs hul eersgeborene, Christina, word in die boedelinventaris genoem.[52]

Net soos Joost, het ook Burgert se eerste vrou hom ontval: Anna Greeff is in 1711 oorlede, waarskynlik as gevolg van komplikasies van Tobias se bevalling.[53] Hy het in ca. 1712 hertrou, met die ongeveer 17-jarige Helena du Toit, die dogter van Francois du Toit en Suzanne Zeugnet. Sy het hom geen kinders gebaar nie, dog hulle agt jaar getroud was. In die jare na Anna Greeff se dood, het ook hul eerste seun Matthys gesterf: hy word nog genoem in die boedelinventaris van sy oupa, Matthys Greeff, in 1712,[54] maar kom nie voor in sy pa se boedelinventaris nie.[55]

Burgert het op 9 Julie 1720 gesterf.[3] Hy het geen testament agtergelaat nie, wat daarop dui dat sy dood onverwags was. Alhoewel hy nie kon skryf nie, was hy baie meer welaf as Joost, met verwysing na die twee se boedelinventarisse. Burgert se vaste bates het bestaan uit 'n huis en erf in die "Eerste berg dwars straat" in Kaapstad, asook 'n plaas geleë aan die kleine Paerdberg, genaamd Den Leeuwehoek, en 'n opstal in die Swarteland, genaamd Coenraatsbergh.[55][56] Ook het hy ten tye van sy dood 484 skape, 189 beeste en 9 perde besit. Hy het ook ses slawe gehad, wat hom gehelp het met die boerdery. Verder bevat sy inventaris aansienlik meer as dié van Joost, en ook voorwerpe met meer waarde, soos 'n "balsam doosje van gout met silver over trokken" en 63 silwer knope. Tydens die veiling van sy besittings ná sy dood, het ‘n “jufrouw Van Dijk” (waarskynlik Susanna of Maria) ‘n hele aantal items gekoop, van ysterpotte tot houtbalke en komberse[57] asook twee slawe en ‘n perd.[58]

Helena het weer omstreeks 1722 getrou, met Ernst Frederik de Swart en die paartjie het een dogter gehad. Ná sy dood het sy weer hertrou met Arendt Olivier in 1730 en daarna met Johannes Botha, in 1739.

Die lewe van die twee broers, soos hierbo uiteengesit, verskil drasties met die beskrywing in die 1975 Geslagsregister, maar tog heers 'n soortgelyke tema: twee broers wat met moeite 'n waarskynlik verarmde bestaan agtergelaat het, om die onbekende in te vaar en daar uit niks 'n nuwe bestaan te skep.

Voetnotas en verwysings:

[1] Geslagsregister van die broers Joost en Burgert van Dyk, deur J.H. van Dyk, M.A., M.Ed. 1975. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing: Pretoria.
[2] 'n Opgedateerde weergawe is wél besig om saamgestel te word deur Lindie van der Schyff.
[3]Huis te Zilverstein Grootboek en Journaal, 1686-1687. Nationaal Archief. Verenigde Oostindische Compagnie, argiefinventaris 1.04.02, inventarisnummer 5342, folio 222 en 223.
[4] "In 1691 het Jan Pietersz. van Dyk met sy twee jong seuns, Joost en Burgert en 'n dogtertjie, Anna, uit Ysenberg (Izenberge) in Vlaandere hier aangekom." Geslagsregister van die broers Joost en Burgert van Dyk, deur J.H. van Dyk, M.A., M.Ed. 1975. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Pretoria. p1.
[5] Aldus private komminikasie met Jaap van Overbeek, beheerder van www.vocsite.nl, het soldate se ouderdom gewissel van 18-40 jaar, met 'n gemiddelde ouderdom van 24. Hy verwys self na Herman Ketting se Leven, werk en rebellie aan boord van Oost-Indiëvaarders (2005).
[6] The Afrikaners: Biography of a People, deur Hermann Giliomee. 2003. Hurst & Company: Londen. p4
[7] Details of the voyage 1526.4 from Texel to Batavia. Verkry by die webwerf van Huygens ING: Dutch-Asiatic Shipping in the 17th and 18th Centuries. URL besoek op 05.10.2015: http://resources.huygens.knaw.nl/das/detailVoyage/92585
[8]Kaapse Monsterrol van 1691 bl. 102, Cape Archives Verbatim Copies VC 39, volume 1. Getranskribeer deur Richard Ball. http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/muster-rolls/cape-archives-vc-copies/343-cape-muster-roll-1691-free-men
[9] Hoekom het die broers die familienaam Van Dyk aangeneem? Waarskynlik om hulle as familie te onderskei van die talle onverwante Peterse/Pieterses aan die Kaap en om meer aansien te geniet. Dit is ongeveer dieselfde tyd as wat Burgert besluit het om te gaan boer in die Groene Kloof en Joost alleen agtergebly het aan die Kaap. 'n Unieker familienaam sou hul verwantskap benadruk het en terselfdertyd apart gesit het van al die baie ander persone in die kolonie met 'n soortgelyke patroniem. 
Hoe het hulle op die familienaam Van Dyk besluit? Daar is talle moontlike redes. Moontlik was daar dyke waar hulle gebore is of grootgeword het. Moontlik onthou hulle nog die dyke op Texel, die eiland waarvandaan hulle na Suid-Afrika gevaar het, en het dit hulle geïnspireer. Moontlik het hulle Jan Jacobs. van Dijk geken of van hom geweet en gedink dit is 'n mooi of statige familienaam. 
[10] 29 dito [Maart] / Anna / Jan Cornelis Bombam en Catarina Harmens. Cape Town Baptisms 1680. Getranskribeer deur Richard Ball en Corney Keller, uit die Verbatim-kopieë VC 603, Nederduits Gereformeerde Kerk, dope 1665 tot 1696, Kaapse argiewe.
http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-ngk-1665-to-1695/66-cape-town-baptisms-1680
[11] Die trou- en doopindeks van die Sint Medardus-parogie is verkrygbaar by die Rijksarchief te Brugge: Inventaris: 9999/995, Argiefbestanddeel: 1072_000_00060_000_0_0178_r , of aanlyn: 
http://search.arch.be/nl/zoeken-naar-archieven/zoekresultaat/inventaris/inleiding/eadid/BE-A0513_109981_108806_DUT/inventarisnr/I1099811088068644/level/file/scan-index/162/foto/513_1072_000_00060_000_0_0162_r
Die dooprekords van die Sint Mildreda-parogie is nie geïndekseer nie. Die skryfster het self die dooprekords van 1634 tot 1681 getranskribeer. Rijksargief te Brugge: Inventaris: 9999/998, Argiefbestanddeel: 9000_000_00368_000_0_0001_r , of aanlyn:
http://search.arch.be/nl/zoeken-naar-archieven/zoekresultaat/inventaris/index/eadid/BE-A0513_109981_108806_DUT/inventarisnr/I1099811088061915/level/file
[12] Gebaseer op a) my eie ervarings met die Izenberge-dooprekords, b) 'n soektog tussen die bykans 30 miljoen rekords op die webwerfvan die Belgiese Rijksargief http://search.arch.be/nl/zoeken-naar-personen) en 'n soektog op FamilySearch.org. Gesoek in die tydperk 1650-1690.
[13] "Jan Pieterz. van Dyk het hom in Stellenbosch, toe nog maar pas aangelê, gevestig en hom na alle waarskynlikheid met boerdery besig gehou. Sy twee seuns sou hulle ook op die boerdery toelê." Geslagsregister van die broers Joost en Burgert van Dyk, deur J.H. van Dyk, M.A., M.Ed. 1975. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Pretoria. p6.
[14] Resolusies van die Politieke Raad: Verwysingskode C.21, pp17-23
[15] 1706 / 7e Nov. Jan Barentse Sieker, met Anna Van Dijk. Stellenbosche dooprekords, verkry op die eGGSA-webwerf: http://eggsa.org/transcriptions/stellenbosch/g7-1/G2-7-1-03.jpg
[16] Soos twee dooprekords, waar sy en haar man as getuies verskyn het: Palmkronieke I Baptisms, Johanna Elisabeth, de Vader Robbert Janse, de Moeder Katrina Cornelis, getùygen Jan Barentsz Siechard, en Anna Cornelis der 29 Appril [1708] en Palmkronieke I Baptisms, Den 24 November 1726; K: Johannes; V: Hendrik Klopper; M: Katharina Bota; G: Jan Barentzen Sigger, Anna Jans. Verkry by Anna Cornelisz se inskrywing in die Fifty First Years-projek: http://www.e-family.co.za/ffy/g6/p6554.htm
[17] Dito (5 September) een kind van Maria Mathijsse, genaemt / Maria, getuijgen Jesaias Machielse en / Catharina Smith. Getranskribeer deur Richard Ball en Corney Keller, uit die Verbatim-kopieë VC 603, Nederduits Gereformeerde Kerk, dope 1665 tot 1696, Kaapse argiewe. http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-ngk-1665-to-1695/66-cape-town-baptisms-1680
[18] Inventarisse van die Weeskamer, Kaapse argiewe: MOOC 8/1.31 (1697.11.29). Inventaris der goederen nagelaten bij Maria Mathhysz Eli .... soo als deselve door Burchert Pietersz vrijhoutkapper (wiens meijt sij is geweest:) aan de Weeskamer sijn overgelevert.
[19] - [18e] ditto [Februarie] Johannes Bastiaanse van Cabo Jongm:, met / Maria Pieterse van dijk jongedogter. Nederduits Gereformeerde Kerkregisters, Kaapse Argiewe, verkry op FamilySearch ( https://familysearch.org/pal:/MM9.3.1/TH-266-12344-97553-91?cc=1478678 : 21 Mei 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Stellenbosch > Marriages 1700-1788 > beeld 8 van 39.
[20] MOOC 15/1/1. 1719. Secretaris betaelt aen Johannes Bastiaensz als in huijwelijk hebbende Maria Elij... en Ik ondergesze als in huwelijk hebbende Maria Elij...
[21] Anno 1716 - Den 16de ditto [Februarie] Francois, soon van Johannis Basti/aanse en Anna Maria Pieterse Van Dijk. Getuijgen Anna Maria Pieterse De Leeuw. Drakenstein-doopregister, soos verkry op die webwerf van die First Fifty Years-projek: http://www.e-family.co.za/ffy/e2039.htm Ook beskikbaar op Drakenstein I Baptisms. 
22] Precis of the Archives of the Cape of Good Hope: The Defence of Willem Adriaan van der Stel, deur H.C.V. Leibbrandt. 1897. W.A. Richards & Sons: Kaapstad. p184-185
[23] Joost se laaste V.O.C.-kontrak waarin na hom verwys word as houtkapper is vir die periode 1700-1702. CJ 2873-142.
[24] Persoonen die haer inde egt begeven / ... / 4 Mart 1696 / Joost Pieters jongm: met /Catharina Verburg jongd: 
Hierdie datum word in sommige bronne as 7 Maart gegee, maar as ander rekords van dieselfde pastoor met mekaar vergelyk word, is dit heel duidelik 'n 4. Nederduits Gereformeerde Kerkregisters, Kaapse Argiewe, verkry op FamilySearch ( https://familysearch.org/pal:/MM9.3.1/TH-267-11116-195133-1?cc=1478678: 21 Mei 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1695-1712 > beeld 52 van 84; Staatsargiewe, Kaapprovinsie.
[25]Ek baseer die gissing oor haar herkoms op die getuies teenwoordig by die dope van hul kinders: Eerstens Aelbert Coopman (sieketrooster, uit Naerden) en sy vrou, Agnieta van der Gracht (weduwee van Jacob Rootsteen), uit Gorinchem. Tweedens, op 19 April 1699, die Nederlandse Steven Vermij en Duitse Geertruyd de With (hulle was nie 'n paartjie nie). Ek vermoed dat een of meerdere van hierdie getuies 'n konneksie gehad het met Catharina Verburgh, aangesien die getuies 'n generasie (of meer) ouer as Catharina was en moontlik as voogde opgetree het. Dit is egter spekulasie en moet nog verder ondersoek word. Geen van hierdie persone verskyn as getuies op die dope van Joost se kinders met ander vrouens nie.
[26] Kaapse Monsterrol 1696 - Vryburgers. Getranskribeer deur Corney Keller. Bron: Kaapse Argiewe, Verbatim Kopieë VC 39, volume 1, p158-174. Verky op die webwerf van eGGSA: http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/muster-rolls/cape-archives-vc-copies/368-cape-muster-roll-1696
[27] 18 Maij / gedoopt het kint van Joost Pieterz / van Ysenberg en Catharina Verburg / onder getuygen van Aelbert Coopman / en Agnieta vader Gracht genaemt / Burchert. Cape Town Baptisms 1697, getranskribeer deur Richard Ball en Corney Keller. Verkrygbaar op die webwerf van eGGSA: http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-baptisms-1695-1712/125-cape-town-baptisms-1697
[28] 19 April 1699 / gedoopt een kint van Pieter/Joost van Dyck en Catharina/Verburg, onder getuyge van Steven/Vermij en Geertruyd de With gent:/ - Hendrick Cape Town Baptisms 1699, getranskribeer deur Corney Keller. Verkrygbaar op die webwerf van eGGSA: http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-baptisms-1695-1712/135-cape-town-baptisms-1699
[29] Gebaseer op die feit dat sy nie meer in die monsterrolle verskyn nie. Soos die Kaapse Monsterrol 1700 - Vryburgers. Getranskribeer deur Corney Keller. Bron: Kaapse Argiewe, Verbatim Kopieë VC 39, volume 1. Verky op die webwerf van eGGSA: http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/muster-rolls/cape-archives-vc-copies/379-cape-muster-roll-1700
[30] Margaret Cairns: Elizabeth van Wyk, 1685-1720. Familia vol. 12, no. 3.
[31]1703... 17 Junij/ een kind/ van Lysbeth vande Caab, Cristyna, halfs:. Company Slave Baptisms 1696-1712, getranskribeer deur Corney Keller. Verkry op die webwerf van eGGSA: http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-baptisms-1695-1712/158-company-slave-baptisms-1696-1712
[32] 24 April 1701/van Joost Pieters van Dyk en Lysbeth/van Wijk, onder getuyge van Pieter/de Gryp en Caspara van Staden/gent: / - Willem. Cape Town Baptisms 1701, getranskribeer deur Corney Keller. Verkry by die webwerf van eGGSA: http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-baptisms-1695-1712/136-cape-town-baptisms-1701
[33] 14 Junij / van Joost Pietersz van Dyk en / Lijsebet van Wyk, onder getuyge van / Hendrik Brant en Maanda Gracia / gent: / - Johannes. Cape Town Baptisms 1705, getranskribeer deur Corney Keller. Verkry by die webwerf van eGGSA: http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-baptisms-1695-1712/148-cape-town-baptisms-1705
[34]Daar blyk nie veel liefde tussen Joost en Elisabeth verlore te gewees het nie - vermoedelik sou Elisabeth enige aanbod van Joost aanvaar het om met haar te trou of selfs slegs om na haar en haar kinders om te sien. Dus het hy dit óf nie aangebied nie, óf sy het dit van die hand gewys (moontlik het sy nie geglo dat hy vir hul kon voorsien nie?). Buiten die reeds genoemde Christina, het Elisabeth ook in 1699 'n kind by Jan Lambertz Meijburgh gehad. Sy was dit moontlik intussen gewoond dat mans haar gebruik en dan verlaat en wou liewer haar lot self bepaal as wat sy in 'n liefdelose verhouding vasgevang was. Moontlik was sy en Joost aanvanklik wel werklik verlief, maar het die dood van hul kind, gepaard met ander redes, hulle laat besluit om van mekaar te skei.
[35] Testament: van Dijk, Joost Pietersz. 1718. CJ 2651-01-28-1. Kaapstad Argief
[36] Inventarisse van die Weeskamer. Verwysingsnommer MOOC 8/3.77. Testator(s): Joost Pietersse van Dyk.
[37] Den selven dato [12 Februarie 1701] Burgert Pieterse van Dijk , met Joanna Greef. Trouregister van die Nederduitse Gereformeerde Kerk te Stellenbosch, verky op die webwerf van die Fifity First Years-projek, by http://www.e-family.co.za/ffy/e1388.htm
[38]Geen dooprekord vir Susanna kon nog opgespoor word nie. Sy word gelys as die oudste kind in beide C.C. de Villiers en C. Pama se Geslagregisters van ou Kaapse Families vol I (Kaapstad/Amsterdam: A.A. Balkema, 1966), p. 185 en J. Hoge se Bydraes tot die Genealogie van Ou Afrikaanse Families (Amsterdam: A. A. Balkema, 1958), p39. Sy word in Burgert se boedelinventaris, MOOC8/4.60 1720, as die enigste mondige kind gelys, wat 'n 1702-datum ondersteun.
[39] 7 Sept. van Burgert Pieterz van Dyk en Anna / greef, onder getuyge van Matthijs greef en /Susanna Claase gent. / Matthijs. Nederduits Gereformeerde Kerkregisters, Kaapse Argiewe, verkry op FamilySearch ( https://familysearch.org/ark:/61903/1:1:VRL9-Z35: 4 Desember 2014), Matthijs Van Dyk, 07 Sep 1704, Baptism; citing p. , Cape Town, Cape of Good Hope, South Africa, State Archives, Cape Province; FHL microfilm 2,214,107.
[40] Matthijs ontbreek in byvoorbeld die volgende bronne: 

Geslagsregisters van die Ou Kaapse Families, deur C.C. de Villiers en C. Pama. A.A. Balkema: Kaapstad. 1981.
Suid-Afrikaanse Familieregisters, deur die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika. 2016
Suid-Afrikaanse Geslagsregisters 2 D-G, deur J.A. Heese. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorising: Pretoria. 1989.
Geslagsregister van die broers Joost en Burgert van Dyk, deur J.H. van Dyk, M.A., M.Ed. 1975. Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Pretoria. 

[41] Adam, d' Vader Burghert Pieterse, d' Moeder anna / Greev, getuijgen Matthijs Greev, en Susanna greev, 18 Julij. Uit die Stellenbosche doopregister, verkry op die webwerf van die First Fifty Years-projek: http://www.e-family.co.za/ffy/e971.htm 
[42] Burger, de Vader Bùrger Pieterse van Dijk, d'Moeder Anna Greeff, getùygen, Klaas en MariaGrieta Magdalena Greeff, 1 Sept 1709. Uit die Stellenbosche doopregister. Verkry op die webwerf van die First Fifty Years-projek: http://www.e-family.co.za/ffy/g7/p7923.htm
[43] D:o (28 Jun) / van Burgert Pietersz van Dijk, en Anna / Greef; de getuige was Johannes Fredrik /Delitsz. /- Tobias . Getranskribeer deur Corney Keller, uit die Verbatim-kopieë VC 604, Nederduits Gereformeerde Kerk, dope 1695-1712, Kaapse argiewe. http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-baptisms-1695-1712/154-cape-town-baptisms-1711
[44] Precis of the Archives of the Cape of Good Hope: The Defence of Willem Adriaan van der Stel, deur H.C.V> Leibbrandt. 1897. W.A. Richards & Sons. Kaapstad. p195
[45] Inskrywing vir Sybrand van Dyk by die Fifty First Years Project, deur Delia Robertson. URL: http://www.e-family.co.za/ffy/g12/p12997.htm 
[46] 9 Meij 1706: Helena Scholt - Sybrand halfs:. Nederduits Gereformeerde Kerkregisters, Kaapse Argiewe, 1660-1970, FamilySearch https://familysearch.org/pal:/MM9.3.1/TH-267-11116-195006-89?cc=1478678 : 21 Mei 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1695-1712 > afbeelding 40 van 84; Staatsargiewe, Kaapprovinsie.
[47] 1714 / 19 Augusti. - gedoopt een slaaven-kind van burgert Piettersz. / van Dijk: de wader Joost Pietersz. van Dijk; de / moeder Helena Siewerts: de geuigen Christiaan: van de kust, en Susanna van Batavia. - Andries. 
Let wel: bostaande "slawekind van Burgert Pieters" beteken dat die kind (en dus ook sy ma) aan Burgert behoort het. Nederduits Gereformeerde Kerkregisters, Kaapse Argiewe, 1695-1976, FamilySearch ( https://familysearch.org/pal:/MM9.3.1/TH-267-11116-194688-91?cc=1478678 : 21 Mei 2014), South Africa > Cape of Good Hope > Cape Town > Baptisms 1713-1741> afbeelding 99 van 109; Staatsargiewe, Kaapprovinsie.
[48] 1716 Gedoopten Ouders Getuigen ... 13 d:o ... Joost / Joost Pietersz van Dijk, en Helena Siewerts / Hendrik Pietersz van Dijk, en Helena Siewerts. Cape Town Baptisms 1716. Getranskribeer deur Corney Keller. Verkry by die webwerf van eGGSA: http://www.eggsa.org/sarecords/index.php/church-registers/cape-town-baptisms-1713-1742/249-cape-town-baptisms-1716
[49] 1718 ... Martii ... 20 d:o/ Sophia/ Joost Pietersz van Dijk, en Helena Siwertsz/ Floris Abramsz en Rebekka van Bengalen
[50] Inventarisse van die Weeskamer: Joost Pietersse van Dyk, 17:e Junij 1718. MOOC 10/2.2
[51] Inventarisse van die Weeskamer: Helena Siebers, 1 September 1727. MOOC 8/5.3
[52] Inventarisse van die Weeskamer: Anthonij Wagenaar, 21 Augustus 1728. MOOC8/6.19 
[53] Haar boedel is geïnventariseer en aan die Weeskamer oorhandig skaars twee maande na die geboorte van hulle laaste kind. Inventarisse van die Weeskamer: Anna Greef, 3 Augustus 1711. MOOC 8/2.54
[54] Inventarisse van die Weeskamer: Matthijs Greef, 12 Julie 1712. MOOC 8/2.63
[55] Inventarisse van die Weeskamer: Pietersz van Dijk, 11 Desember 1721. MOOC 8/4.60
[56] Inventarisse van die Weeskamer: Burgert Pietersz van Dijk, 17 Januarij 1721. MOOC 8/4.59
[57] Inventarisse van die Weeskamer: Burgert Pietersse van Dijk, 8 Januarie 1721. MOOC 10/2.24
[58] Inventarisse van die Weeskamer: Burgert Pieterse van Dijk, 24 Februarie 1721. MOOC 10/2.25

Navorsing en bydraë deur:
Anrie Hoogendoorn.

Print Email