Surnames R to U

SCHMIDT Jurgen

JÜRGEN is gebore in die gemeente Hüje in die dorp Heiligenstedten, naby Hamburg in Holstein (toe nog deel van Denemarke) en gedoop in die Evangelische-Luthers Landeskirche van Heiligenstedten op 11 Maart 1736. Hy was die sesde kind van Jürgen (“der Lange”) SCHMIDT en Margaretha (“Gretje”) PETERS. Jürgen Snr. was die seun van Hans SCHMIDT en is op 18 Desember 1701 gedoop. Hy is op 3 Maart 1761 ter aarde bestel nadat hy op die 1ste Maart op die “Mehlbeker Feld” dood aangetref is. Sy weduwee Gretje SCHMIDT is in 1779 oorlede in die ouderdom van 79 jaar. Sy was die dogter van Peter PETERS.

VAN die jong Jürgen word in die doodsberig van sy vader gemeld dat hy na Oos-Indië gegaan het, waarskynlik as soldaat, want toe hy in 1765 met die skip “Overness” voet aan wal sit aan die Kaap die Goeie Hoop, was hy ‘n matroos en Kaakbusskutter in diens van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie. (‘n Haakbus was die eerste langloopgeweer wat gemaak is). Tydens sy emigrasie na die Kaap, was Holstein nog deel van Denemarke. Tans is dit deel van Wes-Duitsland.

16 Junie 1771 trou Jürgen te Tulbagh, met CATHARINA SLABBERT, weduwee van Cornelis ZAAIMAN en voorheen getroud met Cornelis VAN DER NEST. Op 4 September 1771 gaan sy vrou ‘n Kontrak aan met die Politieke Raad, waarin sy haar man in lening neem, waardeur hy dus van diens aan die Kompanjie onthef word en is hy dus regtens in diens van sy vrou.

18 Februarie 1787 doen Jürgen aansoek by die Politieke Raad om vrystelling van sy Kompanjiesdiens en besluit die Politieke Raad op 18 September 1787 om die aansoek toe te staan op grond van die feit dat die aansoeker getroud is en ‘n huisgesin het om te versorg en die Kompanjie nie voldoende ondersteuning bied vir die onderhoud van sy huisgesin nie, sy hoë ouderdom, asook die feit dat dit hom die geleentheid sal bied om hom as burger op behoorlike wyse te laat geld.

DIE SMITHS VESTIG IN GRAAFF-REINET

BEHALWE vir die feit dat Jürgen in diens van sy vrou Catharina, wat self ‘n boervrou was, gestaan het, het hy op sy eie ook by die Politieke Raad aansoek gedoen om ‘n Huurpagplaas en vind ons in die Personeregister van die Goewerneur 2 inskrywings in hierdie verband. Op 20 April 1775 word hy deur die Goewerneur toegelaat om vir ‘n hele paar jaar die plaas WELGELEGEN, geleë aan die Sondagsrivier, tussen die plase van Jan DE BEER en Catharina SLABBERT, in die Camdebo met sy vee te laat bewei. Hieruit lei ons dus af dat hoewel Jürgen en Catharina op Tulbagh getroud was, hulle hul reeds voor die ontstaan van Graaff-Reinet as dorp in 1786, in die distrik gevestig het. Tulbaghgemeente was natuurlik destyds die naaste aan hierdie veeboerpioniers.

IN 1787 gee die Goewerneur toestemming aan Jürgen om die plaas BAVIAANSKRANS aan die Sondagsrivier te bewei. Hierdie plaas het vir die volgende 50 jaar ‘n belangrike rol gespeel in die lewens van die SMITHS. Baviaanskrans (of STAPLEFORD soos dit nou bekend is) was 8786 morge groot en het aan die Sondags- en Melksriviere gegrens, vandaar dat die Landmeter, wat later die plaas opgemeet het, in sy verslag kon meld dat die watervoorraad op die plaas baie goed was en was daar potensiaal vir 10 morge bewerkbare lande. Die plaas is sowat 36 myl Suid-Suidwes van Graaff-Reinet geleë.

DIT is ongelukkig nie bekend wanneer die Stamvader en –moeder oorlede is nie, maar dit is wel bekend dat hulle net een seun gehad het wat hulle op 3 Oktober 1772 op Tulbagh as JÜRGEN laat doop het. Die stamvader moes tot ongeveer 1797 geleef het want volgens die Opgaafrolle van Graaff-Reinet het hy in 1791 150 beeste en 1200 skape besit, terwyl sy seun toe niks gehad het nie. In 1796 het sy seun 32 beeste en 300 skape besit en in 1798 het hierdie getalle gestyg na 118 beeste en 1382 skape. Dit laat dus die vermoede dat die stamvader in daardie tyd oorlede is en die jong Jürgen heelwat vee na sy vader se dood geërf het. Behalwe vir die vee het Jürgen Jnr. in 1798 ook 2 slawe besit, 22 manlike en vroulike Hottentotte, 3 perde, “een Leningsplaats” (Baviaanskrans), 138 mudsak Koring en 7/8 (seweagstes) “legger Ingevogst wyn”.

HOEWEL voornoemde in moderne taal na ‘n taamlik vooruitstrewende boerdery klink, moet ‘n mens in ag neem dat sake vir die veeboer-pionier nie altyd so rooskleurig was nie. Die Veeboere, die nederige instrumente van die groot historiese taak om die land vir die blanke beskawing in besit te neem, het ‘n veel minder ruimer lewensbestaan geniet as die landbouers wat hulle rondom Kaapstad en omgewing bevind het. Oor die algemeen ryk aan groot kuddes klein- en grootvee, het die veeboere tog maar geringe voordele daaruit getrek; en hierom sowel as deur moeilikhede wat groot afstande meegebring het, is hulle tot ‘n betreklik primitiewe lewenswyse gedwing. Hul huise was eenvoudig, klein en ongerieflik. Gewoonlik het so ‘n huis bestaan uit drie of vier vertrekke, met vensters sonder glas, en kleivloere; terwyl in die grensgebiede hutte van een of twee vertrekke met lae kleimure en ‘n grasdak oor ruwe houtlatte eerder reel as uistondering was. Ver verwyderd van die geriewe wat Kaapstad gebied het, het die veeboere geleer om hulleself te help en staat te maak op eie vernuf by die vervaardiging van meubels en klere en ander lewensbenodigdhede. 1.

ONDERWYSGERIEWE was nagenoeg heeltemal afwesig en beskikbaar slegs in die vorm van lesse gegee deur rondtrekkende “meesters” wat vir ‘n paar maande gehuur is. Voor die stigting van Graaff-Reinet was die naaste kerk vir die meerderheid van die veeweiders Roodezand (by Tulbagh) – vir die meeste prakties onbereikbaar, behalwe af en toe, hoogstens een maal per jaar, wanneer botter en boereseep na Kaapstad gebring en die ordonnansie op die leningsplaas vernuwe is. 2.
DIT is waarskynlik met so ‘n geleentheid dat Jürgen Jnr. op 27 April 1794 in Kaapstad getroud is met MARIA MAGDALENA GREEFF. Sy was die dogter van Jürgen Hendrik GREEFF en Maria Magdalena JOUBERT. Dit is interessant om daarop te let dat die skoonvader se naam ook Jürgen was en dit verklaar die eienaardigheid later dat Jürgen Jnr. se drie oudste kleinseuns elkeen JÜRGEN HENDRIK gedoop is en nie net Jürgen na hulle Oupa nie. Daardeur is erkenning aan Oupa GREEFF ook gegee want uit die aard van die saak kon Jürgen en Maria SMITH tog nie twee van hulle seuns beide Jürgen doop nie.

‘n ENIGSTE SEUN NEEM OOR

DAAR is nie veel bekend oor die Stamvader se seun Jürgen nie, behalwe dat hy die boerdery op Baviaanskrans oorgeneem het en volgens die jaarlikse Opgaafrolle het hy daarin geslaag om min of meer dieselfde veegetalle te handhaaf en kan aanvaar word dat hy ‘n bestendige boer was. Soos reeds gesê was hy die enigste kind, wat nie heeltemal vreemd is nie, want die Stamvader was reeds 35 jaar oud toe hy getroud is met ‘n vrou wat toe reeds twee huwelike had. Sy is naamlik op 10 November 1748 getroud met Cornelis Franken VAN DER NEST by wie sy 4 kinders gehad het. Sy is, na sy dood, weer met Cornelis ZAAIMAN getroud, by wie sy ook 4 kinders gehad het. Van hierdie kinders was 6 nog minderjarig toe sy in 1771 met Jürgen SMITH getroud is. Toe haar seun Jürgen by haar derde man gebore is, was sy reeds 43 jaar oud.

UIT die huwelik van Jürgen Jnr. met Maria Magdalena GREEFF is 6 kinders gebore, drie seuns en drie dogters.

LYS VAN BRONNE

N.G. Kerkargief, Kaapstad
Staatsargief, Kaapstad
Suid-Afrikaanse Biblioteek, Kaapstad
R.G.N., Pretoria
Dr. J.A. Heese, Strand
De Villiers & Pama: “Geslagsregisters van ou Kaapse Families”
Van der Walt, A.J.H., Wiid J.A., Geyer A.L.: “Geskiedenis van Suid-Afrika”
Persoonlike rekords
Mondelinge mededelings en inligting deur familielede
Familie Kerkhowe
Familiebybels
Hansards van die Kaapse Wetgewende Raad 1889 – 1903

Bygedra deur:
Petrus Johannes Smith.



Print Email