Skip to main content

logo new

Surnames A to C

BOSMAN Hermanus

die stamvader van die Bosmans in SA, vertrek op 20 Jan 1706 van Texel, Nederland na Batavia, was egter nie tuis in die verre Ooste nie en vertrek op die skip De Ooverryp na SA en kom aan in die "Cabo de Goede Hoop" op 18 Apr 1707, sy 25ste verjaardag. Hy het "n attestaat ontvang van die dienaren en ouderlinge van "de gemeente Jesu Christi binne Amsterdam", wat getuig dat hy "n lidmaat is van "de ware Gereformeerde Christelijke Kerke".

Aanvanklik was hy kranke besoeker, voorleser en voorsanger in Drakenstein saam met Paul Roux, wat die voorlesings in Frans vir die Hugenote gedoen het, hulle is aangespreek as dominee. Hy skryf aan sy suster Hester in Nederland dat die eerste kerkie, waar Simondium vandag is, "een slecht hutje" is.

Op 31 Julie 1718 word Hermanus aangstel as opsigter en gesaghebber van al die kerkwerk van Drakenstein. Op 1 Aug 1718 slaan hy die eerste pik in die grond vir die fondament van die nuwe kerkgebou, aan die voet van die Paarlberg (waar die Strooidakkerk vandag nog staan). Op 6 Sep 1718 het die Goewerneur die eerste steen gelê. Hierdie kerk het die gemeente 77 jaar gedien. Beide Piet Retief en Louis Trichardt is hier gedoop.

Om sy karige inkomste aan te vul het hy skoolgehou. So het hy in die huis van Abraham de Villiers, "n ouderling en heemraad en sy toekomstige skoonvader beland. Abraham was een van drie broers wat stamvaders van die de Villierse in SA geword het.

Hermanus het op 17 Mei 1715 "n stuk grond van 2 morg van die goewerneur en Politieke Raad gekry, "n ruim huis daarop gebou, "n wingerd en vrugteboord aangelê en wyn gemaak wat hy oa vir nagmaal voorsien het. Die huis is in 1876 verbou deur Jan Daniel Bosman, toe was dit bekend as "De Nieuwe Plantatie".

Sy attestaat bestaan nog in die N G Kerkargief in Kaapstad en sy preekbundel was tot onlangs nog in die N G Kerkargief in Pretoria.

Hy trou 4 Maart 1708 met Elisabeth de VILLIERS (gebore Drakenstein 5 November 1690), dogter van Abraham de Villiers (hy en sy twee broers Jacob en Pierre was die De Villiersstamvaders) en Susanna Gardiol.

KINDERS:
b1 Hermanus gebore 16 Feb 1709, gedoop Stellenbosch 7 Apr 1709, sterwe 22 Aug 1713
b2 Susanna gebore 22 Des 1710, gedoop 17 Januarie 1712, X 3 Aug 1732 Izak de Vries
b3 Maria Mei gebore 29 Maart 1714, sy sterwe ongetroud op hoë ouderdom
b4 Abraham gebore 14 Feb 1716, gedoop 23 Feb 1716, sterwe ongetroud 1806
b5 Petrus Johannes gebore 24 Jun 1718, gedoop 17 Jul 1718, X 12 May 1743 Maria Marais
b6 Elizabeth gebore 6 Okt 1720, gedoop 12 Okt 1720, sy sterwe ongetroud
b7 Hermanus gebore 24 Sep 1722, gedoop 4 Okt 1722, X 21 Maart 1751 Maria Marais
b8 Jacobus gebore 24 Jun 1726, gedoop 29 Jun 1726, X 13 Sep 1760 Anna Christina Groenewald
b9 (H)Ester gebore 20 Feb 1729, gedoop 13 Maart 1729, X Bartholomeus de Koning
b10 Izak / Isaak gebore 29 Maart 1732, gedoop 6 Apr 1732, X 28 Sep 1756 Susanna de Villiers. Hulle was die stigters van die ou familieplaas Welgelegen, Bottelary, Stellenbosch
b11 Jan Christoffel gebore 15 Apr 1734 gedoop 24 Apr 1734. Hy sterwe ongetroud

Op 4 Maart 1758 het hy en Elisabeth hul goue bruilof gevier en vir die geleentheid het ds P van der Spuy vir hulle "n gedig geskryf (sien Malherbe en
Malan p 291).

Van sy 11 kinders het net 2 die van Bosman voortgeplant, Hermanus b7 en Izak b10.

Bronne:
"DIE BOSMANS VAN SUID-AFRIKA 1707 - 1965" Saamgestel deur Sita de Kock (*Bosman) en bygestaan prof FCL Bosman en Paul D Bosman. Uitgegee deur JL van Schaik Bpk.
DF Bosman "Bosman of Drakenstein: Some Notes" Familia, 1964 no 3
Heese and Lombard

Saamgestel deur:
Paul Bosman pbosman@kleinfontein.net

 

 

 

 

 

 

 

  • Hits: 14936

Stamouers.com is part of the eGGSA.org web site
Material from this website may be used if the author and eggsa.org are acknowledged
Privacy policy