Joachim
SCHOLTZ is in circa 1690 in Altmark, Brandenburg,
Pruise, gebore en sterf in 1738 op sy plaas "de Klijne
Vogelvallei", naby Piquetberg. Hy trou op 3 August 1727
in die Paarl met Anna Marijna SWART. Sy is circa
1690 in Stockholm, Swede, gebore en sterf in 1732. Joachim
trou vir 'n tweede keer op 31 Mei 1733 in Stellenbosch
met Anthoinetta CAMPHER, die dogter van Lorenz
Campher en Ansela Hanselaar. Sy is in circa 1690 gebore
en sterf in 1735 op die plaas Elandskloof.
Joachim
was afkomstig van die Hertogdom Altmark, Brandenburg, Pruise
(tans Duitsland) maar die naam van die dorp word nie aangegee
nie. Die hoofstad van Altmark is die dorp Stendal, ongeveer
160km wes van Berlyn.
Joachim
het in 1720 aan die Kaap geland, maar die naam van die
skip en die datum waarop hy in die Kaap aangekom het,
word nie vermeld nie. Die klerk wat die register ingevul
het was Rijk Tulbagh, die latere goewerneur van die Kaap.
Tulbagh, "verhollands" dan ook die naam en teken dit nie
in die regte Duitse vorm aan nie, maar as "Jogem Schols".
Sy
eerste betrekking na sy aankoms aan die Kaap was as stalkneg
in diens van die VOC . Die garnisoen se ruitery moes uiteraard
heelwat perde daarop aanhou, en die onderhoud van die
stalle het dus baie aandag geverg. Gedurende die jaar
1721 is hy tot soldaat bevorder, 'n posisie wat hy tot
1722 beklee het. Daarna, gedurende die goewerneurskap
van Hendrik Swellengrebel, is hy op 'n dienskontrak as
landboukneg deur die Kompanjie aan die landbouer, Barend
Buys, woonagtig te Paarl, uitverhuur. (Barend Buys het
geboer op die plase Blomkool en Witteklip geboer.) Vanaf
1 Augustus 1722 tot 15 Februarie 1725 was Joachim as boukneg
in die diens van Barend Buys. Vermoedelik was Joachim
verantwoordelik vir die boerdery op Witteklip, terwyl
Barend sy aandag aan die aktiwiteite op die plaas Blomkool
geskenk het. (Familia XXIX/1992 Nr.2 bl 30.)
Die
dienskontrak was vir een jaar vir 'n maandelikse vergoeding
van 13 Gulden, Indiese valuasie, en een pond tabak --
benewens spyse, drank en 'n goeie huis. In die kontrak
word na hom verwys as "soldaat Joghem Schols van Brandenburg".
Hy onderteken die ooreenkoms slegs met sy voorletters
J.S. onderaan. Rijk Tulbagh, die latere goewerneur van
die Kaap en skoonseun van Hendrik Swellengrebel, teken
as een van die getuies. (Argief Kaapstad C.J. 2880 : 31.)
In
1725 het hy aansoek gedoen om 'n "Vrijburger" te word.
Blykbaar het hy in hierdie stadium nie op sy eie gaan
boer nie, want hy het sover vasgestel kon word, geen aansoek
ingedien vir 'n stuk grond nie. Gedurende hierdie tyd
was hy ook nog nie getroud nie, en was hy in die omgewing
van Paarl / Drakenstein bedrywig.
Op
3 April 1727 tree hy in die Paarl in die huwelik met Anna
Maria Swart (toe die weduwee Strang met drie dogters).
Hulle eerste kind, 'n seuntjie, is in die Paarl gebore
en gedoop. Daarna moes hulle vir 'n tydperk na Kaapstad
verhuis het, want op 8 April 1729 laat hulle in Kaapstad
'n gesamentlike testament opstel. Hier word hy beskryf
as 'n burger van Drakenstein (toe nog deel van die gemeente
Paarl) en op daardie oomblik "lichtelijk ten bedde leggend".
In hierdie geval maak hy slegs 'n kruisie vir sy handtekening.
(Argief Kaapstad C.J. 2604 : 40). In 1730 is hulle terug
in Drakenstein, want op 18 Mei 1730 laat hulle hul tweede
seun in die Paarl doop.
In
1732 het sy vrou, Anna Maria Swart, hom ontval. Die boedelrekening,
gedateer 8 Desember 1734 toon aan dat hy die bedrag van
109,14 riksdaalders uit die boedel ontvang het. Blykbaar
was hulle buite gemeenskap van goedere getroud. Uit die
boedelrekening blyk ook dat slegs een van die Strang-dogters
uit haar vorige huwelik nog in die lewe was, maar in werklikheid
in werklikheid is dit die Raesen-dogter.)
Op
26 Junie 1732, terwyl hy nog onder Drakenstein resorteer
het, was hy werksaam op die plaas Hooggelegen van
Andreas Bester, naby Kaapstad. Vanaf Hooggelegen
stuur Joachim 'n "memorie" aan die Goewerneur en
lede van die Politieke Raad waarin hy hulle hulp vra,
aangesien hy arm en gebreklik is en dat hy weens sy gesondheidsprobleme
dit moeilik vind om vir homself en vir sy seuntjie te
sorg. Hy noem nie die Strang-dogter se naam nie. (Argief
Kaapstad. Mss. Requesten, S-T.; Leibrandt.) Waar die Strang-dogter
op daardie oomblik was, is onbekend. Haar naam verskyn
nie onder die lyste van weeskinders na wie die verskeie
gemeentes omgesien het nie. Sy is later met Jacob Kruger
getroud en het toe na haar halfbroertjie, Jan Joachim
moes omsien.
Blykbaar
het Joachim se gesondheid sodanig verbeter, dat hy besluit
het om vir homself te gaan boer en hom op veeboerdery
toe te spits. Plase in die gevestigde gebiede was nie
meer maklik beskikbaar nie en nuwelinge moes hulle na
die grensgebiede wend. Weilisensies wat gebruiksreg oor
'n stuk grond gegee het, maar nie besitreg nie, was beskikbaar.
Aangesien die weiregte slegs tydelik was, het die amptenare
van die Kompanjie in die meeste gevalle ook nie veel moeite
gedoen om spesifieke beskrywings van die plekke te gee
nie; hulle was in elk geval onbekend met die omgewing
van die plase. Die beskrywings was soms heeltemal ontoereikend
en die amptenare het nie omgegee of die eienaar van die
weiregte ander persone in hulle regte te na sou kom, of
lastig sou val nie.
In 1725 was die getal veeboere
aan die noordelike grens alreeds 50 in getal en in 1735
word die getal as 135 huisgesinne aangegee. Gedurende
1725 en die daaropvolgende jare, het die Swartland vinnig
ontwikkel. Die eerste veeboere het hulle reeds in die
vallei van die Olifantsrivier gevestig en permanente en
duursame opstalle is tot stand gebring. Die omvang van
die plase was bereken dat dit 'n deursnee van een uur
se stap moes hê, d.w.s. ongeveer drie myl by drie
myl, of naastenby 3 000 morg.
Op
10 Desember 1732 word aan Joachim toestemming verleen
om vir een jaar met sy vee (wat hy blykbaar reeds moes
besit het) op die veepos "Kanse Fonteijn" in die vlakte
van die Piquetberg op die verlate plaas van Gerrit van
Aardt te staan. (Argief Kaapstad R.L.R. Nr.9. -395.) Terwyl
hy met sy vee hier gestaan het, is hy op 31 Mei 1733 in
Stellenbosch weer getroud met die weduwee van Arij van
Wijk t.w. Antoinetta Campher. In die huweliksregister
word nog na hom as 'n burger van Drakenstein verwys. Uit
hierdie huwelik is geen kinders gebore nie, maar gesamentlik
was hulle verantwoordelik vir die Strang (Raesen) dogter,
wat haar weer by Joachim gevestig het, Joachim se seun,
en die tien Van Wyk kinders van Antoinetta.
Op
13 September 1733 het hy toestemming ontvang om hom op
die plaas "Elandskloof over de Olifants Rivier" te vestig.
(Argief Kaapstad -R.L.R. Nr. 9. -839.) Blykbaar het hy
nie onmiddellik verhuis nie, want op 9 Oktober 1733 rapporteer
Jacob Kruger, die Veldkornet, dat Joachim nog op "Kanse
Fonteijn" staan.
Op
"Elandskloof" het dit ook maar moeilik met Joachim
gegaan en sy tweede vrou het hom hier in 1735 ontval.
In die gemeentelike uitgawe "Ons Kerk in die Bo-Olifantsrivier,
Citrusdal, 1716 - 1966" skryf dominee A. P. Smit
dat hy nie die begraafplaas kon opspoor nie. Ds. Smit
wys ook daarop dat in die jare 1738-39 die gevaar van
rooftogte deur die Boesmans so groot was, dat die Boere
van Agter-Piketberg moes ontruim aangesien die Boesmans
'n skrikbewind in hierdie streke gevoer het. Joachim moes
ook planne beraam om van die heel voorste poste terug
te val en hom te vestig waar die aanslae en diefstalle
van die Boesmans nie so erg was nie.
Ds.
Smit gee die naam van die aanlegger en eerste eienaar
van "Elandskloof" as "Joachim Schultz"
. Die oorspronklike inskrywing waarna verwys word is nagegaan
en alhoewel die dokument ietwat onduidelik is, blyk dit
dat dit tog "Joachim Scholtz" kan wees. Wat
wel verbasend is, is dat die naam in hierdie geval korrek
deur die Nederlandse amptenaar gespel is.
In
sy boek "So the High Road" vermeld Jose Burman
dat twee bergpasse wat gebruik was om die Bo-Olifantsrivier
en omgewing te bereik t.w. "Piekenierskloof en "Karbouskloof"
wat naby die huidige Porterville geleë was, die afgelope
honderd jaar nie meer in gebruik is nie. Blykbaar is die
oorspronklike "Piekenierskloof" die oudste van
die twee passe, en is dit reeds in 1660 as roete gebruik.
In
1685 het Simon van der Stel ook hierdie pas met sy tog
na Namakwaland gebruik. Die plaas "Elandskloof" het op
die pad na die Bokkeveld gelê.
In
die gemeentlike uitgawe van "Die Geskiedenis van Malmesbury"
word vermeld dat die Swartland al teen hierdie tyd taamlik
beset was en dat oop waters en fonteine omtrent alles
al opgeneem en beset was op die bewoonde plase. Onder
hierdie omstandighede het Joachim besluit om eiendomsreg
oor 'n plaas in die meer besette deel te verkry. Hy het
die plaas "De Klijne Vogelvallei" aan die Piquetberg gekoop
en hom dus as volwaardige eienaar na die "Swartland" teruggetrek
-- nou nie meer 'n boer met slegs weiregte nie.
Terwyl
hy hier in die Swartland woonagtig was, het hy hom op
die veeboerdery sowel as die landbou toegelê. As boer
het hy arbeid nodig gehad en het hy omstreeks 1736 'n
manlike slaaf van Abraham Paling vir 120 Riksdaalders
gekoop. Die slaaf is op skuld gekoop en die finale vereffening
van die koopsom het met die afhandeling van die Boedelrekening
van Joachim plaasgevind.
In
1738 is Joachim hier op die plaas " De Klijne Vogelvallei",
aangrensend aan die huidige dorp Piketberg, oorlede en
vermoedelik begrawe. Met die boedelvendusie op 23 September
1738 het Hendrik Kruger die plaas vir 1088 Riksdaalders
gekoop. Die boedelrekening Nr. 16 van 1739 is deur die
"Weesmeesteren" aanvaar en op 31 Julie 1739 onderteken.
(Argief Kaapstad MOOC 13/4.)
Alhoewel
Hendrik Kruger in die boedelrekening aangegee word as
die koper van die plaas, moet daar tog bedenkinge daaroor
bestaan, want hy was op daardie tyd slegs 12 jaar oud.
Dit is waarskynlik dat dit sy ouer broer, Jacob Kruger
(wat ook 'n stief-skoonseun van Joachim was, want hy was
met die Strang (Raesen) dogter getroud) die plaas namens
Hendrik gekoop het. Jacob het vanaf 1734 tot 1752 weiregte
agter die "Blaauwberg" gehad en in 1752 het hy na die
Roggeveld verhuis. (Sien Dr. E.E. Mossop "Lives of the
Krugers told in a revised Genealogical Table" - Argief
Jaarboek vir SA Geskiedenis - 1947.)
Skriftelike
kommentaar van Richard Ball: Die koper
was Hendrik Krugel, en nie Kruger nie.
Hy was die skoonseun van Anthonetta Campher. In hulle
testament van 1769 het Hendrik Krugel en Maria van der
Swaan 'onse van d'E Compagnie in leening hebbende Vee
plaats gent. de Kleyne vogel valleij bij de piequet Berg'
aan hulle dogter Margareta Krugel gelaat.
Toe
Joachim die plaas "Klein Voëlvlei", soos dit tans bekend
staan, in besit geneem het, was dit 'n verlate plaas en
dit kan aanvaar word dat die verbeteringe daarop minimaal
was. Watter verbeteringe hy aangebring het kan onder omstandighede
nie vasgestel word nie, maar aangesien dit tot op daardie
tydperk slegs as weiregteplaas gebruik was en dat daar
geen prys vir die plek betaal was nie, moet daar aanvaar
word dat daar geen verbeteringe op die plaas was nie.
Watter verbeteringe Joachim wel aangebring het is ook
nie duidelik nie, maar die feit dat na sy afsterwe die
plaas teen 'n redelike prys verkoop is, moet dit aanvaar
word dat daar wel verbeteringe aangebring was.
Volgens
Hans Fransen en Mary Cook (The Old Houses of the Cape
bl. 16) was daar nog 'n aantal jaar gelede 'n bouvallige
huis op "Kleijn Vogelvallei" waarvan die kern moontlik
baie oud was. Die huis was oorspronklik skynbaar T-vormig
met 'n voorhuis, 'n slaapkamer aan die kant en 'n kombuis
aan die agterkant.
NOTAS
VIR ANNA MARIJNA SWART
C.C.
de Villiers -"Oude Kaapsche Familiën" gee die naam aan
as Anna Marijna. Sy is nie in Suid-Afrika gebore nie,
maar wel in Swede. Sy is van Stockholm afkomstig en die
doopsertifikaat kan dus nie nagegaan word vir die regte
naam nie. In die verbeterde uitgawe van "Oude Kaapsche
Familiën" gebruik Pama die naam Anna Maria, - op welke
gronde hy dit doen is nie duidelik nie. Hoge in "Personalia"
asook Malherbe in "Driehonderd Jaar Nasiebou" gee albei
die naam as Anna Maria aan.
Onder
welke omstandighede sy aan die Kaap gekom het is nog nie
vasgestel nie. Sy moes voor die jaar 1712 al in die Kaap
gewees het, want in daardie jaar is sy met Martin Mecklenburg,
van Köningsberg afkomstig, op 22 Mei in Kaapstad getroud.
Uit hierdie huwelik is geen kinders gebore nie. (Hoge
- Personalia) Mecklenburg se afsterwe is nog nie vasgestel
nie.
Sy
is weer in die huwelik bevestig op 4 Augustus 1720 met Carl
Strang, 'n mede Sweed afkomstig van Götenberg in Swede. Drie
kinders (dogters) is uit hierdie huwelik gebore.
1. Maria Strang - ongeveer 1719.
2. Christina Strang - gedoop in Kaapstad op 14 September
1721.
3. Sophia Strang - gedoop in Stellenbosch op 26 September
1723.
Hoge in "Personalia"
meld 'n dogter met die naam "Maria", gebore
10 Sept 1719 onder die naam Stoote Heinrich Raesen, ook
genaamd Raesenen of Roosen - dus voordat sy met Carl Strang
getroud was. Die eerste dogter hierbo genoem t.w. Maria
Strang, blyk as na geboortedatums gekyk word, dieselfde
te wees as Maria Raesen en dus nie Maria Strang nie. Die
huwelikssertifikaat tussen haar en Raesen kon nog nie
gevind word nie. Hulle was altwee Swede en hoogs moontlik
het die huwelik in die Lutherse Kerk plaasgevind, maar
daardie registers is nog nie deurgewerk en bestudeer nie.
Uit haar huwelik met Joachim Scholtz is twee seuns gebore.
In hierdie tyd het altwee van hulle aan die Lutherse Kerk
behoort, maar die huwelik het wel in die N.G. Kerk, Paarl,
op 3 Augustus 1727 plaasgevind. Sy is in 1732 oorlede.
(Boedel rekening Nr. 83 van 1734 gedateer 8 Desember 1734.
MOOC 13 /2 Argief Kaapstad).
NOTAS
VIR ANTHOINETTA CAMPHER:
C.C. de Villiers gee die naam aan as Agnita. Die naam
kom in die huweliksregister sowel as in die boedel van
Joachim as Antoinetta, en 'n enkele keer as Anthonetta,
voor. Waar De Villiers egter na haar vorige huwelik met
Arij van Wyk verwys, word die naam as Antoinetta aangegee.
Hoge gee ook die naam as Antoinetta aan. Sy was die dogter
van Lorenz Campher en Ansela van die Kaap.
Haar
vader, Lourenz Campher, was afkomstig van Danzig, Pommern,
nou Duitsland. Hy was later 'n Vryburger van Stellenbosch
en die eienaar van die plaas "Muratie" naby Koelenhof.
Sy
was die weduwee van Arij van Wyk wat op die plaas
Kuikenvallei gewoon het. Arij was die seun van Williem
van Wyk en Catharina Hillebrandts. Uit haar huwelik met
Arij is tien kinders gebore en uit haar huwelik met Joachim
is geen kinders gebore nie. Joachim was dus verantwoordelik
vir die Raesen dogter, twee Strang dogters, sy eie twee
seuns en die tien kinders Van Wyk - altesaam vyftien kinders.
KINDERS
VAN JOACHIM SCHOLTZ EN ANNA SWART:
b1. Johannes Paasen Scholtz, gedoop 21 September 1727.
Johannes moes op 'n baie jeugdige ouderdom gesterf het,
want geen verdere verwysing na hom kan gevind word nie.
b2. Jan Joachim Scholtz, gebore 28 Mei 1730 in die Kaap,
oorlede 2 August 1804 in Stellenbosch. Hy trou op 19 September
1748 in Swartland (Malmesbury), met Catharina Elizabeth
van Wyk, gedoop 15 Oktober 1730 in Kaapstad. Sy sterf
18 Julie 1777 in "de Rogge Cloof", in die omgewing van
Sutherland. Hy trou 'n tweede keer met Johanna Elizabeth
Hamman op 22 November 1778 in die Paarl. Sy is gebore
in die Drakenstein op 16 November 1750 en oorlede 3 August
1826 in die Swartland (Malmesbury).
Geskryf
deur J A (Bertus) Scholtz (1907 - 1997)
Bydrae
te danke aan:
Inligting voorsien deur Ian Scholtz ians@transnet.co.za
Webblad: