DIE
GEMEENTE SWARTLAND - GESTIG 1745
Opgestel
deur Bazett Meyer
1. Voorgeskiedenis
In 1655 stuur van Riebeeck 7 soldate onder leiding van
Adelborst Jan Wintervogel om die gebied wat later as
die Swartland bekend sou staan te verken. Wintervogel
het ondervinding van verkenningswerk opgedoen in Brasilië.
Van hierdie 7 man het 6 teruggekom. Die ongeval was
Jan de Vos "die van eenige bitter amandelen te veel
gegeten overleden is"
Dit
is onbekend waar die Swartland sy naam gekry het maar
vandag word dit aanvaar dat die donkergroen van die
Renosterbos wat `n swartagtige voorkoms het die naam
veroorsaak het. Die naam gaan in elk geval so ver terug
as 1701.
Vanaf
1700 word daar jag en weidingslisensies uitgereik wat
gewoonlik net vir `n jaar geldig was. So ver bekend
was die eerste van die plase Tweekuil wat gegee was
aan die "vrylandbouwer" Johannes Vos "om voor den tyd
van een geheel jaar met desselfs vee, bestaande uit
runderen en schaapen, aan of tusschen Riebeeck Casteel
en't Swarte land, gent. De twee kuylen te mogen gaan
leggen en laaten weyden en gedurende die tyd te bouwen
off saaien" Uit voorafgaande blyk dit dat alhoewel die
hoofklem op veeboerdery geval het, die graanbou toe
reeds aandag geniet het.
Ander
streke in die omgewing was Groenkloof (die huidige Darling
) asook Paardenberg wat sy naam gekry het van die "wilde
paarden" (Zebras), Riebeeck Kasteel en Vier en Twitig
Rivieren (die huidige Porterville).
2.
Persone betrokke by die stigting
Baron Gustaf Willem van Imhoff
Hy
besoek die Kaap in Januarie 1743 op pad na Nederlands
Oos Indië waar hy die pos as Goewerneur Generaal sou
aanvaar. Hy besoek die Zwartland en Roodezand (Tulbagh)
en was geskok oor die leefwyse van die mense en beskryf
hulle as `n versameling blinde heidene eerder as `n
kolonie van Europeërs en Christene. Hy stel voor dat
hierdie twee gebiede elk `n kerkplaas kry. Die saak
word ondersoek deur di F.C. le Sueur van Kaapstad en
W. van Ghent van Stellenbosch wat saamstem met die bevinding.
Van Imhoff beveel aan dat die eerste skeepspredikante
wat in die Kaap aandoen agtergehou moes word om die
twee gemeentes te bedien.
Die
weduwee van Pieter van der Westhuyzen
In 1744 koop die politieke Raad `n plaas by die weduwee
van Pieter van der Westhuyzen. Baie min is bekend oor
die weduwee van der Westhuyzen maar daar word vermoed
dat sy Beatrix Olivier was wat in Oktober 1721 met Pieter
van der Westhuyzen in die eg verbind is. Pieter was
`n wewenaar en hy was die sewende kind van die stamvader
Pieter van der Westhuyzen.
Wietse
Botes
Wietse het uit Enkhuizen , Holland met sy vrou Anna
Pieterse aangekom en is aangestel as sieketrooster.
Die amp se funksies was om siekes te vertroos, ter dood
veroordeeldes vir hulle einde voorberei, preke te lees
in die afwesigheid van `n predikant en onderwys in die
plaaslike kerkskool gee. Adam Tas het na hierdie amp
verwys as "`n krancke bedroever" a.g.v. die slegte naam
wat hulle gehad het.
Gedurende
die ampstermyn van Ds Weerman lees ons niks van Wietse
Botes nie en na e.g. se vertrek word hy opgevolg deur
Ds Voltenen van 1750 tot 1755.
Gedurende
die ampstermyn van Ds Voltenen was daar klagtes oor
die skoonhou van die kerk. Volgens Kerkraadsnotule 12
Maart 1753 word hy as Koster ontslaan en Nicolaas von
Wielich word in sy plek aangestel as Koster. Botes het
wel as Sieketrooster en Voorleser aangebly.
Die
aanstelling van von Wielich het nie `n einde gebring
aan die spanning tussen Botes en en die gemeente nie.
Dit blyk dat Botes en von Wielich saam begin drank verkoop
het. Dit het so erg geword dat daar selfs Sondae by
die kerk drank te koop was. Dit was later so erg dat
die ambagsmanne by die kerk nie in staat was om hulle
werk te doen nie.
Vir
die Kerkraad en Ds Croeser was dit te veel en in 1766
word hulle verbied om drank op Sondae te verkoop. Hulle
is later verbied om selfs drank verniet weg te gee.
(Kerkraadsbesluit 11 Mei en 5 Oktober 1766.)
Botes
se loopbaan as Sieketroosteer eindig na 30 jaar in 1774
op sy eie versoek aangesien hy reeds 62 jaar oud is.
Niks is verder van hom bekend nie.
Sy
pos word nie hervul nie en die amp van sieketrooster
verval na `n aantal jare uit die Kerk.
Ds R.A. Weerman
Na
die aanstelling van Wietse het die politieke Raad daarin
geslaag om `n predikant te verkry. Hy was ds Rutger
Andreas Weerman en is op 15 Oktober 1744 in Holland
bevestig tot leraar van die Kerk in Oos Indië. In die
Kaap is hy "aangehou" as leraar vir Swartland. Op Saterdag
27 Junie 1745 word die Gemeente Swartland dan gestig.
Hierdie gemeente is dus die vyfde gemeente in Suid Afrika
en word voorafgegaan deur Tulbagh. Die eerste Kerkraad
word by wyse van stemming deur die hele gemeente (55
siele maar slegs 28 manlike lidmate het gestem). `n
Lys van name van die eerste lidmate word aangeheg.
Ds
Weerman vertrek in Des 1748 en gaan na Batavia. Daar
is niks bekend van sy verdere loopbaan nie.
Pieter
Venter (ouderling)
Hy was heelwaarkynlik die derde seun van die stamvader
Hendrik Venter van Hameln wat as kolonis gekom het en
ongeveer 1713 oorlede is. Sy moeder was en Anna Viljoen.
Pieter self is November 1721 met Hester Nel getroud
en was sowat 45 toe hy ouderling geword het. Reeds in
1739 is `n weilisensie aan Pieter toegestaan vir die
veepos Weltevreden naby Riebeek Kasteel. Sy lidmaatsertifikate
is uit Kaapstad oorgeplaas. Hy was `n man van aansien
en die leidende ouderling. Ook het hy die gekombineerde
Kerkvergadering in Kaapstad gedurende Augustus 1745
bygewoon om o.a. oor die grense van die Gemeente Swartland
te besluit.
Gerrit
Olivier (ouderling)
Hy was vermoedelik `n seun van die stamvader Hendrik
Olivier van Oude Kerk wat in 1671 aan die Kaap gekom
het en daarna met Beatrix Verwey van Woerden trou. Gerrit
tree in die huwelik in Mei 1693 met Maria Magdalena
van der Westhuyzen, skoonsuster van die weduwee van
der Westhuyzen. Daar is rede om te glo dat Gerrit die
broer van die weduwee van der Westhuyzen was. Hy was
52 toe hy as ouderling verkies is.
Floris
Smit (diaken)
Hy was `n kleinseun van die stamvader Jan Smit. Die
plaas De Gunst word in Oktober 1740 aan Floris toegeken.
`n Maand voor dit is hy met Margaretha Steenkamp getroud.
Van hulle nasate woon steeds in die Swartland.
Jan
Loubser (diaken)
Johan Albertus Loubser was die kleinseun van die stamvader
Nicolaas Loubser of Lopser. Jan is in September 1720
gedoop te Stellenbosch en het op 21 jarige leeftyd met
Elizabeth Johanna Mosterd getrou.
Ds.
G.C. Croeser 1755 - 1770
In 1755 ruil Ds Voltenen plekke met Ds. Groeser , mede
leeraar in Kaapstad en vir die volgende 15 jaar sou
hy diens doen as derde leeraar van Swartland. Gerhardus
C. Croeser kom van Sappemeer, Nederland en land in Kaapstad
op 17 September 1754 en drie weke daarna lewer hy sy
intreepreek as medeleraar in die moedergemeente Kaapstad.
In November 1775 word hy op eie versoek na Swartland
verplaas. Gerhardus was twee keer getroud. Sy eerste
vrou was Geertruy Sprakel en na haar dood is hy weer
in die eg verbind met Johanna Christina Delits wat hom
oorleef het by sy dood in 1770. Hy was die stamvader
van die Croeser familie in ons land.
Afgesien
van die probleme wat Croeser met sy Sieketrooster en
Koster gehad het, het hy en sy twee ouderlinge (tot
1829 het Swartland slegs 2 ouderlinge en 2 diakens gehad),
Paul Retief en Stephanus Walters, `n sekere Hendrina
van der Westhuizen die Nagmaal belet en van die gemeente
afgesny op grond van vermeende meineed. Hendrina het
suksesvol na die Fiskale Raad van Justisie geappelleer.
Om die saak `n godsdienstige kleur te gee is opdrag
aan die Kerk in Kaapstad gegee om die sensuur te gaan
ophef en Ds Croeser en sy ouderlinge te gaan bestraf.
Die Kaapse gemeente het die opdrag gelate aanvaar en
uitgevoer. Nie alleen was dit uiters vernederend vir
die Gemeente Swartland nie maar die presedent van Kerklike
onderhorigheid aan die Staat is geskep wat nog vir jare
sou voortduur.
Op
2 Oktober 1768 lei Ds Croeser sy laaste kerkraadsvergadering
en beswyk op 25 Mei 1770. Hy is soos gebruiklik voor
die kansel in die kerk begrawe.
Nicolaas
von Wielich (Koster)
Nicolaas von Wielich arriveer in die land ongeveer die
helfte van die 18de eeu uit Hamburg. Hy word aangestel
as koster in die Gemeente Swartland. Verwys ook na Wietse
Botes. Hy hou hierdie pos vir die volgende 22 jaar.
Ds.
D. Goldbach (1774 - 1783)
Die vierde predikant van Swartland was Daniel Goldbach.
Hy het die gemeente in uiters haglike omstandighede
aangetref maar het gou weer die gemeente opgehef uit
geestelike verval. Hy sal onthou word as een van die
beste en innemendste leeraars wat die Swartland gemeente
gehad het. Van sy persoonlike sake is bitter min bekend.
Niemand weet of hy getroud was of nie. Wat belangrik
is, is dat gedurende sy ampstermyn Nicolaas von Wielligh
sy amp as Koster neergelê het en in sy plek word Jan
Hendrik Rust, die stamvader van hierdie familie, in
die pos aangestel.
Op
20 Maart 1783 is ds Goldbagh oorlede as gevolg van `n
ongeluk aan sy nek. Die detail van daardie ongeluk is
nie bekend nie.
Ds.
P.J. van der Spuy (1786 - 1806)
Die vyfde predikant in die Swartland was Petrus Johannes
van der Spuy. Hy was die kleinseun van die stamvader
Melt van der Spuy en dus die eerste Afrikaner leeraar
van die gemeente. Hy was getroud met Johanna Margaretha
Domus en die egpaar het 5 kinders gehad. Hy was egter
nie die eerste Afrikaner leeraar nie want daardie eer
het sy oom Petrus van der Spuy gehad en lg. was leeraar
van Drakenstein (Paarl) van 1753 tot 1781.
Die
tydperk waarin Ds. van der Spuy in Swartland as leeraar
diens gedoen het was belangrik omdat albei die Britse
besettings tydens sy dienstermyn plaasgevind het.
Hy
word verplaas na Paarl in 1806 en sterf minder as `n
jaar later aan masels op 46 jarige ouderdom.
Ds. M.C. Vos (1810 - 1811)
Die sesde predikant van die Swartland was Michiel Christiaan
Vos. Net soos sy voorganger was hy ook `n gebore Afrikaner.
Hy was die vyfde kind van die stamvader Jan Hendrik
Vos wat in Batavia gebore is en voor 1748 na Suid Afrika
gekom het.
Ds.
Vos was die eerste sendingpionier en het onverskrokke
evangelisasie aan nie blanke inwoners aan die Kaap gedoen.
Gedurende hierdie tyd was `n wet van 1770 in swang wat
bepaal het dat slawe wat gedoop en aangeneem is nie
verkoop mag word nie. Uit vrees vir finansiële verliese
was baie boere nie bereid om sendingwerk op hulle plase
toe te laat nie. Hierdie wet wat ten doel gehad het
om slawe meer humanitêr te behandel het liederlik gefaal
en is in 1812 herroep.
Ds.
Vos word in 1811 oorgeplaas na Swartberg (Caledon) om
die eerste predikant in die pasgestigte gemeente te
word.
Ds
J. Scholtz (1811 - 1827)
Die sewende predikant van die Swartland was Jacobus
Scholtz die seun van Jan Joachim Scholtz en dié se tweede
vrou, Johanna Elizabeth Hamman. Jan Joachim Scholtz
was die tweede seun van stamvader Joachim Scholtz van
Oudemarkt, Brandenburg, Duitsland en Anna Maryna Swart.
Gedurende sy dienstyd raak hy `n paar keer slaags met
die Kaapse gemeente en daar word besef dat `n hoër kerklike
gesag nodig is en op 2 November1824 kom die eerste Sinode
bymekaar in die konsistorie van die Grootte Kerk Kaapstad.
Twaalf van die veertien gemeentes word hier verteenwoordig.
Ds.
Scholtz neem dan ook deel aan die herbepaling van gemeentegrense.
(sien later)
Die volgende jaar sterf Ds. Scholtz en word in die Kerk
grond begrawe en nie voor die preeksoel nie aangesien
die grond van die ander grafte gesak het wat holtes
in die vloer veroorsaak het.
Sy
seun John William Lewis Scholtz word die eerste leeraar
van Piketberg.
3.
Die
eerste lidmate
en Lidmaatskap oorgedra van watter gemeente:
Jasper Slabber Gemeente Kaapstad
Gideon Slabber Gemeente Kaapstad
Francina Kerste Gemeente Kaapstad
Johanna Visser Gemeente Kaapstad
Maatje Slabber Gemeente Kaapstad
Floris Smit Gemeente Kaapstad
Margaretha Steenkamp Gemeente Kaapstad
Jacobus Smit Gemeente Kaapstad
Elizabeth Slabber Gemeente Kaapstad
Catharina Gous Gemeente Kaapstad
Pieter Venter Gemeente Kaapstad
Hester Nel Gemeente Kaapstad
Anna Gous Gemeente Kaapstad
Johannes Pool Gemeente Kaapstad
Aletta Elizabeth Mosterd Gemeente Kaapstad
Hugo Lambrechts Gemeente Kaapstad
Huybrechen Visser Gemeente Kaapstad
Michiel Basson Gemeente Kaapstad
Maria Magdalena van der Westhuizen Gemeente Kaapstad
Johanna Slabber Gemeente Kaapstad
Adriana Smit Gemeente Kaapstad
Neeltje Visser Gemeente Kaapstad
Christina Gous Gemeente Kaapstad
Sara Gous Gemeente Kaapstad
Pieter Smit Gemeente Kaapstad
Gideon Smit Gemeente Kaapstad
Francois Smit Gemeente Kaapstad
Weduwee Susanna Visser Gemeente Stellenbosch
Johannes Lopser (Loubser) Gemeente Stellenbosch
Elizabeth Johanna Mosterd Gemeente Stellenbosch
Margaretha Hatting Gemeente Stellenbosch
Maria Hatting Gemeente Stellenbosch
Elizabeth Prins Gemeente Drakenstein (Paarl)
Elizabeth Lombaard Gemeente Drakenstein (Paarl)
Johanna Catharina van Jaarsveld Gemeente Drakenstein
(Paarl)
Susanna Durant Gemeente Drakenstein (Paarl)
Weduwee Anna Maria Bacot Gemeente Drakenstein (Paarl)
Anthonie Lombaard Gemeente Drakenstein (Paarl)
Johanna Snyman Gemeente Drakenstein (Paarl)
Theunis van Aarde Gemeente Drakenstein (Paarl)
Hilletjie Kervel Gemeente Drakenstein (Paarl)
Jan Labuschagne Gemeente Drakenstein (Paarl)
Geesje Steenkamp Gemeente Drakenstein (Paarl)
Paul Retief Gemeente Drakenstein (Paarl)
Dorothea Melius Gemeente Drakenstein (Paarl)
David Malan Gemeente Drakenstein (Paarl)
Leonora Melius Gemeente Drakenstein (Paarl)
4. Die Area van Swartland Gemeente.
Die Swartland Gemeente moet gesien word as `n gebied
wat histories afgebaken is en nie deur geografiese hindernisse
na die Noorde afgesper word nie. In die begin jare was
dit bepaal deur die area wat die Swartland Gemeente
bedien het.
Ons
het reeds gesien dat die gebied stadig bevolk is vanaf
1700 en dat `n gemeente in 1745 afgestig het van die
stadsgemeente Kaapstad. Om verwarring te voorkom word
daar `n "Gekombineerde Kerkraadsvergadering" tussen
die verskillende gemeentes Kaapstad, Drakenstein (Paarl),
Stellenbosch, Swartland en Roodezand (Tulbagh) op 30
Augustus 1745 te Kaapstad gehou.
Hier
word die grense van Swartland dan as volg vasgestel.
Die gebied swartland vanaf die teenswoordige Malmesbury
wes, wat Groenkloof (Darling) insluit tot by die see.
Al met die Weskus op tot by St Helenabaai vandaar suid
van die Bergrivier om Riebeek-Wes en Riebeek Kasteel
en verder om die Paardenberg en terug tot by die huidige
Malmesbury.
In die praktyk werk dinge egter nie so maklik uit nie
en in 1814 word daar aan die Goewerneur `n verslag voorgelê
wat daarop dui dat die grense in mindere of meerdere
mate verskil van die grense wat in 1745 neergelê is.
Op daardie stadium is daar nie grense gedefinieer nie
maar in 1826 moes die Kerkraad aan die Sinode (wat nou
vir die eerste keer na stigting sit) verklaar dat die
grense van die Gemeente nie met sekerheid uitgewys kan
word nie.
Dit
blyk dan uit doopregisters dat kinders gedoop is van
wie die ouers woonagtig was van Koeberg tot anderkant
Kamiesberg (Springbok), `n afstand van 500 kilometer.
Verder vind ons dat kinders gedoop is wie se ouers woonagtig
was aan Vier-en-twintig-Riviere (Porterville) Olifantsrivier
(Citrusdal), Voor-en-Agter-Piketberg (Piketberg), Aurora,
Velddrif, Verlorenvallei (Redelighuys), Hantam (Calvinia),
Bokkeveld (Ceres) en die Roggeveld (Sutherland). Van
hierdie het almal onder Tulbagh geval. Volgens die grense
van 1745.
In 1820 skryf skryf Ds J Scholtz aan die Goewerneur
en versoek die Goewerneur dat hierdie mense in die toekoms
nog toegelaat moes word tot die Gemeente aangesien dit
vir hulle nader is. Ook omdat toegang makliker is na
Swartland as na Tulbagh. Hierdie versoek is ook toegestaan
(Letters Received, 1820, C.O. No. 39 Staatsargief Kaapstad).
Indien
mens na die afstigting van gemeentes kyk kry ons ook
`n beeld van hoe groot die gemeente was en hoe daar
afgewyk is van die oorspronklike grense.
Tygerberg
(Durbanville) stig af in 1826.
Piketberg
stig af in 1833 en neem die wyk Vier-en-Twintig-Rivieren
(Porterville) saam. Dis noord van die Bergrivier en
dus voorheen toegewys aan Tulbagh. Die geskiedenis van
Porterville verwys egter na lidmate wat vroeër by Tulbagh
ingedeel was.
Hopefield
(Saldanhabaai) stig af in 1852. Die dorp was voorheen
Soutrivier genoem.
Groenkloof
(Darling) stig af in 1853.
Riebeek-Wes
stig af in 1858. Hier was `n interessante geval want
die Kerkraad van Swartland weier om toestemming tot
afstigting te gee. Intussen bou Riebeek-Wes `n kerk
wat 800 lidmate hou. Toe die saak by die ring uitkom
was die kerk klaar gebou, en betaal, boonop was die
salaris van die predikant gewaarborg. Die ring gee hulle
toe reg om af te stig.
Riebeek-Kasteel
stig af in 1863.
Philidelphia
(Koeberg) stig af van Durbanville en neem 60 Swartland
lidmate saam in 1863
Hooikraal (Moorreesburg) stig af in 1879.
Geen
melding word gemaak in die Swartlandse gemeente geskiedenis
van die ontstaan van gemeentes soos Calvinia , Citrusdal
ens nie. Ons kan in nabetragting dus aflei dat die Swartland
bestaan het uit die koring verbouing area, die Sandveld
plus die weskus tot so vêr Noord as Elandsbaai.
Vier-en-Twintig-Rivieren
(Porterville) stig af van Piketberg op 25.2.1879. Daar
is egter in die geskiedenis van Porterville verwys na
sekere lidmate wat by Tulbagh ingedeel was. Geografies
is dit onlogies dat Porterville by Tulbagh ingedeel
was aangesien Malmesbury makliker was om te bereik as
Tulbagh alhoewel die afstand effens verder is.
5.
Die Juridiese Ontwikkeling van die Swartland.
Op 21 Mei 1829 word die Plaaskerk Swartland as dorpsgebied
geproklameer en word Malmesbury genoem ter ere van die
Hertog van Malmesbury (Engeland) Sir Edward James Harris
wie die skoonpa van Sir Lowry Cole (die Goewerneur)
was.
Opgestel
deur Bazett Meyer 18.10.2000 hersien 11.11.2000.
Bronne
1. Na twee honderd jaar - Nederduits Gereformeerde Gemeente
Swartland. Ds A.P. Smit. Uitgegee deur die N.G. Kerkraad
Malmesbury 27/6/1945
2. Die Museum te Malmesbury
3. Die eerste eeu van die Gemeente Porterville deur
C.F. Albertyn. Uitgegee deur die Nederduits Gereformeerde
Gemeente Porterville.
BACK
TO TOP