IV
GENADENDAL (Baviaanskloof) 1737
Genadendal
was begin as 'n sending in 1737 deur die Morawiese sendeling
Georg Schmidt
Georg Schmidt (1709 - 1785)
bydrae deur Basie Haasbroek
Georg
Schmidt van die Morawiese Orde arriveer op 09 Julie 1737
aan die Kaap, in daardie dae slegs nog 'n gehuggie met
ongeveer 200 strooidak huisies, elk met sy eie tuinery.
Die inwoners was grotendeels bestaansboere, om in eie
behoeftes te voorsien en ook om aan die Kompanjie te lewer.
Die vernaamste geboue was die Kasteel aan die waterfront
en die kerk aan die bokant van die Heerengracht straat.
Die hospitaaltjie was regoor die kerk geleë. Van strate
was daar geen sprake nie. 'n Vroeë 18-eeuse reisiger beskryf
die Kaap as volg. "De wegen overal bij het Casteel en
door de stadstraate legge schuins en over, met gaten als
offer de wilde varckens het hadde omgevroet, soo dat men
met vrees is van omvallen als men naar de stat sal rijden
of de Compagnes tuijne."
Nadat
Schmidt geland het, het hy verblyf by 'n eenvoudige gastehuis
bekom en tydens aandete is die volgende gesprek gevoer.
Een van die gaste het aan die ander tafelgenote gevra
of hulle gehoor het dat daar daardie dag 'n nuwe dominee
geland het om die Hottentotte in die binneland te bekeer,
met kommentaar dat hy nie werklik 'n dominee is nie, maar
slegs een van die eenvoudige werkers (dienare) van die
VOC, wat sy brood deur sy eie hande wil verdien. Dit het
tot groot gelag en spot gelei, totdat Schmidt sê: "Ek
is die man van wie julle praat". Hulle was totaal uit
die veld geslaan en het terstond vertrek.
Hy
was die eerste Protestanse sendeling in Suider Afrika
en na hom het bykans 'n halwe eeu verloop voordat ander
sendelinge weer hier kom werk het.
Die
Jesuïetiese orde het egter reeds in die 16de eeu in Oos
Afrika gewerk waar Vader Gonzalo da Silveira omstreeks
1550 in die omgewing van Delagoabaai vermoor is. Ongeveer
1650 was die Dominikaanse orde in die Oos Afrikaanse hooglande
bedrywig, waar volgens oorlewering die koning van die
Monomotapa (die gebied tussen die Zambesi en Sabie riviere)
inboorlingstam gedoop is.
Vanaf
1695 tot 1707 was Ds. Petrus Kalden predikant aan die
Kaap. Daar was ook nog 'n gemeente te Stellenbosch en
die Hugenote gemeente van Ds. Pierre Simond te Drakenstein.
Ds. Kalden het geweldig in die evangelisasie van die inheemse
volkere (die Hottentotte) belang gestel, en het selfs
begin om 'n studie te maak van hul taal, om sodoende met
hulle te kon kommunikeer. Gedurende daardie tyd het die
Deens-Halle Sendinggenootskap twee sendelinge nl. Ziegenbalg
en Plütschau na Indië gestuur. Tydens hulle reis na Indië
het hulle aan die Kaap oorgebly en was so getref deur
die totale verval van die inheemse volkere dat hulle onmiddellik
'n sterk pleidooi aan alle gesaghebbendes in Europa gestuur
het om vir die Kaapse heidene 'n sendeling te stuur. Aan
die Kaap was daar ook van die plaaslike inwoners wat vertoë
aan die bewindhebbers gerig het, om die nood onder die
heidene aan te spreek. So 'n persoon was die welgestelde
Hugenote koopman, Jacques de Savoye, wat die deur- reisende
en besoekende sendelinge tot besondere hulp was, o.a.
aan die Deense Sendeling Johann Georg Böving wat onderweg
was van die Ooste na Europa. Böving het deur middel van
'n tolk die evangelie onder die Hottentotte versprei.
In 'n dringende brief aan die Kompanjie bewindhebbers
het hy die ongevoeligheid van koloniste betreur en die
mening uitgespreek dat die bewindhebbers verantwoordelikheid
behoort te neem van die heidene se sieleheil. Kort daarna
het ook Ziegenbalg persoonlike voorspraak in Holland en
Duitsland gaan doen. Die Graaf Nicolaus Ludwig von Zinzendorf,
die stigter van die Morawiese Orde het diep onder die
besef van die nood onder die heidene aan die suidpunt
van Afrika gekom, nadat hy verskeie kere Ziegenbalg se
byeenkomste bygewoon het. Georg Schmidt is in 1709 te
Künewalde gebore en in 1727 begin hy sy opleiding as sendeling,
ook as kok te Hernhut, onder leermeester Zinzendorf.
Op
11 Feb 1736 onvang die M.O. 'n versoek van Holland om
'n sendeling na die Kaap te stuur en die keuse val op
die jong Georg Schmidt. Hy vertrek dadelik na Amsterdam
om deur die kommissie van die Gereformeerde leraars gekeur
te word.
Op 11 Maart 1737 vertrek hy na die Kaap met 'n brief van
die Direkteure van die VOC aan die Goewerneur aan die
Kaap om hom alle hulp in sy taak te verleen, aangesien
hy dit ten doel het om die onkundige en onbeskaafde barbare
na die Christendom te lei en ook om hulle te help tot
'n beter lewe. Schmidt het etlike weke in die Kaap vertoef
aan huis van Kaptein Rhenius (hy het 'n goeie vriend van
hom geword), totdat hy geleentheid saam met 'n geselskap
reisegers na die binneland bekom het. Dit was te onveilig
om alleen op reis te gaan, en om daardie rede was die
Goewerneur ook nie te bereidwillig om toestemming te verleen
vir sy vertrek nie.
Schimdt
verklaar dat hy tydens sy kortstondige verblyf aan die
Kaap geen vrug op sy arbeid bemerk het nie, want "ware
kinders van God kon ek nie vind nie" Die bediendes en
slawe aan die Kaap het weinig vrye tyd gehad, en die inwoners
(werkgewers) was hom nie juis goedgesind nie.
Op
04 September 1737 gee die Goeweneur persoonlik toestemming
dat hy saam met korporaal Kampen van die militêre voorpos
in die Hottentotsholland berge kan gaan. Die Goeweneur
het aan hom genoeg lewensmiddele voorsien en die korporaal
versoek om hom te help met die bou van 'n huis. Die voorpos
was geleë aan die Riviersonderend, sowat eenhonderd myl
(ongeveer 160 kilometer) vanaf die Kaap. Die reis het
nege dae geduur.
Die
korporaal het vir enige weke sy tent aan Schmidt beskikbaar
gestel, totdat hulle sy huis van kleimure klaar gebou
het. Sy huis is gebou waar die meeste Hottentotte gewoonlik
bymekaar gewoon het. Dit was families Hottentotte wat
aan die Hessekwastam behoort het, en wat al langs die
kusstreke gewoon het tot sover as die Keirivier. Hulle
was veeboere en het 'n swerwersbestaan gevoer soos hulle
gedurig agter beter weiding aangetrek het. Hulle was ook
gedurig in stryd met die Boesmans wat grootendeels in
die berggebiede gewoon het.
Schmidt
moes met die heidene deur middel van 'n tolk, ene Afrika
praat wat self maar slegs enkele Hollandse woorde geken
het. Schmidt kon nooit die Hottentottaal met sy tongklap
klanke bemeester nie. Na etlike maande kom hy agter dat
hy geensins vordering maak met die Hottentotte nie, omdat
die militêre pos, en dus per se die gesag van die Kompanjie
steurend op die Hottentotte ingewerk het en ook as gevolg
van beide kante se taalonbegrip. Sy werk het hoofsaaklik
bestaan uit pogings om enkele leergieriges te leer spel,
op Sondae uit die Bybel voor te lees en dan iets van die
Heiland te vertel. Schmidt skryf self "Elke aand het ek
die Hottentotte besoek, tussen hulle gaan sit, tabak aan
hulle gegee en saam met hulle gerook, en hulle van die
groot Vader, wat hulle Tui'kwa genoem het, vertel."
Op
23 April 1738 trek Schmidt vanaf die Riviersonderend en
gaan vestig hom by die ingang van die Baviaanskloof waar
hy 'n nuwe sendingstasie stig en dit word op versoek van
die goeweneur Genadendal genoem. Korporaal Kampen het
drie van sy soldate afgestaan om hom te help met die bou
van sy huis. Ook het 18 van die Hottentotte saam met hom
gekom om dan nou verder in die Christelike geloof onderrig
te word. Schmidt het 'n moeilike taak gehad omrede die
taalkwessie. Hy het ook nie werlik opleiding vir taalonderrig
gehad nie, maar moes met sy natuurlike aanleg, toewyding
en harde herhalende werk sy taak aanpak. Hy het ook geen
aanmoediging of hulp van die nedersetters verkry nie,
eerder teenstand, omdat hy nie 'n leraar was van deur
die Staats erkende kerk nie. Juis op hierdie tydstip het
die Morawiese Orde in Europa in onguns verval weens sy
oordrewe "gevoels teologie" en is beskou as 'n sekte en
separatisties. 'n Nederlandse teoloog nl. Kulenkamp het
in 1738 'n herderlike brief geskryf waarin Gereformeerde
leraars gewaarsku word teen die beskouings en metodes
van die Morawiërs. Hierdie brief is ook aan die Kaap ontvang
en is dan ook so deur gemeentelede aanvaar met gevolglike
negatiewe sentimente ten op sigte van Schmidt se werk.
Spangenberg, die opvolger van Zinzenberg kon egter daarin
slaag om hierdie negatiewe sentimente positief om te draai.
Schmidt het baie moeite gedoen om hierdie mening te weerlê,
en het selfs na die Kaap gereis om homself te onderwerp
aan 'n ondersoek deur die plaaslike Gereformeerde leraars.
Die lug is tot 'n mate gesuiwer deur twee deur reisende
Morawiëse sendelinge op pad na Ceylon (Sri Lanka) nl.
Nitschmann en Dr Eller met 'n verdedigingbrief teen Kulenkamp.
Dit het egter nie alle twyfel en weerstand uit die weg
geruim nie en die vraag het al hoe meer na vore gekom
waarrom Schmidt dan geen vrug op sy arbeid ervaar nie.
Hierdie vrae het hom net aangespoor om met nuwe ywer sy
werk voort te sit.
Sy
grootste struikelblok was egter die vervalle lewensaard
van die Hottentotte. Hulle het 'n geweldige afkeur gehad
aan 'n gevestigde lewe en om te werk vir 'n lewens- bestaan
was buiten hulle begripsvermoë. Luiheid was hul vernaamste
kenmerk. Die misbruik van sterk drank was aan die orde
van die dag, so ook vernielsug deurdat vee- eienaars net
eenvodig hulle vee in die gesaaides laat wei het. Selfs
enkeles soos Afrika en Cupido tot wie hy kon deurdring,
het hom meestal teleurgestel. Die toepas van tugmaatreels
deur dienste en onderwys op te skort het geen beduidende
uitwerking gehad nie. Die uitsondering was Willem by wie
hy 'n begeerte bespeur het tot 'n beter lewe.
Hy
het begin dink om die bekeerdes te doop en omdat hy nie
georden was nie kon hy nie die doop bedien nie, waarop
hy aan Zinzendorf skryf om hom die nodige gesag toe te
staan om die doop te mag bedien. In Maart 1742 onvang
hy dan ook sy ordeningsakte van Zinzendorf tesame met
'n begeleidende brief wat o.a. lees, "vertel hulle van
die Lam tot jy nie meer kan nie en as hulle iets voel,
bid dan met hulle en as hulle niks voel nie, bid dan vir
hulle. En doop hulle waar jy die seekoei geskiet het."
Willem
is sy eerste dopeling en hy word terstond op 31 Maart
1742 onderweg vanaf die Kaap in die Steenbrasrivier gedoop.
Op 2 April 1742 op Genadendal doop hy ook vir Afrika,
wat die naam Christiaan ontvang en 'n tydjie later ook
Vehettgen wat die naam Magdalena ontvang. Sy staan egter
later bekend as Lena. Solank as wat Schmidt hulle afsonderlik
be-arbei het, het dit goed gegaan, maar sodra hulle tussen
hulle eie mense gekom het hulle weer die ou lewenstyl
en gewoontes nagevolg. As gevolg hiervan kon Schmidt nooit
die nagmaal bedien nie. Hierdie drie was dan ook die enigste
wat Schmidt gedoop het (In die Dictionary of SA Biography
word melding gemaak van 5 Hottentote bekeerlinge wat hy
gedoop het, asook in C Spoelstra Bouwstoffen Vol 1 p 195)
Daar
is erge klagtes deur die nedersetters teen hom gelê na
aanleiding van sy werk, veral as gevolg van die drie wat
hy gedoop het. Hy is gedaag om voor die Kaapse kerklike
leiers te verskyn. Hy word toe verbied deur die owerheid
om dit weer te doen, en hulle maak melding dat hy die
doopelinge na Kaapstad moes gebring het om deur die NG
predikante gedoop te geword het. Dominees Le Sueur, van
Echten en van Gendt vra toe dat Schmidt terug gestuur
moet word na Holland. Schmidt was belet om te doop maar
hy was nie terug Holland toe gestuur nie. Die Goeweneur
het hulle siening gedeel dat sy ordening ongeldig is omdat
Zinzendorf dit toegestaan het en dit nie deur die plaaslike
leraars bemiddel is nie. Na die ondersoek is 'n skrywe
aan die ring van Amsterdam gerig met klagtes en waarin
advies gevra word oor hoe om die aangeleentheid te hanteer.
Terselftertyd vra hulle ook 'n sieketrooster om sendingwerk
onder die Hottentotte te kom doen, veral een wat hulle
behoeftes verstaan en vertroud is met hulle toestande.
Die
klagtes teen Schmidt was o.a. dat die "Hottentot bekeerder"
onbevoeg is om die werk te doen, siende dat hy aan die
Hernhutt sekte behoort, dat Zinzendorf geen gesag het
om 'n akte van ordering uit te reik in 'n gebied waar
die Gereformeerde godsdiens amptelik erken word nie en
om dit boonop nog per pos te doen is ongehoord, dat dit
buite orde is om die doop in 'n rivier te bedien in plaas
van tydens 'n erediens in die kerk en dat die dopelinge
nie werklik genoegsame onderrig in die Christelike leerstellings
ontvang het nie.
Met
sy aankoms in 1737 al het Schmidt die doop van moontlike
bekeerlinge met ds. Le Seuer en Kock bespreek en toe reeds
is probleme en moeilikheid voorsien. Selfs toe al was
die algemene gevoel en siening dat net sendelinge van
die erkende godsdiens van die land toegelaat moet word
om hier te werk.
Sonder
om op 'n antwoord van die ring van Amsterdam te wag vra
Schmidt verlof om na Duitsland terug te keer en vertrek
5 Maart 1744. Hy het gehoop om meer ondersteuning te kry,
maar hy konnooit weer na die Kaap terug kom nie. Hy sit
sy werk in sy vaderland voort tot met sy dood in 1785.
Die
sending werk in Genadendal moes wag tot 1792 voordat dit
weer opgevat was.
Bronne:
Baanbrekers onder die Suiderkruis deur Prof.Dr. G.B.A.Gerdener)
Dictionary of South African Biography Vol I, bl 692 -
694
Gaan loer ook na http://www.museums.org.za/genadendal/
TERUG NA BO