Met
die samewerking van die Afrikaanse GenForum
Kaapstad
Stellenbosch
Drakenstein
Genadendal
Roodezand
Swartland
Lutheran
Graaff-Reinet
Swellendam
Caledon
George
Uitenhage
Cradock
Beaufort-Wes
Somerset-Wes
Worcester
Vir 'n vol lys van die ontstaan
van NG kerke en van watter kerk hulle afgestig het.
KERKE in die KAAP tot 1824:
Die
kerk aan die Kaap het die burghers gevolg soos hulle verder
die land ingetrek het. Baie stamouers van die vroeë
Kaap was betrokke by dieselfde kerke. Dit is verbasend dat
die eerste 150 jare daar baie min kerke aan die Kaap was.
Dit moet onthou word dat die gemeentes vêr uitgestrek
was. Mense het hulle kinders gebring om gedoop te word,
hulle het vir nagmaal by die kerk saamgetrek, dan was hulle
ook by die kerk getroud. Die Kaapse Sinode het eers in 1824
instand gekom:
Die
KAAPSE SINODE (bydrae deur Andrew Kok)
Die Kerkraad van Kaapstad het die sinode byeengeroep vir
2 November 1824 "ter bevordering van die belangen der gezamentlijke
Nederduitsche Christelijke Hervormde gemeenten." Die kerkraad
van die hoofstad, met die Kommisaris-Politiek, die WelEd.Achtb.
Heer PJ Truter, oud-lid van die Ed.achtb. Raad van Justisie
het in die konsistorie sitting geneem om die geloofsbriewe
van die afgevaardigdes te ontvang. Die volgende was teenwoordig:
Kaapstad: Di. Heinrich von Manger; Jan Christoffel Berrangé;
Abraham Faure Oudl. Hendrik de Jong; Jan Hendrik Hofmeyr
(snr)
Stel'bosch: Ds Meent Borcherd Oudl. Jacobus Christiaan Faure
Paarl: Ds Tobias Herold Oudl. PJ Blignault
Zwartland: Ds J Scholtz
Tulbagh: Ds JR Kircherer (agv huishoudelike omstandighede
sluit hy laat aan) Oudl. Pieter Conradie; Johannes Diederik
Mohr
Graaff-Reinet: Ds Andrew Hofmeyr
Swellendam: Ds Cornelis Mol
Caledon: Ds George Thom Oudl. DF du Toit
George: Vakant Oudl. CL Campher
Uitenhage: Ds Alexander Smith Oudl. P Maree (sluit later
aan)
Somerset-Wes: Ds Jan Spyker Oudl. DJ Morkel
Worcester: Ds Henry Sutherland Oudl J du Toit Cradock:(1817)
Geen afgevaardigdes (NS ds Taylor was toe die leraar daar)
Beaufort: Geen afgevaardigdes (Gemeente vakant)
Op die vergadering is ds Berrangé verkies tot Moderator
en ds Borcherds tot sekretaris.
I.
KAAPSTAD gestig 1665
bydrae
deur Johan Erasmus

Van
Staden tekening 1710, Fort is aan die linker kant.
Die Kerk met toring kan gesien word.
Regs van die Kerk is die Poort wat lei tot die Hospitaal.

Van Staden tekening
1710, kerk met toring.
Voor die kerk is die Slawe Logie.
Links van die Kerk is die Hospitaal.
In die voorgrond is die Tuin.
Dit
word algemeen aanvaar dat die eerste gemeente aan die Kaap
met die volksplanting in 1652 tot stand gekom het. In die
begin moes die koloniste met die dienste van 'n godsdiensonderwyser
(sieketrooster) Willem Wylant tevrede wees (daar is 'n artikel
oor hom onder Beroepe). Behalwe dat hy gereelde godsdiensoefeninge
in die Fort waargeneem het, was hy ook verantwoordelik om
die kinders te onderrig en die evangelie aan die inboorlinge
te verkondig. Die eerste nagmaalsbediening aan die Kaap
word op 12 Mei 1652 deur 'n besoekende leraar, ds. Johannes
Backerus, waargeneem. Die doop word op 24 Augustus 1653
vir die eerste keer aan die Kaap bedien. Ander sieketroosters
wat tot en met die aankoms van die eerste leraar in die
Kaap gearbei het, was Pieter van der Staal, Ernestus Back
en Jan Joris Greef. Uiteindelik, nadat die volksplanting
goed op dreef gekom het, besluit die Here Sewentien in Amsterdam
om die eerste leraar in die Kaap aan te stel.
Op
18 Augustus 1665 land ds. Johannes van Arckel in Tafelbaai.
Daar word ook in die kerkboeke melding gemaak van ouderling
Abraham Schut en diaken Johannes de Wiener. Hulle magte
was egter baie beperk en alle besluite was aan die goed-
of afkeuring van 'n sogenaamde kommissaris-politiek onderhewig.
In ds. Van Arkel se dienstermyn het dit ook nodig geword
om 'n houtgebou as kerk te gebruik. In Desember 1665 is
die gebou van 'n steengewel en 'n vloer voorsien. Later,
in 1672, is die eredienste in die "Kat" - raadsaal van die
Kasteel - gehou. Die fondament vir 'n kerkgebou word in
1687 gelê. Die eerste volwaardige kerkgebou, waarvan die
boukoste terloops 'n som van £2200 gekos het, is eers in
ds. Petrus Kalden se dienstyd, op 6 Januarie 1704, ingewy.
Sedert die begin jare van die kerk aan die Kaap is die gemeente
deur leraars soos ds. Petrus van der Spuy (eerste gebore
Afrikaner wat predikant geword het) 1746 - 1752, ds. J.
P. Serrurier, 1760-1802 bedien. Gedurende laasgenoemde se
dienstyd, in 1704, is besluit om die kerk te vergroot. Dit
word teen 'n bedrag van £4000 gedoen en in 1781 ingewy.
Die teenswoordige pragstuk van 'n preekstoel word teen 'n
bedrag van £708 deur die ervare beeldhouer Antonie Anreith
uit die beste Indiese hout geskep en in November 1789 ingewy.
Later moes hierdie kergebou egter afgebreek word en is die
nuwe gebou, die Grootte Kerk, in 1841 plegtig ingewy. Al
wat van die gebou van 1704 behoue gebly het, is die huidige
toring.
Tekening van die Kerk.
Foto van die Kerktoring verskans tussen die geboue vandag.
Na
ds. Serrurier is die bediening van die gemeente behartig
deur ds. C Fleck (1781 - 1822) en sy kollega ds. Von Manger.
Van die bekendste predikante van die gemeente wat 'n baie
groot invloed op die kerklike lewe aan die Kaap uitgeoefen
het, was ds. Helperus Rizema van Lier (1786 -1793) en dr.
Abraham Faure (1822 - 1867).
Ds
A Dreyer, Eeuwfeest-Album van der Nederduits-Gereformeerde
Kerk in Zuid-Afrika 1824-1924, verskyn daar 'n prent van
die Kerk in 1704.
TERUG NA BO