Skip to main content

logo new

Surnames V to Z

WELGEMOED Johan Godlieb

Johan(n) Godfried (Godlieb) WELGEMOED (WELGEMOTH), van Koningsbergen in Pruise (vandag Pole), gebore 1760. Sy oorsponklike van “WELGEMOTH” is verHollands na “WELGEMOED”. Daar is verwarring wat betref sy tweede naam. Op verskillende dokumente word sy tweede naam aangegee as Godfried, Godliep, Gotlieb, Gotliep en as: "Johann Gottlieb" soos in die bron : De Villiers/Pama se "Geslagregisters Van Die Ou Suid-Afrikaanse Families - 1960 ". Hy was bootsman in diens van die V.O.C., tot die jaar 1795, toe die V.O.C. ontbind is, en Groot Brittanje die Kaap Kolonie geannekseer het. Hy is in 1795 uit die diens van die Kompanje; dit is onbekend wat hy direk daarna gedoen het. Hy was heel moontlik in die tyd bedrywig in die omgewing van Patensie op sy skoonvader se plaas. In 1806 koop hy die plaas "de Suure Bron". Sy naam verskyn in die bron: " African Court Calendar" (amptelike regerings jaarboek) vir elke jaar vanaf 1810 tot 1815 . Daarin word hy gelys as een van die amptenare van die Kaapse Koloniale Regering, met die volgende ampsbeskrywing : "Overseer of the Roads and Collector Of Tolls at Kromme River, Dist., Uitenhage". (Kromme River is nou bekend as St. Francis Baai). 'n Toesighouer van die paaie was iemand wat deur die regering aangestel was, en iemand wat aansien in sy gemeenskap geniet het. Hy het uit die gemeenskap waarin hy gewoon het 'n aantal persone aangestel om die paaie in die gebied in stand te hou, en hy moes toesig hou oor die werk. Johan Godfried het baie rondgetrek (verwys kinders se doopplekke) en was dalk op 'n stadium óf 'n trekboer óf 'n transportryer. Hy is op 15.5.1796 getroud met Magdalena Catharina Elizabeth KEYSER in die Ned. Geref. Kerk, Kaapstad. In die huweliksregister verskyn die volgende inskrywing : "Johan Godlieb Welgemoed van Konigsbergen onder afgeskreeve gagie gestelden Bootsman Jongman met Magdalena Catharina Elizabeth Keyser van Cabo de Goede Hoop jonge d."(ochter). Sy was dogter van David KEYSER en Margaretha KLEIN (10 kinders). Hy is oorlede 1841 op die plaas “Welgevonden” by Uitenhage.

KINDERS:
b1 Frederik Ernst gebore 1799 op Zuurbron (Sy vader se plaas wes van Hankey/Patensie oorkant die Gamtoos rivier)
b2 Anna Margaretha Susanna gedoop Swellendam, 15 Sep 1799.
b3 David Johannes, gebore 19 Jan 1801, gedoop Swellendam, 19 Mar 1801
b4 Johan Godlieb Karel, gedoop Swellendam, 9 Sep 1803
b5 Maria Charlotta, gebore 5 Mei 1806, gedoop Swellendam, 29 Jun 1806
b6 Hendrik Paul, gebore 21 Sep 1810, Gouritzrivier, dist Mosselbaai.
b7 Magdalena Jacoba Susanna, gebore 10 Jan 1811, gedoop Stellenbosch, 15 Jun 1811.
b8 Aletta Johanna, gebore 8 Jun 1813, Grahamstown , gedoop Stellenbosch, 3 Feb 1814.
b9 Louisa Christina, gebore 23 Des 1815, gedoop Stellenbosch, 27 Jul 1816.
b10 Christian Jacobus, gebore 1822, Uitenhage dist., gedoop Uitenhage, 3 Sep 1823.


Verwysings:
C.PAMA : Die Groot Afrikaanse Familie-naamboek (1983)
Christo J. Welgemoed : Agtergrond-geskiedenis en biografiese notas vir JOHAN GODFRIED WELGEMOED – STAMVADER op Web by:
http://home.mweb.co.za/ch/chriswel/Welgemoed_SV_biografie.htm

Saamgestel deur:
Pieter Conradie pietc@iafrica.com

 

 

 



 

  • Hits: 15929

Stamouers.com is part of the eGGSA.org web site
Material from this website may be used if the author and eggsa.org are acknowledged
Privacy policy