Skip to main content

logo new

Surnames A to C

BESTER Andreas

Andreas BESTER was van Maagdeburg en het op 5 November 1712 met die skip, Beverwyk, aan die Kaap arriveer. Tussen 14 Maart 1714 en 14 Maart 1716 dien hy as boerekneg vir Matthys van den Berg. Vanag 1 Februarie 1718 is hy "n kneg vir Hendrik Moller en in 1721 ontvang hy sy burgerskap. Hy trou op 13 Februarie 1724 met Anna BOK, dogter van Christiaan Bok en die voormalige slavin, Anna Groothenning van Bengale. Anna is op 1 Januarie 1713 saam met haar moeder gedoop.

Bester koop in 1729 die plaas Hooggelegen wat uit 60,032 morgen bestaan het , van Adriaan Greef. Andries en Anna kry op 6 Mei 1737 weiregte vir die plaas "aan die Diepe Rivier in den Draaij". Andreas is op 30 Oktober 1752 oorlede. Anna was tydens sy dood om en by 43 jaar oud en het met die boerdery voortgegaan. In 1760 doen sy aansoek vir die leningplase Modderfontein en Draaihoek, albei in die Koeberge geleë.

KINDERS:
b1 Casparus, X 14 Maart 1756 Maria Elizabeth Swart wed van Pietersen
b2 Andries gedoop 10 Feb 1726, oorlede 3 Feb 1767, X Adriana Debets
b3 Christiaan gedoop 18 Apr 1728, X 30 Jun 1755 Maria Magdalena Erasmus
b4 Paulus gedoop 30 Sep 1731, X 24 Okt 1761 Helena de Klerk
b5 Nicolaas gedoop 24 Apr 1735, X 4 Mei 1783 Aletta Dorothea Gous, wed van Jeremias Visagie
b6 Jacobus gedoop 5 Mei 1737, X 4 Apr 1767 Maria Elizabeth Heems (SAG meld verkeerdelik Heyns)
b7 Michiel gedoop 14 Aug 1740

In 1729-1732 word daar in dokumente vermeld dat die Kompanie ingelig is dat Andreas hom oor Jochem Scholtz en "n dogtertjie, Maria Roos (wat die buite-egtelike kind van die vrou van Jochem Scholtz was), ontferm het. Jochem Scholtz se vrou was indertyd oorlede en aangesien Scholtz "n kreupele en boonop arm was, kon hy nie behoorlik na die kind omsien nie. Die onbaatsugtige Bester het dus letterlik tot Scholtz en die dogtertjie (sy grootmaakkind) se redding gekom.

Bronne:
Heese en Lombard
André Bester: "Stamboom van Cornelius Johannes Bester 1874-1918", Familia, 1997, no 1.
André Bester: "Op die Spore van Andreas Bester", Familia, 1998, no 3.

Saamgestel deur:
AM van Rensburg

  • Hits: 19509

Stamouers.com is part of the eGGSA.org web site
Material from this website may be used if the author and eggsa.org are acknowledged
Privacy policy