Skip to main content

logo new

Kerke van die Kaap

ROODEZAND gestig 1743

VOORGESKIEDENIS
Die eerste groep setlaars wat in die Land van Waveren gaan bly het, het soontoe getrek met vier waens in 1700. Die plase is eers uitgegee as leningsplase in hierdie nuwe distrik. Die eerste naam wat ingeteken is om in die Land van Waveren te kan wei was Jan Harmensz Potgieter in 1703. Die tweede persoon wat weiregte bekom het was Beatrix Verwey die weduwee van Hendrik Olivier. In 1705 het die stamvader Etiennie Terblanche hom ook in die vallei bevind. Ook die stamvaders Pieter Willemsz van Heerden het in 1708, en Claas Jansz: van Rensburg in 1711 leningplase gekry. Van die wat eiendomsregte in die Land van Waveren gekry het sluit in: Hercules du Preez, hy was die oudste seun van die stamvader. Estien Bruere ook bekend as Steven Bruwer.

Volgens die notule van die gemeente word die eerste grense soos volg vasgestel: "Van de Koopmansrivier tot benenden de onderkant van de Bergrivier, de Picquetbergen, de Oliphantsrivier en over het gebergte tot geheel beneden aan de Mosselbaay, so verre de jurisdictie van de E. Comp. strekt." Vir die volgende 60 jaar sou die gemeente die naam "Roodezandskerk in 't Land van Waveren" dra. 'n Naam wat deur niemand minder as goew. W. A. van der Stel gegee is. Roodezand dui waarskynlik op die kleur van die grond en Waveren verwys na 'n vername Amsterdamse familie. Eers in 1804, wanneer die distrik Stellenbosch in twee verdeel word en die noordelike deel na goew. Ryk Tulbagh vernoem word, word die gemeente se naam ook na Tulbagh verander.

Die dorp Tulbagh het stadig om die kerk ontwikkel. Hierdie dorpie is nie in 'n vierkantige vorm uitgelê soos meeste ander boere dorpe nie. Dit was liewers een lang straat wat gegroei het in 'n dorp.

PERSONE BETROKKE BY DIE STIGTING

Baron Gustaaf Willem van Imhoff
Hy was Goewerneur Generaal van Denrlands-Indië. Op 'n besoek aan die Kaap in 1743, het hy aanbeveel dat die Kompanie meer moet doen ivm met die Kerklewe en opvoedkunde van die burghers. Die burghers het al verder en verder die binneland ingetrek het. Die gemeentes van Stellenbsoch en Drakenstein kon nie meer die verafgeleë lidmate dien nie. Hy het aanbeveel dat daar twee meer predikante na die Kaap gebring moet word.

Dominee Arnoldus Mauritius Meiring
In 1743 was Arnoldus Mauritius Meiring op die skip Adrichem, hy was op weg om in die Ooste te gaan dien. Voordat die skip die Kaap bereik het, is Meiring se vrou oorlede. By die Kaap word Meiring gevra om die predikant te word van die nuwe gemeente wat hulle wou stig in die Land van Waveren, van genoem sou word Roodezand. Hy het alreeds die 16 September 1743 sy eerste preek gelewer en drie seuntjies en 'n dogtertjie gedoop. Die kerk gebou was voltooi in 1748. Hy het gesterwe 23 April 1757 en hy was begrawe in die kerk voor die preekstoel.

Eerste aangenomen Lidmaten in 1743
Elske Boota, Rachel Huber, huisvrouw van Dirk Crafford, Frans du Toit, Elisabeth du Toit, Maria Susanna du Toit, Jacobus du Toit

Jacob Theron (ouderling)
Hy was 'n seun van die stamvader Jacques Theron. Hy het het 'n plaas gehad 'aan de Kleine Berg Rivier onder die Kloof'. Hy was ook 'n opsigter vir die pad werke deur die kloof.

Pieter Theron (ouderling)
Hy was eeen van die seuns van die stamvader Jacques Theron. Hy het die plaas Le Rhone geerf wat aan sy ouers behoort het. Hy het baie vir die kerk gedoen. Hy is oorlede 1778.

Gerrit van der Merwe (diaken)
Hy was die 16 kind en die 9 de seun van Schalk Willem van der Merwe. Gerrit het die plaas Sagtevalley na sy vader oorlede was oorgeneem. Hy was getroud met een van die dogters, van die stamvader Pieter van Heerden, Jacoba. Hy het elf kinders gehad in is oorlede in 1770.

Jacob du Preez (diaken)
Hy het die plaas Twee Jonge Gesellen besit. Hy is oorlede in April 1749.

Pieter de Vos (voorleser)
Hy was saam met Jacob Theron verantwoordelik vir die padwerke deur die Kloof. Hy het die ou Companie Pos gekoop in 1743. Hy het die kerk bedien as voorleser en krankbesoeker. Hy is oorlede 19 Augustus 1755.

Louis van Dijk (sieketrooster)
Hy was die sieketrooster in die wêreld nog voor dominee Meiring verskyn het. Hy was nie bereid om net die preek te lees nie, hy het in teendeel 'n preek gelewer. Die mense het nie van so 'n ding gehou nie en toe Meiring daar aankom het hy die klaery opgeneem en 'n brief aan die owerheid gestuur. Di uiteinde van die geval was dit van Dijk die Kaap moes verlaat en hy het na Batavia toe gegaan.

Ds Remmerus Harders
Hy het sy opleiding gedoen aan die Universiteite van Lingen en Groningen. Hy was aangestel om die predikant te wees van Roodezand en neem die posisie op in Januarie 1758. Hy het toe ook kort daarna 12 Maart 1758 die weduwee, van Ds Werndly, Petronella van Reede van Oudtshoorn getrou. Twee van hulle kinders het gesterwe Pieter Volkarus op die 25 Oktober 1759, en Marthinus Egtbertus op 11 Oktober 1770. Ds Harders het begin lei aan 'n brein siekte of was dit maar bloots depressie? Hy tree toe af in 1774.

Ds Daniel Goldbach
Hy het die predikant van die Swarland gemeente geword in 1774. Hy was toe gevra om ook agter Roodezand te kyk totdat 'n ander predikant gevind kan word.

Gedurende die eerste eeu van die gemeente se bestaan word hy agtereenvolgens deur 8 predikante bedien. In 1843 vind daar egter 'n skeuring in die gemeente plaas en word 'n nuwe gemeente t.w. Kruisvallei gestig. Vir die volgende 92 jaar sou daar dus twee gemeentes op Tulbagh wees. Gedurende die tydperk word die gemeente Tulbagh deur 7 leraars en Kruisvallei deur 8 leraars bedien word. Hierdie skeuring sou eers in Oktober 1935 geheel word toe die twee gemeentes weer herenig. Die eerste kerkgebou van die gemeente word in 1743 gebou met materiaal afkomstig uit Nederland en stene uit Batavia. Dit doen diens as plek van aanbidding tot in 1878 toe daar 'n nuwe kerkgebou opgerig word. Daarna sou dit as basaar en konsertsaal diens doen.

In Eeuwfeest-Album van der Nederduits-Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika 1824-1924, deur Ds A Dreyer verskyn daar 'n prent van die oude Roodezands kerk in't land van Waveren 1756.

Bronne:
A Böeseken & M Cairns The Secluded Valley. Tulbagh:t'Land van Waveren 1700 - 1804

  • Hits: 14557

Stamouers.com is part of the eGGSA.org web site
Material from this website may be used if the author and eggsa.org are acknowledged
Privacy policy