VELDSMANNE
deur Johannes von Moltke - 1958 - Afrikaanse
Pers
(Ingestuur deur Leon von Moltke, sy kleinseun)
Hoofstuk
9
SLAWERNY IN ANGOLA
I.
In alle vorige beskrywings oor grootwildjag
in Angola het ek geen nadruk gelê op die feit
dat daar tot in die huidige eeu 'n wrede, onmenslike
slawerny in Angola geheers het nie, hoewel dit
uit die verhale van die ou jagters self baie
duidelik geblyk het dat ook die Boere daar tot
kort voor die Eerste Wêreldoorlog nog slawe
besit het.
Reeds
lankal het ek ook vermoed dat die sogenaamde
"mak-" of "grootmaakvolk" van die ou Dorslandtrekkers
in werklikheid slawe was wat hulle onwettig
in Transvaal verkry en behou het. In sy boek
The Native Policy of the Voortrek-kers het J.A.I.
Agar-Hamilton die inboekstelsel van die ou Transvalers
bespreek en ook daarop gewys dat vooraanstaande
burgers van die land hulle nie juis veel gesteur
het aan die grondwettelike bepaling dat daar
in die Suid-Afrikaanse Repu-bliek geen slawerny
sou wees nie. Sedert hierdie vermoede nou by
my ontstaan het, het ek die moeite gedoen om
vas te stel presies hoeveel mak- of grootmaakvolk
saam met die Dorsland-trekkers gegaan het en
wie hulle was. Ek glo dat ek die naamlys nou
voltooi het; maar persoonlik wil ek nie beweer
dat al daardie grootmaakvolk slawe was nie.
Party van hulle mag wettig tot hul 21e jaar
ingeboek gewees het; maar voordat met enige
sekerheid gesê sal kan word wie en hoeveel hulle
was, sal daar nog eers heelwat gesnuffel moet
word in die ou dokumente van die landdros van
Rustenburg. Hierdie onder-soek sal dan ook aan
die lig bring of soveel as een van die ou Dorslandtrekkers
se grootmaakvolk ooit volgens wet inge-boek
was. Oom Willem Opperman se getuienis op hierdie
punt word dus voorlopig geplaas vir wat dit
werd mag wees, want Willem Grobler gee weer
'n ander uitleg van die saak. Nadat hy (Grobler)
die name van 19 grootmaakvolk genoem het, verklaar
hy:
"Hierdie
naturelle was grootmaakvolk van hul base en
die meide ook. Die meeste van hierdie volk is
as kinders gevang op die slagveld in Transvaal
toe die Boere teen die inboor-linge moes optrek.
So het my vader bv. vir Maal gevang met die
slag van Maleeu. Hierdie volk kon ná hul mondig-wording
die base wat hulle grootgemaak het, verlaat
as hulle wou, en party het dit ook gedoen toe
hulle getrou het. So het ou Maal bv. my vader
se diens verlaat toe sy met ou Slag-veld getroud
is en by daar man se baas, Christian Labuschagne,
gaan bly. Hulle is nog in Transvaal getroud,
en ou Maal het toe al na haar nuwe baas getrek.
Ou Christian Labuscbagne het altyd in die winter
met sy vee by ons in die Rustenburgse distrik
kom staan, en so het die twee grootmaakvolk
mekaar ontmoet. Ou Klara was 'n huismeid van
ou tant Annie van der Westhuizen in Transvaal
en ou Ruiter was ou Jan Steen-kamp se jong.
Ná Steenkamp se dood het ou Ruiter by oom Louw
du Plessis, wat met 'n dogter van Jan Steenkamp
getroud was, gaan bly. Daar is hy toe met Klara
getroud, en sy het haar ou nooi Van der Westbuizen
verlaat om by haar man se baas te gaan bly.
"Hierdie ou makvolk het, toe Humpata-dorp aangelê
is, vir hulle 'n klein lokasietjie gemaak aan
die noordoostekant van die dorp onder die berge.
Hulle het almal darem ook 'n bietjie vee besit,
want baie van hulle het verdien as wadrywers
... Hulle het 'n bietjie gesaai, en party van
die ou mansvolk het ook verdien deur as wollentiers
op ekspedisies te dien. Toe hulle nou 'n bietjie
welvarend word, kon hulle nie almal daar onder
die berge naby Humpata-dorp gebly het nie en
toe is hulle uitmekaar, en baie van hulle het
toe op hul eie gaan boer.
"Toe ons ons in 1881 in Angola gaan vestig het,
het die Portugese met klompe slafies van Caconda
se wêreld af na Humpata gekom om hulle aan die
Boere te verkoop. Baie van die Boere het ook
gekoop. My vader het self twee volkies gekoop:
die een se naam was Welkom en die ander s'n
Dienaar. Later het Vader nog een klonkie gekoop
en hom die naam Stuurman gegee.
"Kort na my troue in 1888 het ek van 'n Portugees,
Alwyn Vidigal, 'n meid gekoop om my vrou as
huismeid te dien. Haar naam was Tabita. Later
het ek weer 'n Boesmanmeid gekoop en haar Viktoor
genoem. Toe hierdie twee meide omtrent mondig
geword het, het ek hulle altwee vrygemaak. Hulle
was nog in my diens toe hulle getroud is, maar
ek het hulle later met hul mans laat gaan. Daarna
het ek 'n Boes-man-klonkie gekoop van 'n Portugees,
ene Dimingo van Caconda, maar hy het weggeloop
net toe hy sy mondige jare bereik het. Hy was
'n eersteklas skepsel, en die Portugese het
hom van my afgekonkel. Toe het ek weer twee
klonkies gedurende 'n hongersnood van hul eie
ouers geruil - die een vir 'n paar jaarts goed
en die ander vir 'n vers.
"Die handel in slawe was dwarsdeur Angola in
gebruik, by die Portugese sowel as by die inboorlinge
self. Die naturelle ver in die binneland, soos
aan die Zambesi, die Okavango en daarlangs,
het self ook slawe verkoop. Hulle het met mekaar
'n ruilhandel gedryf. As daar nou van Midde-Angola
se volk na daardie geweste gaan om te handel,
het bulle teruggekom met gommestik, levoor en
klonkies en meidjies. Hierdie kinders het hulle
dan aan die Portugese kom verkoop, en dié het
hulle weer aan ander mense verkoop. Daar was
bv. in Caconda geen enkele wilde Boesman nie,
en tog kon jy daar Boesmanslawe koop. Ek het
later uitgevind dat die inboorlinge wat langs
die Okavango gewoon het, sodra hulle verneem
dat daar Boesmans in hul nabyte is, snags uitvalle
gemaak en die Boesmans gevang en as slawe verkoop
het. Verder het baie naturellekapteins die weeskinders
van hul stam as slawe verkoop aan die Portugese
of aan die Boere.
"Daar was aan die begin geen sprake van vrylating
of registrasie van slawe nie. Jy het eenvoudig
jou slaaf gekoop en hom gehou, sonder dat daar
enige amptelike aantekening van die transaksie
gemaak is. Toe ons die land ingetrek het, het
die Portugese eienaars van die groot fazendas-
of suiker-kan (Sugar cane - suikkerriet.) plantasies
by Capangombe, Bibala, Manino en onder by Vitael
en ander plekke groot klompe slawe gehad. As
die Portugese beweer dat hulle ná 1900 'n wet
gemaak het dat die slawe vrygestel moes word,
kan ek net sê dat ek reeds vóór daardie tyd
van my groot slawe vrygestel het en weer nog
lank na daardie tyd slawe geruil het, en dat
baie ander mense dieselfde ding gedoen het,
Portugese inkluis. Stadigaan het die slawehandel
minder en minder geword, en teen die tyd dat
ons Angola verlaat het, het jy maar min slawe
gesien of van slawe-handel gehoor.
"Party van die volk wat vroeër slawe was, het
uit hul eie saam met hul base na Suidwes-Afrika
gekom, soos bv. die jong van Sias Swarts, om
maar een te noem. Toe Niklaas Grobler uit Angola
deur Damaraland terug is na Transvaal, het ek
by hom 'n slaaf gekoop met die naam Aron vir
omtrent £10 (45,000 R.). Aron was toe 'n skepseltjie
van omtrent twaalf jaar, maar hy was al oorlams.
Hy is toe later met die slavin Tabita, wat ek
van Vidigal gekoop het, getroud. Toe het ek
hulle gesê dat aangesien hulle al die jare so
getrou was, ek hulle nou vry sou maak. Ek het
toe vir Aron twee koeie gegee. Nadat ek hulle
vrygemaak het, het hulle nog 'n ruk by my gebly,
maar toe gaan Aron saam met mense na die oostelike
deel van die land en daar is hy dood. Net voordat
ek in 1928 na Suidwes-Afrika gekom het, het
ek nog by Tabita en haar kinders op Grootslee
naby Caconda gaan mielies ruil. Hulle was toe
selfstandige volk en het op hul eie geboer;
ek het nog my ploeg aan hulle verruil."
Selfs indien dit nou uit verdere ondersoek mag
blyk dat die meeste of al die ou Dorslandtrekkers
se grootmaakvolk nooit in Transvaal ingeboek
was nie, d.w.s, dat hulle dus in werklikheid
slawe was totdat hul base gesê het hulle is
mondig, dan is dit uit die voorgaande duidelik
dat die Boer 'n baie liberale slawebeleid toegepas
het. Nou kan daar beweer word dat die ou Transvalers
hul grootmaakvolk so menslik behandel het omdat
hulle die naturellekinders op onwettige manier
in hande gekry of aangebou het; maar dan het
hulle die skoonste geleentheid gehad om in Angola,
waar slawerny nog 'n erkende instelling was,
hul slawe net soos die groot Portugese slawe--eienaars
te behandel, en dit het hulle beslis nie gedoen
nie. Hier volg nou die getuienis van Willem
Opperman, wat die leser in staat sal stel om
vir homself te oordeel:
II.
"Toe
ons (d.w.s. die trek van 1892) by Dongo se fort
kom, het ons gesien hoe dat 'n Portugese chef
'n Bantoe-kaptein straf. Die ding het só gekom.
Daar was destyds geen waens of karre vir die
transport van die kus af na die forte in die
binneland nie. Die Humpata-Boere was ver daarvandaan
en kon in elk geval nie die hele land bedien
nie. Toe het die Portugese caracadores of dra-volk
gehuur om die goed op Benguella te gaan haal
en dan na die binneland te dra. Hulle het dan
gewoonlik na die naaste kaptein gegaan en hom
'n sekere getal volk gevra om na die Baai af
te stuur. Kort voor-dat ons trek op Dongo aangekom
het, het die Portugese chef die kaptein aldaar
om caracadores gevra, maar die kaptein het geweier.
"Toe
die kaptein nou hoor dat daar 'n Boeretrek aan
die kom is na Dongo, het hy dadelik vermoed
dat die Portugese chef die Boere se hulp sou
inroep om hom te skiet. Ons het die namiddag
laat op Dongo aangekom, en die Portugese het
ons ook dadelik, nog voordat die son onder was,
gevra om die volgende dag die naturelle te gaan
skiet. Maar daardie selfde nag kom die kaptein
toe na die fort om te sê dat sy mense weg was,
maar nou weer teruggekom het en dat hulle gereed
was om na Benguella te gaan.
"Die
Portugese chef was egter baie kwaad en ook so
groot-man omdat daar mos nou soveel Boere om
hom was, dat hy sommer die kaptein gevang en
hom in die tronk gestop het. Die volgende dag
was ek ooggetuie van wat met die arme skepsel
gebeur het. Hulle het hom deur 'n kanonwiel
oopge-spalk, met die arms en voete aan die ander
wiel vas. Toe het hulle hom met 'n tweepuntige
seekoei-sambok geslaan. Toe ek daar kom, het
die naturel reeds soveel slae weggehad dat stukke
bloed en vleis op die grond gelê het. Die jong
het baie geskreeu en gekerm van pyn. Hoeveel
houe hy toe al weg had, kan ek nie sê nie; maar
ek het self honderd-ses-en-negentig houe met
die tweeling-sambok getel vandat ek daar aangekom
het totdat hulle opgebou het!
"Die
man wat die slae uitgedeel het, was 'n groot,
vier-kantige naturelle-tolk. Hy het ongenadig
geslaan, maar kort--kort kom die chef by en
skreeu op hom:'forsa!' - d.w.s. met krag! En
dan slaan die tolk nog harder. Jy moet bedink
dat die jong twee maal 196 houe gekry het solank
as wat ek daar gestaan het, want die sambok
slaan twee houe elke slag. Toe hulle hom eindelik
losgemaak het, het hulle hom tot in die tronk
geslaan. Daardie houe het ek nie getel nie.
En terwyl die jong nog vreeslik gekerm het in
die tronk, het die chef se order geval: 'Maak
soutwater aan en was hom!' Of die jong met sy
lewe daarvan afgekom het, kan ek nie sê nie,
want ons is die volgende dag weer weg.
"Willem
Prinsloo het al tevore so iets gesien in Angola,
maar vir ons ander wat dit vir die eerste maal
gesien het, was dit 'n skok in die hart. Dit
was afgryslik en dit was asof ons almal vervul
was met walging. Later het ek nog meer voor-beelde
gesien van die Portugese se strafmetodes, want
só het hulle ook hulle slawe geslaan, ongenadiglik
en onmenslik.
"Hulle
het ook 'n soort foltermiddel gehad wat bestaan
het uit 'n sirkelvormige stuk harde hout met
'n kort steel (Dit was die bambatoria, wat vandag
nog in Angola gebruik word). Die dik, harde
plank of blok is dan vol gaatjies geboor, sodat
as die slag op die handpalm afkom, die wind
daardeur suig. Dan word die slaaf aan die punte
van die vingers gevat en dié word oorgebuig
sodat die palm rond is, en dan word daar weer
forsa! geslaan - so hard as wat dit kan op die
handpalm. As die foltermiddel die eerste maal
opgelig word, begin die hand al swel. Dan moet
die naturel die ander hand uithou en dieselfde
gebeur weer.
"So
hou hulle dan aan totdat die naturel se hande
soos poffertjies geswel is. Dan word die slagoffer
op sy rug neer-gelê en word sy voetsole op dieselfde
manier bewerk totdat hulle ook stukkend is.
Dan word hy op die pens gedraai en die boude
op dieselfde manier bewerk. Dit beteken dat
so 'n naturel honderde houe weg het voordat
hulle met hom klaar is.
"Sulke
straf het hulle vir die nietigste oortredinkies
toegepas. Die jong was miskien ongehoorsaam,
hy het 'n bord of koppie gebreek of 'n mes verloor
of gesteel. Buitendien moet die jong dan nog
so 'n ding dubbeld betaal of weer een gaan koop,
en hy kry die slae nog boonop! Dit was nie net
die chefs wat hierdie strafregte gehad het nie;
enige Portugees, solank hy net die baas van
'n naturel was, het hierdie reg gehad en dit
ook deeglik toegepas.
"Ek
het later ook gesien hoedat Portugese boere
op die plase, vernaamlik by Porto Alexandre,
die volk mishandel het wat in hul diens was.
Daar is nl. baie sandvlooie, en as die goed
die volk se voete aantas, gee die Portugese
base die stomme goed nooit kans om die vlooie
uit te haal nie. Soggens as dit lig word, lui
die klok vir die werk, en die volk kry geen
tyd om die fyn vlooitjie uit te haal nie. Gedurende
die dag is daar ook geen kans vir die skepsels
om die vlooie uit te haal nie, want hulle werk
in spanne, en aan die een kant staan 'n opsigter
met 'n roede en aan die ander kant staan nog
een, en hulle dryf die volk gedurig aan uit
vrees vir hul baas, want as daar 'n naturel
in sy werk versuim, dan word die opsigters gestraf
as die baas dit sien. Die werkers kry ook net
tyd om in die middae hul kos te eet, wat deur
'n kok vir hulle berei is. Dan moet hulle weer
dadelik inval.
"Die
werk was meestal om slote te pik met hul kafferpikke
vir die plant van suikerkan, patattas of mandioka.
Eers as dit donker is en hulle dus nie meer
kan sien om die vlooie uit te haal nie, hou
die werk op. By vuurlig kan die vlooie nie gesien
en dus ook nie uitgehaal word nie. Die vlooie
lê hul eiers onder die toonnaels en onder die
voetsole, en sodra die eiers uitbroei, begin
die klein vlooitjies dadelik weer inkruip in
die voet. As so 'n werker nou nie meer kan loop
nie, dan moet hy maar lê.
"Ek
het gevalle gesien waar die voete geswel was
tot by die knie. Die voet is dan so groot dat
as jy die spoor sien, kan jy nie begryp wat
se spoor dit is nie. Ek het al vir daardie Portugese
boere gevra waarom hulle die volk nie 'n kans
gee om hul voete skoon te maak nie en ek het
elke slag dieselfde antwoord gekry: 'As jy hom
'n kans gee om sy voete skoon te maak, dan loop
hy weg!' Dit was almal gekoopte slawe wat hulle
so behandel het.
III.
"Wat
slawerny in Angola betref, kan ek minstens getuig
wat die toestand was toe ons in 1892 op Humpata
aangekom het. Toe ons daar kom, het elke Boer
op Humpata sy slaaf of slawe gehad, nie een
enkele een uitgesluit nie. Ons het hulle 'grootmaakvolk'
genoem, want jy ruil of koop hom as hy klein
is en jy maak hom vir jou groot.
"Die
Boere se slawe het, as daar net een was, in
die komhuis geslaap, en as daar meer was, dan
was daar gewoonlik 'n buitehuisie vir hulle.
Sover ek weet, het geen enkele Boer sy slawe
snags onder slot en sleutel gebou nie. Hulle
was los en vry om selfs saans by ander te gaan
kuier (Geen wonder dus dat ds. Jan Lion-Cachet
kon geskrywe het nie:- Slaven zag ik bij de
boeren niet." (De Trekboeren te St. Januario
Humpata, p. 142). Ek het drie slawe van my eie
gehad: 'n klein Boesman, Bambie, 'n klein naturel,
Asvaal, en 'n meidjie wat Andries Alberts en
Willem Venter vir my vrou present gegee het
ná die ekspedisie teen Hangalo. Op 'n jag het
ek nog twee klein Boesmantjies van 'n Bantoekaptein
vir 'n ou geweer verruil. Hy het die Boes-mantjies
in die veld laat vang en hulle dan verruil.
Slawe was dan ook die handelsgoed van die swartkapteins
en die Portugese.
"Kort
ná ons aankoms in Angola het ek daar onder die
gebergte naby Humpata op 'n plek Calengs - dit
was die naam van die kaptein se stat - honderde
slawe en slavinne gesien werk. Daar het 'n drank-
en suikerfabriek gestaan, waar honderde halfame
brandewyn gedurende die winter gestook is -waar
is nog dié wat in die somer gestook is? Daardie
drank is alles gemaak van suikerkan en patattas
wat die slawe moes plant, nadat hulle die grond
met pikke omgekap het.
"Dit
was ontsaglike plantasies. As jy daardeur loop
of ry, is jy doodmoeg as jy anderkant uitkom.
Daardie slawe is deur die fabriekseienaars van
die groothandelaars oral in Angola en van die
kapteins gekoop of geruil. As jy nou wil weet
of daar baie slawe in Angola was, dan kan ek
jou daarop antwoord. Wat van die groot plantasies
oral in die land soos by Manino, Capangombe,
Nassarsao, Calengs, Vintiava, Benguella, Catambella
en nog die menigte plantasies verder vorentoe
wat die geelvet (palmolie) maak, suikerkan,
patattas en koffie verbou? Daar was honderde
sulke plantasies en net soveel honderde base,
en op al daardie plantasies het honderde slawe
en slavinne gewerk. Dit is nog behalwe die slawe
van die ryk Portugese boere en handelaars. Nou
kan jy besef hoeveel slawe daar in Angola moes
gewees het.
"Die
Portugese het slawehuise gehad waarin hul slawe
moes slaap, en dié is snags onder slot en sleutel
geplaas.
IV.
"Maar
kom dat ek jou nou vertel hoedat die slawe ingevoer
is van buite af na die baaie toe. Ek sê jou
net wat ek gesien het en nie 'n ding waarvan
ek gehoor het nie. Die handelaars in die baaie
skryf na die buiteveld waar daar winkels is
aan die kleinhandelaars, wat weer met die swart
kapteins bekend is: 'Stuur vir my so en soveel
caracadores.' Intussen het die een in die baai
sy besigheid klaargemaak met 'n sekere een op
die eiland Santa Meia (Hy bedoel San Thome).
"Wanneer
die draers nou van die Boveld uit Bihè kom,
dan kom hulle in Benguella aan en daar word
hulle baie goed behandel. Hulle kry in 'n groot
ringmuur goeie slaapplek, genoeg kos en altemit
nog 'n anker brandewyn ook, daar die brandewyn
maar heel goedkoop was. As die skip wat die
slawe na die eiland moet vervoer nou dadelik
daar is, gaan alles gou; maar as die skip miskien
vertraag is en 'n paar dae later kom as wat
hy verwag is, dan wis hulle so knap om die naturelle
te troos: 'Die dragte is nog nie klaar nie,
al die lappe is nog nie gepak nie. Wag maar
nog 'n dag, daar is kos en drank genoeg vir
julle.' En so is die naturelle weer gerus.
"Eindelik
kom die skip dan aan, en as alles op die skip
gereed is vir die vertrek, word 'n klompie soldate
van die goewerment gevra en al die man se eie
slawe word geneem en hulle gaan staan dan in
twee rye voor die bek van die ring-muur waardeur
die kastige draers nou moet marsjeer. Die 'draers'
word nou aangesê om uit te kom, en sodra hulle
by die hek uitkom, vind hulle dat hulle onder
gewapende geleide na die skip aangeja word!
Die stomme goed is dan so oorbluf en vol vrees
dat hulle nooit eers probeer om te ontvlug nie.
So word hulle dan tot op die skip geneem en
van daar vervoer na Santa Meia.
"Ek
het met my eie oë in Benguella so 'n skeepslading
slawe gesien. Carl Ivens het my een aand na
ete genooi om saam met hom na 'n nuwe skip te
gaan kyk wat daar in die Baai voor anker gelê
het. Ons is met 'n skuit soontoe en het die
skip gaan bekyk. Toe ons nou omtrent alles wat
besienswaardig was, gesien het, sê hy vir my:
'Kom ons gaan na die agter-stewe.' Die skip
was helder verlig, en toe ons daar agter kom,
moes ek sien daar sit 'n groot trop inboorlinge
saamgehok - hulle was minstens 150 mans, vrouens
en kinders. Ek vra vir Carl toe wat dit beduie,
en hy antwoord: 'Man, dis 'n klomp slawe wat
met bedrog uit Bihè hierheen gelok is om nou
na Santa Meia weggestuur te word en daar in
die plantasies te gaan werk.'
V.
"Ek
het jou reeds vertel hoedat die slawe daar by
Porto Alexandre se plantasies mishandel is en
dat die Portugese hul slawe vir die geringste
oortreding gestraf het. Nou moet ek jou nog
net sê dat hul slawe net 'n paar jaarts lap
gekry het om hulle in te klee. En so 'n slaaf
het nie 'n nuwe kleed gekry voordat die oue
se flenters van hom afgeval het nie. Dis geen
wonder dat die Portugese se slawe moes toegesluit
word nie, want die behandeling was so verskriklik
dat hulle dit nie kon uithou nie en gedros het
net sodra hulle die kans daartoe gekry het.
In die winter het hulle ook nie komberse gekry
nie. Ek het troppe van hulle gesien wat die
lappe wat hulle gedra het ook as komberse moes
gebruik.
"Ons
Boere het, soos ek jou reeds vertel het, ook
slawe gehad. In Transvaal was ons grootmaakvolk
feitlik tog ook maar slawe, maar net so goed
as wat ons hulle behandel het, so het ons ook
ons slawe in Angola behandel. Tot van ons mak
skepsels in Angola wat uit Transvaal as grootmaakvolk
saamgekom het, het hul eie slawe gehad in Angola.
Ek dink hier bv. aan Ou-Veer Dreyer, Niklaas
Losper (Niklaas Losper was 'n Baster en het
nie saam met die Dorsland-trekkers na Angola
gegaan nie) en nog ander.
"Daar
was natuurlik ook Boere wat vreeslik straf op
hul slawe was; party was sommer kortom wreed.
Maar die groot meerderheid van ons mense het
hul slawe met alle menslikheid behandel. Kos
en klere het hulle genoeg gekry. Ons slawe was
immers altyd goed gekleed in dieselfde kleredrag
as wat ons gedra het. Ons slavinne was veral
netjies en skoon gekleed, omdat hulle meestal
in die komhuis moes slaap en in die huis moes
dien.
"Oorlede
Jan Robbertse en al sy kinders het 'n hele klomp
slawe met hulle saamgeneem toe hulle terug is
na die Transvaal, en ek glo daar sal vandag
nog van die oues wees wat leef. Laat die mense
hulle maar gaan vra hoedat hul oubaas hulle
behandel het en hoedat die ander Boere hul slawe
behandel het. Ek is nie bang vir hul oordeel
nie.
"Man
die beste bewys dat die ou Boere hul slawe goed
behandel het, is dat hul slawe hulle so getrou
gebly het. Dink maar aan die ou makvolk wat
saam met die Dorslandtrek uit Transvaal is en
soveel ontberings saam met hul base deurge-maak
het, terwyl hulle tog maklik kon gevlug het
as hulle wou. Dink maar aan 'n man soos oom
Jannie Robbertse, wat maar baie verkeerd kon
wees met mense wat onder hom gewerk het. Op
sy slawe was hy streng, maar hy het vir hulle
ook so goed gesorg dat baie van hulle gewillig
was om hom na 'n vreemde land te volg. Dink
maar net wat hy aan sy slaaf Jakob gedoen het
toe hy hom vrygemaak het net voordat hy uit
Angola is; hy het die jong 'n wa en 'n span
osse present gegee! Dink maar aan oom Jannie
Labuschagne se slaaf Jims. Toe sy baas hom vrygemaak
het, was dit nie lank nie of hy stuur vir hom
'n paar pond present, natuurlik uit dankbaarheid.
"Maar
laat ons nader na ons teenswoordige tyd kom.
Slawerny is in Angola opgehef kort voor die
Eerste Wêreld-oorlog. Al die slawe wat in besit
van slawe-eienaars was, moes toe vrygemaak word.
Maar wat het gebeur? 'n Menigte van die Boere
se slawe het maar by hul base gebly. Nou gaan
ek jou 'n paar opnoem van wie ek weet en persoonlik
ken, wat in 1928, toe ons mense uit Angola hierheen
getrek het, hul base uit eie vrye wil gevolg
het en op eie gevaar af, want hulle was belet
om oor die Kunene te gaan. Daar is Jonas, die
slaaf van ou tant Letta de Klerk (nou Letta
Labuschagne), tans woonagtig op die plaas van
Rooi-Louw du Plessis, daar naby die polisiekantoor
Brits in die distrik Gobabis. 'n Ander een is
Juake met sy meid Mieta, wat ná aan die Waterberg
woon; hulle was ook slawe wat saam met hul base
uit Angola gekom het, maar ek het hul eienaars
se name nou vergeet. Op Moravia, die skoolplaas
hier oorkant die Omatako-omuramba, is ene Deet.
Hy was die slaaf van Sagrys Grobler, en sy meid
Doortjie was 'n slavin van oorlede tant Hessie
Grobler, oom Hans Grobler se vrou. Sou hulle
dit gedoen het as hulle sleg of wreed behandel
was? Ek glo van nee!
"Jy
moet darem nou nie gaan dink dat al die Portugese
hul slawe so wreed en sleg behandel het nie,
en dat al die Boere weer hulle s'n so goed behandel
het nie. Ek wil slegs sê dat verreweg die meeste
Portugese hul slawe sleg behandel het, terwyl
die meeste Boere hulle s'n goed behandel het.
Daar was liewe Portugese wat hul slawe sekerlik
enige tyd net so goed of miskien nog beter behandel
het as die Boere; maar ons kan nie op die uitsonderings
gaan nie, ons moet die groot meerderheid neem.
"Nee
wat, man, jy hoef dit nie te probeer wegsteek
dat ons slawe gehad het nie, want dis 'n feit
wat voor die hele wêreld bewys kan word.
VI.
"Die
prys van 'n slafie in Angola was destyds so
te sê niks, miskien 'n paar meter lappe en 'n
paar stringe blou krale en 'n paar ringe koper
- wat alles tesame omtrent 4s. of 6s. sou kos.
Vir ander het ons miskien 'n paar bosse skulpkrale
betaal en soms, as jy bevriend was met 'n kaptein,
het jy ook een of twee present gekry. Sulke
slafies het nooit getjank en geskree as hulle
aan ons afgegee word nie, want gewoonlik was
dit dan skepseltjies wat reeds tevore gevang
was of van wie die kaptein die ouers laat doodmaak
het of wat hy self geruil het. Die slafies wat
ons op kommando gevang het, het altyd vreeslik
gehuil en geskree as ons hulle vang of van die
groot volk wegvat. Soms het die moeders ook
tekere gegaan, maar nie so erg nie, want jy
moet weet slawerny was 'n ding wat toe al by
al die swart nasies oor die hele Angola honderde
jare bekend was. Die inboorlinge het self onder
mekaar met slawe gehandel en self ook slawe
aan die Portugese of die Boere verkoop. Baie
ryk volk wat nie eers kapteins was nie, het
ook slawe gehad wat hulle in hangmatte moes
ronddra net waar hulle wou wees.
"O
nee, dit was nie net Boere en Portugese wat
die laaste blanke slawe-eienaars van ons eeu
was nie! Daar was ook Engelse in Angola wat
slawe gehad het, soos bv. ou mnr. Chapman; hy
het 'n hele trop slawe gehad. Dan was daar nog
Black van Chibia, wat ook slawe gehad het. Om
jou die eerlike waarheid te sê, glo ek vas dat
die Engelse regering in Engeland ook goed geweet
het van die slawerny in Angola, omrede daar
soveel slawe in die kusdorpe se plantasies gewerk
het, en in al die dorpe aan die kus was daar
ook Engelse wat net so goed as ek of enige ander
man van daardie dinge geweet het en wat seker
tog ook met die Engelse konsul in aanraking
gekom het.
"Daar
was nooit so iets soos 'n inboekstelsel vir
slawe in Angola nie. Man, hoe kan hulle nou
volk wat met bedrog gevang is, inboek? Ek het
self nooit een van my slawe ingeboek nie. As
daar so 'n wet was, dan kan ek jou net sê dat
niemand in Angola hom ooit daaraan gesteur het
nie. Ek kan jou selfs gevalle noem van slafies
wat uitgevoer is uit Angola na Transvaal. My
eie ou skoonmoeder, tant Daïlina Robbertse,
het in die jaar 1900 by die familie in Transvaal
gaan kuier en sy het 'n paar slafies van Mossamedes
af per skip met haar saamgeneem na Kaapstad
en van daar na Nylstroom, Trans-vaal. Een van
hulle was 'n kleinmeid wat ek haar present gegee
het. Haar naam was Silpa, en miskien leef sy
vandag nog. Toe sy haar paspoort uitgeneem het,
het tant Daïlina een-voudig gesê sy wil 'n paspoort
hê vir haar en haar kinders. Jy sien, dit was
vir die Portugese glad nie snaaks as 'n blanke
man of vrou met swart kinders om 'n paspoort
vra nie. Buiten-dien, al het die amptenare geweet
dat die swartetjies nie werklik die kinders
van die Boervrou kon wees nie, het hulle ook
nie omgegee nie, want hulle het geweet dis haar
slafies, en in daardie tyd was 'n slaaf in die
oë van die wet totaal niks.
"Ek
kan jou nog ander gevalle ook opnoem. Daar was
my swaer, Groot-Daan Robbertse, Hans Alberts,
Koos van der Merwe, Klein-Daan Robbertse, Louw
Snyman en oom Jannie Robbertse wat selfs volwasse
slawe wat al self kinders gehad het, met hulle
saamgeneem het toe hulle terug is Transvaal
toe. Oom Franie Kromarm Robbertse, so genoem
omdat hy in 1880-1881 se oorlog op Potchefstroom
die eerste 'n koeël van die Engelse deur sy
arm gekry het - het in Trans-vaal gewoon en
eenmaal in Angola gaan kuier en jag. Onder-wyl
hy nog in Angola was, het hy 'n brief gekry
dat sy vrou oorlede is. Hy kry toe 'n weduwee
in Angola in die oog en besluit toe om hom in
die land te vestig. Hy moes egter terug Transvaal
toe om sy boedelsake in orde te bring. Toe hy
vertrek met die boot het hy ook 'n slafie met
hom saamgeneem. Daar was nog meer sulke gevalle;
maar ek noem maar net die paar waarvan ek positief
seker is, omdat ek ooggetuie was. Wat ek jou
nou hier vertel het, is die reine waarheid.
Vat my spoor, loop hom na as jy dink ek lieg
en jy sal uitvind dat ek jou niks anders as
die waarheid vertel het nie."
Die
waarde van sulke getuienis soos hierbo aangehaal,
is iets wat lig onderskat maar nie maklik oorskat
kan word nie, want dit werp meer lig op 'n vraag
wat enige ernstige geskiedvorser al dadelik
in die oog sal val, nl. waarom het die inboorlinge
van Angola, wat grootliks deur die Boere aan
Portugese gesag onderwerp is, so 'n groot eerbied
en selfs liefde vir hul meesters gehad, terwyl
hulle die Portugese so verag en gehaat het dat
hulle selfs tot die einde van die afgelope eeu
nog die Portugese op verafgeleë voorposte afskuwelik
vermoor en selfs lewendig verbrand het sodra
hulle die geleentheid daartoe gekry het? Dit
is omdat daardie ongeletterde, konserwatiewe
ou Boere-baanbrekers dit so meestrlik verstaan
het om die naturelle-rasse op 'n menslike wyse
baas te raak!
END
OTHER
LINKS ON SLAVERY
Elizabeth Grzymala Jordan, Buttons,
not such small finds after all: Expanding archaeological
interpretations of slave women’s social, cultural,
and economic roles
Prabha
Rama, Breeders
or workers? slave women in the Cape Colony,
1823-1830
Sharifa
Ahjum, The
Law of the (White) Father: Psychoanalysis, ‘Paternalism’
and Cape Slave Women.
Fred Morton, Female
Inboekelinge in the South African Republic,
1850-1880
Gateway
to colonial 'Slavery @ the Cape' of Good Hope
in both Dutch and British South Africa
Martin
Legassick, Slavery Came First - Book Review:
Robert C-H Shell, Children of Bondage: a Social
History of the Slave Society at the Cape of
Good Hope, 1652-1838. Slavery in South Africa:
Captive Labour on the Dutch Frontier edited
by Elizabeth A. Eldredge and Fred Morton.