.: home

.: hoofblad

DIE FEITE EN INLIGTING

Let wel, die gasheer van hierdie webtuiste kan nie waarborg dat die feite en inligting wat opgeneem is absoluut juis is nie. Aan die einde van elke artikel of webblad is daar drie verwysings:

1. Bronne - dit verwys na die materiaal wat nageslaan is vir die verkryging van inligting.

2. Navorsing te danke aan - dit verwys na persone wat primêre navorsing gedoen het om inligting te bekom.

3. Bydrae te danke aan - dit verwys na persone wat inligting verskaf het uit ander boeke en publikasies.

Met 'n projek soos hierdie is dit moeilik om altyd te weet van watter kategorie gebruik gemaak word. Ek het besluit om die stelsel nie te ingewikkeld te maak nie. Indien u miskien sou voel dat die manier van hoe dit opgedeel is nie heeltemal korrek is nie, vra ek nogtans u ondersteuning en goedgesindheid om van hierdie projek 'n sukses te maak.

My idee is om die besonderhede van elke stamouer gaandeweg verder uit te brei en om terselfdertyd die vlak van juistheid te verhoog. Ek voorsien dat daar in die toekoms 'n stadium bereik gaan word waar dit moeilik gaan wees om te bepaal wie watter bydraes gemaak het. Mag dit u nie afskrik nie, en wees asseblief bereid om u persoonlike navorsing en bydraes wat u moontlik van andere ontvang het, aan die breë publiek beskikbaar te stel.

So baie van ons het gemeenskaplike stamouers en ek vra u hiermee om -- so tussen al die verweefde data deur -- saam met my op 'n interessante familieontdekkingstog te gaan. 'n Wyse man het eenmaal gesê: Ons moet weet waarvandaan ons kom, om te weet waarheen ons gaan. Laat ons dus mekaar behulpsaam wees om 'n stewige beginpunt vir verdere familienavorsing daar te stel.

Enige bydrae, hoe gering dit ook al mag wees, sal opreg waardeer word. U is ook baie welkom om enige opbouende kommentaar aan onderstaande adres te rig:

André van Rensburg andre@rensburg.com